Menu terloops
In Onderhoude [2 Okt 2024]

Zandélle Meyer vertel hoe ‘Wyfie’-rol vir haar selfvertroue gee


Van haar eerste TV-rol as Riekie in die immergewilde sepie, ‘Binnelanders’, tot haar uittog in ‘Wyfie’ as die naïewe Jessie – die aktrise Zandélle Meyer vertel meer oor hoe Showmax se grensverskuiwende Afrikaanse universiteitsdrama se stel in ’n leerskool ontaard het.

Deur Rozanne Els

Stroom 'Wyfie'

Zandélle Meyer vertel hoe ‘Wyfie’-rol vir haar selfvertroue gee
Kyk lokprent

Ons het Zandélle Meyer in haar eerste TV-rol as Riekie in Binnelanders ontmoet, voordat sy ook ’n draai in Ruiterbosch in Suidooster gemaak het. Boonop het sy vroeër vanjaar haar skryf- en regiedebuut by die Silwerskermfees met die kortprent O, Griet! Sy’s droog gemaak. Nou is sy te sien op Showmax in die universiteitstelenovela, Wyfie

Zandelle Meyer, Wyfie

Van kyker na karakter

Zandélle vertel dat sy ’n kranige kyker was voordat sy as Jessie by die Wyfie-rolverdeling aangesluit het en dat dit uit die staanspoor vir haar as ’n besonderse stukkie popkultuur uitgestaan het. “As ek terugdink, was daar nooit iets (op plaaslike TV) wat my universiteitsjare weerspieël het nie. Baie goed waaroor ek skaam was om oor te praat, kon ek nou op Wyfie kyk en daarmee vereenselwig. Daar is baie goed waarmee ’n mens sukkel op universiteit in terme van jou geloof, jou seksualiteit, jou hunkering na aanvaarding, jou identiteit as mens. En om dit in Afrikaans te sien, was vir my wonderlik,” sê sy.

Hoewel haar oudisie vir die rol van Jessie nie haar eerste vir dié reeks was nie, het sy goed gevoel oor haar kanse om dié naïewe eerstejaar in die Pantera-koshuis te vertolk, juis omdat sy dikwels rolle as jonger karakters kry… Ten spyte daarvan dat sy “nou al 24!” is, vertel sy laggend.

Jessie se naïewiteit, meen Zandélle, versinnebeeld die eerstejaar op universiteit. “Dan word sy in Pantera geplaas, en een van Pantera se tradisies is dat jy ’n koshuisma kry. Só word sy dan die koshuisdogter van al die Grot-otters. In haar oë is dit ’n wen-wen: vier vir die prys van een.  Al die Grot-otters is besorgd oor haar, maar dis veral Mia (Mienke Ehlers) en Shay (Beáta Bena Green) wat haar onder hul vlerk neem. Mia word vir haar ’n mentor. Dis nogal snaaks, want hulle is twee heeltemal verskillende mense. Sy noem haar Mamma Mia,” vertel sy.

Zandelle Meyer, Wyfie
Zandélle Meyer as Jessie en Mienke Ehlers as Mia in Wyfie. Foto: Verskaf

Haar karakter se ervarings dui ook op ’n gedeelde ervaring van ons menslike natuur – die soeke na aanvaarding. “Omdat sy nog so nuut op kampus is en alles nog baie vreemd is, soek sy daai gevoel van aanvaarding. Deel daarvan is hoe sy die girl code tussen die Otters probeer verstaan. Sy is eintlik die eerste een wat dít opmerk, wat sien dat daar sekere goed is wat hulle vir mekaar doen. Dat hulle enigiets vir mekaar doen. En sy probeer dan dieselfde doen, maar haar naïewiteit kry haar ’n bietjie in die moeilikheid. Meeste van haar storielyne is ietwat chaoties juis omdat sy so naïef is en blindelings goed aanpak sonder om eers aan die gevolge te dink,” verduidelik Zandélle.

Leerskool

Selfs al is sy lankal nie meer ’n naïewe tiener nie, het sy beslis dele van haarself in Jessie raakgesien, sê Zandélle. “Ek het drama op Stellenbosch geswot en ek kon definitief dele van myself in Jessie raaksien, veral hoe ek in my eerste jaar was. Ek was ook naïef. Ek het vanaf Potchefstroom na Stellenbosch gekom, so van ’n klein dorpie en nie veel geweet nie. Jy voel ook bietjie soos ’n buitestaander. Later eers besef jy hoe koshuis is en hoe dit jou binne nooi; jy vorm deel van ’n susterskap.”

En, verklap sy laggend, soos Jessie bevind sy haarself ook partykeer in situasies waarin sy nie wou wees nie.

Haar ervaring op die stel van Wyfie was nie net ’n tydperk van groei en ontwikkeling wat haar toneelspel en haar selfvertroue betref nie, maar ook ’n leerskool ten opsigte van hoe storievertellers in hul benadering en aanslag verskil.

“Ek het meestal met Johan (Cronjé), Emilie (Badenhorst) en Ben (Heyns) as die regisseurs gewerk. Hulle het almal baie kalm energie wat baie gehelp het. Dit was ook die eerste keer hierdie jaar wat ek weer voor die kamera was en hulle verstaan die senuagtigheid wat jy het en help om jou kalm te maak. 

“Ek het meer ervaring met sepies en sepies is baie soos ’n worsmasjien. Maar met Wyfie was daar meer tyd en meer ruimte om die karakter te verken en te speel. Meer tyd vir kreatiewe vryheid. Emilie het altyd gesê, ‘Ons doen ’n take vir Justin… Just in case…’ So daar is tyd vir sulke tipe skote waar jy net kan speel. En dan kom daar soms mooi goed uit. Hulle het ook ’n baie realistiese aanslag en ’n organiese manier van speel en skep. Partykeer het ek gedink ek het ’n fout in die toneel gemaak, soos om per ongeluk ’n boek te laat val, en dan is Johan soos, ‘Nee, dis eintlik cool. Dít is hoe goed werklik gebeur.'”

Selfvertroue op stel

Haar grootste les was egter om haarself meer te vertrou, sê sy beslis. “Op Wyfie, praat die aktrises met die regisseur en sê byvoorbeeld, ‘Ek stem nie saam dat my karakter hierdie sal sê nie. Kan ek dit verander?’

“Voorheen kon ek nie so openlik met ’n regisseur praat nie, maar nou het ek meer selfvertroue. Ek voel baie meer gemaklik om ’n gesprek met die regisseur te hê as die toneel nie reg voel nie. Net ná Wyfie het ek weer op Binnelanders gaan skiet en dié ervaring was reeds vir my anders. Ek weet met ’n sepie het ’n mens nie baie tyd nie, maar ek voel nou baie meer gemaklik om ’n gesprek met die regisseur te hê,” sê sy.


Binge al 45 episodes van Wyfie S1, met nuwe episodes van S2 elke Dinsdag tot 7 Januarie 2025 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies