Menu terloops
In Silwerskermfees [11 Jul 2024]

‘O, Griet! Sy’s droog’: Van teaterstuk tot kortprent op Silwerskermfees


In ‘O, Griet! Sy’s droog’ trek die akteurs Char Carrie van ‘Suidooster’-faam, Karin van der Laag, Letolo Sekano en Ronel Stander kykers saam met hulle in ’n ander dimensie in. Zandélle Meyer en Anje Barkhuizen, die regisseurs, gesels oor hul Silwerskermfees-debuut.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
‘O, Griet! Sy’s droog’: Van teaterstuk tot kortprent op Silwerskermfees
Kyk lokprent

In die kortfilm O, Griet! Sy’s droog is die karakters in geraamde skilderye vasgevang en beeld só verskillende weergawes van die samelewing se idees oor vroue uit. Om uit dié rame te ontsnap lyk onmoontlik … Totdat ’n meisie met ’n pêreloorbel nuwe lig op hul situasie werp.

Zandélle Meyer en Anje Barkhuizen, die regisseurs, gesels oor die kunswerke wat die karakters geïnspireer het, en die emosie wat kuns kan ontlok.

Vertel ’n bietjie meer oor die betekenis van die titel en hoe julle daarop besluit het?

Anje en Zandélle: “Die film was aanvanklik ’n tien-minute lange teaterstuk wat ons in ons finale jaar in drama by Stellenbosch Universiteit geskryf het. Dit was oorspronklik in Engels met die titel Before She Dries, wat verwys na ons protagonis, Griet, se portret wat droog word.

“Toe ons dit in ’n Afrikaanse draaiboek vir die Silwerskermfees verwerk, het ons besluit op die titel O, Griet! Sy’s droog. Jy kan sê die titel is ’n poliseem, met die hoop om die kyker se oog te vang.”

Die vier karakters in die film het elk iets wat jou aandag trek. Wat was die inspirasie agter elkeen?

Char Carrie in O Griet sy's droog
Char Carrie as Venus. Foto: Verskaf

Anje en Zandélle: “Elke vrou is ’n weergawe van ’n bekende kunswerk, en elkeen het spesifieke Suid-Afrikaanse karaktereienskappe. Griet is gegrond op Die meisie met die pêrel-oorring, Denise op die Arnolfini-portret, Tannie Miemie op Die melkmeisie van Johannes Vermeer, en Venus op Sandro Botticelli se Die geboorte van Venus.

“Dit bring nie net ’n unieke wending aan hul verhale nie, maar koppel hulle ook aan die universele temas van die kunswerke, en sodoende die film. Al vier vroue verteenwoordig verskillende rolle van vroue in die samelewing.

“Griet is die jong, onafhanklike, hip en woke vrou, Venus die femme fatale, Denise die moederfiguur en Miemie is die hardwerkende vrou.”

Kuns kan persepsies uitdaag, verandering inspireer en mense vanuit verskillende agtergronde saambind. Dit is hoekom dit so ’n diepgaande impak op emosies het. Films kan ons fantasieë tot lewe bring, maar kunswerke, hoewel staties, het ’n unieke kapasiteit om ons verbeelding te prikkel. As kunswerke kon beweeg of as ons hulle wêreld kon betree, sou dit ’n fassinerende ervaring gewees het

Anje Barkhuizen

Waar het die idee vir die film ontstaan?

Zandélle: “Ek het in die vakansie voor ons derde jaar ’n gedig geskryf met die titel ‘Die meisie sonder ’n kêrel met ’n pêreloorbel in haar oorlel’. Tydens ’n brainstorming-sessie het ek die gedig aan my groep voorgelees en hulle het daarvan gehou. Ons was vier meisies in die groep en ons moes toe ’n teaterstuk met vier vrouekarakters skryf. Dit is hoekom dit nie net die storie van een meisie met die pêrel-oorbel vertel nie, maar eerder ’n gedeelde storie is oor vier vroue wat vasgevang is in kunswerke nadat ’n kunstenaar vir hulle ’n stel towerpêrels gegee het.

“Die kern van die storie is nog dieselfde. Maar toe ons dit vir die Silwerskermfees wou inskryf, het ek en Anje saam aan die storie begin skaaf. Met baie leiding van Corné van Rooyen en Quanita Adams het ons dit in ’n kortfilmdraaiboek omskep.”

Hoekom wou julle animasie gebruik?

Zandélle: “Ek hou van multimedia en wou dit van die begin af insluit, veral omdat dit ’n kunsfilm is. Tydens die pre-produksiefase het ons besef hoe lank stop-animasiefilms vat om te maak en dat ons nie die hele film hoef te animeer nie. Wanneer ’n mens ’n film maak en veral in die magiese realisme-genre, is dit goed om sekere elemente te herhaal om werklik ’n tipe styl vir die film te kan ontwikkel. Ons wou graag die gevoel van ’n William Kentridge-houtskool-animasiefilm behou, om só ’n kunsgevoel te skep.”

Die interpretasie van kuns in kuns (die film) is treffend. Hoekom dink julle ontlok kuns soveel emosie?

Anje: “Ek is nie self ’n kunstenaar nie, maar my beste vriendin, huismaat en ook die kunstenaar van die portrette in die film, Lindie Grünewald, het my baie oor kuns geleer. Hierdie ervarings het my waardering en liefde vir kuns verdiep. Dit het ’n groot rol in die skep van die film gespeel.

“Kuns kan persepsies uitdaag, verandering inspireer en mense vanuit verskillende agtergronde saambind. Dit is hoekom dit so ’n diepgaande impak op emosies het. Films kan ons fantasieë tot lewe bring, maar kunswerke, hoewel staties, het ’n unieke kapasiteit om ons verbeelding te prikkel. As kunswerke kon beweeg of as ons hulle wêreld kon betree, sou dit ’n fassinerende ervaring gewees het.”

Zandélle: “My ma is ’n kunstenaar, so as ’n jong meisie was kunsgalerye soos my tweede huis. Ek dink elke persoon kyk met verskillende oë, agtergronde en ervarings na kuns, dus ontsluit dit verskillende emosies.”


Koop kaartjies vir die 2024 Silwerskermfees op Quicket. Vanjaar se fees loop van 28 tot 31 Augustus 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies