Menu terloops
In Sepies [29 Mei 2023]

Ontmoet Marisa Drummond, nuwe gesig in ‘Suidooster’


‘Binnelanders’, ‘Isidingo’ en nou ‘Suidooster’ – die aktrise Marisa Drummond keer terug na die sepiewêreld in die skoene van ene Orpa Blignaut, wat saam met haar man in Ruiterbosch wil wortel skiet.

Kyk nou

Ontmoet Marisa Drummond, nuwe gesig in ‘Suidooster’

Ruiterbosch se mense kry vandeesweek nuwe bure in Suidooster. Daarin vertolk Marisa Drummond die karakter van Orpa Blignaut. Sy en haar man James (Dries Botha van Erfsondes), is sendelinge wat nou in Ruiterbosch wil wortel skiet. Kort voor lank raak die egpaar betrokke by Ruiterbosch se kerk waar Siya (Gantane Kusch) die pastoor is. Maar Orpa weet al te goed hoe om (goed)gelowiges seepglad ’n rat voor die oë te draai…

Marisa vertel ons meer oor haarself en haar loopbaan.

Marisa Drummond vertolk die rol van Orpa in Suidooster. Foto: Verskaf
Marisa Drummond vertolk die rol van Orpa in Suidooster. Foto: Verskaf

Hester & Ester Bester was ’n groot deurbraak vir jou loopbaan. Hoekom dink jy was dié komediereeks so gewild?

“Willie Esterhuysen se reekse is oor die algemeen gewild onder Suid-Afrikaners. Wat dit vir my laat uitstaan het, was die buitengewone onlogiese aanslag van al die karakters. Soos byvoorbeeld hul larger than life-oordrywende siening van die lewe. Die vier karakters, Bessie en Trompie en die twee geliefde susters was almal ontsettend kleurvol – nie net in stel, dekor, kostuum en grimering nie – maar ook in hul woordeskat en storielyne.

“En dit was ’n disfunksionele familie wat die kyker soms kon laat vergeet van hul eie gesins-‘konstruksie’ (tong in kies). Die ikoniese sêgoed wat daarmee gepaard gegaan het, leef nou nog voort. Dink maar net aan ‘slapslet’ en ‘lugmatras’.”

Sepie-aanhangers ken jou al as venynige feekse Kimberly Lewis-Haines (Isidingo) en Alexa (Binnelanders), en nou ontmoet hulle vir Orpa in Suidooster. As jy ’n naam vir jouself as ’n sepieheks kon kies, wat sou dit wees? 

“Oe! En moenie vergeet van Vera Nel, die reeksmoordenaar van die Die Byl nie. Maar as ek self sou kon kies sou dit wees Esmerelda Verwey. Moenie my vra hoekom nie, dit klink net of sy dinge nogal lelik deurmekaar kan krap.”

Jou CV as aktrise is indrukwekkend, maar wat is die één ding wat vir jou ’n loopbaanhoogtepunt is?

“Dis ’n moeilike een om te antwoord, want elke rol wat ek aanpak, hetsy verhoog, voor die kamera, as regisseur of skrywer, kry een honderd persent my aandag en liefde. Ek raak versot of karakters en stories en elke projek bring nuwe uitdagings en lekkertes.”

As jy nie ’n aktrise of in die vermaakbedryf was nie, wat sou jy andersins wou doen?

“Ek sou nét met diere werk. Wild of mak. Dis waar ek myself kan wees en van myself gee en soveel meer terug ontvang as wat mens verwag.”

Wie is jou gunsteling-aktrise?

“Die Britse aktrise Emma Thompson, sonder twyfel. Ek het nog altyd al haar werk geniet. Haar storievertelling is soos ’n fyn geweefde tapisserie en jy wil elke draad van die kunswerk bestudeer. En sy is getrou aan haarself en gemaklik in haar eie vel.”

Wat is jou guilty pleasure om op TV te kyk?

“Gee my enige dag ’n dokumentêr. Of dit nou ’n reeks of eenmalig is. Nothing beats a good doccie!

As jy aan enige werklikheidsreeks kon deelneem, wat sou dit wou wees?

“Aan geen een nie. Dis ’n afbrekende wanuitbeelding van die mensdom.”

Hoe ontspan jy of wat doen jy om af te skakel?

“Ek is mal oor stilte en ’n stukkie strandstap saam met my skaaphond en my pa. Ek en my pa is baie eenders en kan ure in mekaar se geselskap wees sonder om iets te sê en ons voel nooit ongemaklik of gedruk om ’n geselsie aan te knoop nie. Die slag wanneer ons wel doen, het dit betekenis.”


Suidooster, wat in 2022 met ’n SAFTA-toekenning as beste sepie bekroon is, saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uit.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer
Sien alle opsies