Menu terloops
In Onderhoude [3 Jun 2023]

‘Binnelanders’ se Zandélle Meyer: Riekie was ‘droomrol vir TV-debuut’


Sy is ’n nuwe gesig op die kassie, en Zandélle Meyer het kykers onlangs betower met haar slinkse en boeiende rolspel as die 17-jarige psigopaat, Riekie, in die gewilde kykNET-sepie, ‘Binnelanders’. Sy vertel meer oor hoe sy in dié karakter se kop vir haar TV-debuut geklim het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

‘Binnelanders’ se Zandélle Meyer: Riekie was ‘droomrol vir TV-debuut’

Zandélle Meyer se DrJekyll & MrHyde-agtige toneelspel as Riekie in Binnelanders het die hare op my nek laat rys – en ek het sommer ook vinnig besef dat ek nie binnekort my hand gaan opsteek om stiefma te word nie. Zandélle se toneelspel het my herinner aan Isabelle Fuhrman in die 2009 sielkundige-gruwelfilm, Orphan. Nes Isabelle se karakter, Esther, het Riekie ook op die oog af soos enige normale tiener voorgekom. Maar albei kinders het sielkundige probleme wat hulle later tot moorddade dryf.

In Riekie se geval wou sy nie haar pa met Rita deel nie. Sy het kykers aan die begin oortuig dat sy, Rita (Ilana Cilliers), en haar pa, Henry (Francois Lensley), die perfekte gesin is. Ja, Zandélle se toneelspel was so oortuigend dat sy ons almal ’n rat voer die oë gedraai het. Maar soos die gesegde lui: as iets te goed is om waar te wees, dan is dit! ’n Mens weet as daar ’n slang in die gras is – soms wil jy dit net nie erken nie.

Ek het van die begin af ’n gevoel gehad dat Riekie nie heeltemal so onskuldig is soos wat sy lyk nie, maar ek kon net nie ’n houvas kry op wat die rooi ligte laat flikker het nie. Maar teen dié tyd weet ons dat Henry se oogappel toe eintlik die hospitaal se reeksmoordenaar is, en vir arme Rita probeer frame het. Ek sou ook seker wou as my pa skielik op ’n misdadiger verlief geraak het en haar in ons huis verwelkom het. Rita is dalk hierdie keer onskuldig, maar ons kan nie vergeet dat sy vir klein Amalia ontvoer het en by ’n human trafficking-sindikaat betrokke was nie.

‘Kon nie vir beter rol gevra het nie’

Hierdie Potchefstromer en oud-Gimmie is dalk groen voor die kamera, maar sy het beslis nie ’n tekort aan talent nie. Vir Zandélle was haar Binnelanders-karakter ’n droom TV-debuut en kon sy nie vir ’n beter rol gevra het nie.

“Riekie was ’n challenge, maar ek soek altyd vir iets in ’n karakter wat met my ooreenstem, sodat ek myself so naby aan daai karakter as moontlik kan bring. Dit help jou om jouself totaal in daardie karakter te kan immerse,” sê sy.

“Om Riekie te vertolk, het ek baie op my eie agtergrond en grootwordjare gekonsentreer. My ma is geskei, so ek kom ook uit ’n enkelouer-huis met ’n ouer wat baie moes werk. Ek kon op daardie vlak met Riekie relate en ek dink baie kinders sal met daardie gedeelte kan aanklank vind.”

Ons is mal oor sepies in ons familie en dit was altyd my bonding time met my ma en ouma. My ouma was baie opgewonde toe sy hoor dat ek op Binnelanders gaan wees en het natuurlik vir al haar vriende vertel. Maar ek dink nie sy het verwag dat my karakter so sou uitdraai nie. Ek kon die skok in haar stem verlede week hoor toe sy besef dat Riekie die moordenaar is. Sy het amper nie geweet wat om te sê nie. Dit was nogals snaaks

Zandélle Meyer

Zandélle, wat in 2018 aan die Universiteit Stellenbosch graad gevang het, sê sonder om so boos soos Riekie te wees, het sy ook dikwels besitlik oor haar ma gevoel. Sy kry ’n effense giggel in haar stem wanneer sy verduidelik dat dit seker iets te doen het met die spesiale band tussen ’n kind en hul ouer in ’n enkelouer-huis. Sy lag wel lekker toe sy bevestig dat sy wel nooit daaraan gedink het om iemand te vergiftig nie. Daar verskil sy en Riekie wel soos dag en nag.

“Maar ’n mens kan ook nie heeltemal vir Riekie blameer nie. Ek sou ook seker skepties gewees het as my ouer ’n human trafficker in my huis genooi het,” sê sy.

Zandélle se Riekie skok selfs geliefdes

Al lyk dit asof Riekie se tyd op die stel van Binnelanders vir eers verby is, hoop Zandélle sy kry die kans om vinnig weer in Riekie se skoene – en kop – te klim.

“Ek sou nogal wou sien hoe kinders in die tronk behandel word. Dit sou interessant wees om daai storielyn te vertolk. Dit is iets wat ’n mens nie gereeld op TV sien nie en ek sou dieper in Riekie se psyche wou klim, veral daardie donker gedeelte. Ek dink nie sy het beplan om ’n moordenaar te wees nie, sy wou net baie graag vir Rita uit hul lewens hê,” vertel Zandélle.

Om ’n karakter soos Riekie te vertolk was vir haar baie lekker, maar Zandélle het nie net die tonge op sosiale media laat klap nie. Sy het ook haar geliefdes met haar briljante vertolking van Riekie geskok.

“Ons is mal oor sepies in ons familie en dit was altyd my bonding time met my ma en ouma. My ouma was baie opgewonde toe sy hoor dat ek op Binnelanders gaan wees en het natuurlik vir al haar vriende vertel. Maar ek dink nie sy het verwag dat my karakter so sou uitdraai nie. Ek kon die skok in haar stem verlede week hoor toe sy besef dat Riekie die moordenaar is. Sy het amper nie geweet wat om te sê nie. Dit was nogals snaaks,” vertel sy terwyl sy skaterlag.

“Sy het nie gedink haar liefdevolle kleinkind kan ’n villain wees nie. En dít is wat ek wou reg kry. Ek wou nie sommer van die begin af wys dat Riekie ’n bose kant het nie. Ek wou haar innocence ook uitbeeld, want dikwels snap mense net.”

Kind van die kunste

Zandélle is van ’n jong ouderdom aan die kunste blootgestel. Sy is die dogter van ’n kuns-onnie en spog dat haar regterbrein van kleintyd af sterker as haar linkerbrein is.

“Ek dink my linkerbrein moet nog ontwikkel, want ek het in ’n kuns-omgewing grootgeword,” grap sy.

“My ma het my altyd aangemoedig om in gedigte, prosa, tienerteater en baie ander vorms van kuns deel te neem. Vir my was kuns en drama altyd ’n escape van die boeke af. Daarom was dit vir niemand rondom my ’n skok toe ek Wes-Kaap toe wou trek om drama te studeer nie.”

En nou met haar eerste TV-rol agter die rug, weet sy dit was die regte besluit. Vir Zandélle is daar geen ander loopbaankeuse nie. Gelukkig hoef kykers nie te lank te wag om hierdie betowerende aktrise weer in aksie te sien nie. Sy skiet tans aan ’n reeks vir Showmax en sal ook binnekort weer op die verhoog te sien wees. Boonop is sy opgewonde oor die geleenthede in die plaaslike film- en TV-bedryf.

“Ons skrywers, produksiespanne en akteurs werk op ’n internasionale vlak en ek is veral opgewonde oor die groei in die Afrikaanse bedryf. Dit maak my opgewonde vir die toekoms en my toekoms as aktrise binne hierdie spesiale omgewing.”

Vir nou, gryp Zandélle die geleenthede rondom haar aan, maar as sy ooit ’n rol vir haarself kon skryf, sou sy dalk die rol van Jennifer Coolidge se aangenome dogter uit Afrika in die gewilde reeks The White Lotus wou speel.  


Kyk Binnelanders op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies