Menu terloops
In Onderhoude [5 Okt 2023]

‘Taktiek’ is ‘loopbaanhoogtepunt’, sê aktrise Mandri Sutherland


Dit het vir Mandri Sutherland gevoel asof haar karakter in die nuwe kykNET-komedie ‘Taktiek’ spesiaal vir haar gewag het om haar te kom inkleur. Mandri gesels oor Mignon, die lekkerte van spanwerk, en hoekom dié rol ’n hoogtepunt is.

Deur Rozanne Els

Stroom aanlyn

‘Taktiek’ is ‘loopbaanhoogtepunt’, sê aktrise Mandri Sutherland
Kyk lokprent

Mandri Sutherland is bekend vir haar eenvroustuk, Vrou ens., waarmee sy al die hele land rondgetoer het. En vroeër vanjaar het sy ook die hoofrol in die kortprent Koors, wat by die Silwerskermfees première het, vertolk. Maar in Taktiek is Mandri, as Mignon, deel van ’n heerlike ensemble wat ’n mens reeds van die openingstoneel in die eerste episode laat skater.

Mignon, wat in die produksienotas beskryf word as “’n 50-jarige vasgevang in ’n 30-jarige se lyf,” staan aan die hoof van Taktiek, ’n sekuriteitsmaatskappy in die veiligste (piepklein) dorpie in die land, se kommunikasie… Dit wil sê, as die mense van Schusterton ’n veiligheidskrisis het, is sy die een wat die foon antwoord en (ná ’n ellelange storie wat begin met “alle eenhede, daar was ’n voorval…”) hulp stuur.

Ons het met Mandri oor Mignon, Taktiek, en dié reeks se regisseurs, Bennie Fourie en Beer Adriaanse, gesels.

Wat was jou reaksie toe jy vir die eerste keer die teks onder oë gekry het?

Ek kon nie wag om daarin te delf nie! Van my kant, ongelooflike opgewondenheid en afwagting om te begin rol!

Wat was jou eerste indrukke van Mignon op die blad?

Dit het reeds gevoel of ek haar al so goed ken en sy vir my gewag het om tussen die lyne in te vul. Van die begin af het dit gevoel (dat) dit reeds duidelik is waarheen ons oppad is.

Mandri Sutherland
Mandri Sutherland sê Mignon se uitrustings het vir haar duidelikheid oor haar karakter gegee. Foto: verskaf

Mignon is ’n heerlike karakter – bekend aan ’n mens maar eweneens ook oorspronklik. Waar het jy vir inspirasie gaan delf om haar uit te beeld?

Dit het nogal natuurlik na my gekom nadat Bennie (Fourie )en Beer (Adriaanse) vir ons ’n paar references gestuur het van materiaal soorteglyk aan hul visie (vir die reeks). So (dit was) ’n kombinasie van hul visie maar ook, moet ek sê, toe ek Mignon se uitrustings sien was dit werklik waar ek kon sien wie Mignon is. Ek skep nogal vanaf die outer look ook so met my karakters. Ek begin baie keer eers skryf nadat ek op my karakters se wardrobe besluit het en met Mignon was dit dieselfde.

Jou toneelspel kom moeiteloos, tog deliberate voor – van die stemtoon, tot die tempo waarteen Mignon haar ellelange stories vertel, die manier hoe sy beweeg, en so aan. Hierdie “klein” goedjies het so ’n groot impak op die geheelbeeld. Hoe het jy dus op dié tipe elemente besluit as die beste manier om Mignon tot ’n volronde karakter te vorm?

Dit was vir my belangrik om haar so eerlik as moontlik te speel, omdat sy nie ’n stereotipiese karakter is nie. Mignon se leefwêreld en verwysingsraamwerk is maar taamlik eng en konserwatief alhoewel sy nie op haar laat trap nie. Ek het probeer om daardie tipe, amper terughoudende energie na vore te bring en só haar konservatiewe natuur uit te beeld in the most sincere way. Mignon leef haarself ook so in ander se lewens in, dat sy amper vergeet om self te leef.

Dit het reeds gevoel of ek haar al so goed ken en sy vir my gewag het om tussen die lyne in te vul.

Mandri Sutherland oor haar karakter, Mignon, in Taktiek

Jy is bekend vir jou eenvroustuk, Vrou ens. – hoe het jy die oorgang van ’n produksie waarin jy alleen stories vertel, na ’n produksie met ’n ensemble akteurs, hanteer? 

Dis heerlik om saam in ’n span te werk. ’n Mens hoef nie alles self te doen nie! Dis ook wonderlik, want as akteur in ’n ensemble speel jy vanaf mekaar en daar is soveel elemente op stel wat jou spel meer motiveer. Hier is dit ook die gesamentike doel om by die punt uit te kom en dis heerlik om nie vir alles alleen verantwoordelik te wees nie.

Dan is daar natuurlik ook die oorgang van verhoog na televisie. Jy het al ander TV- en filmrolle gehad, maar hoe verskil Mignon (en Taktiek) van jou vorige werk.

Ek het al ander rolle gespeel, maar Mignon is verseker my hoogtepunt tot dusver. Daar was soveel realness in haar en ek het die kans gehad om elke dag meer in haar karakter in te klim. Die spesifieke produksie verskil baie van my ander werk, omdat ek meer tyd en kans op stel gehad het.

Die hele Taktiek-rolverdeling is ’n gesoute groep komedie-akteurs. Hoe kry ’n mens enigiets op stel gedoen as almal so snaaks is?

Dis ’n baie goeie vraag. Ek’s verbaas dat ons so baie gedoen gekry het! Nee, dis wonderlik as daar vryheid is en baie keer deur daardie snaakse oomblikke kon daar iets vasgevang word wat dan in die oomblik gebruik is met improvisasie.

taktiek
Taktiek se skaterlag-ensemble weet van mense laat lag. Foto: Verskaf

Wat was jou ervaring van Bennie en Beer as regisseurs?

Ag, hulle maak ‘n great span! Soms is Bennie op die vloer en soms is Beer daar, maar altyd saam. Ek dink daar’s ’n synergy wat baie voordelig is! As akteur het dit my ook veilig laat voel, want albei was daar vir directing en ondersteuning.

Watter uitstaan-oomblikke, tonele of staaltjies van die stel en as deel van die ensemble kan jy met ons deel?

Daar is die toneel van Mignon en Attie se verjaarsdag, waar hulle in ’n redelike ernstige rusie is. Ons het net een take gehad omdat daar… net een koek was. Ek gaan nie meer sê nie. Dit was nogal intens! Ons kon dit nie opmors nie.

TAKTIEK, Attie en Mignon, Mandri Sutherland
Mandri Sutherland en Schalk Bezuidenhout speel ’n tweeling wat hemelsbreed verskil in Taktiek. Foto: Verskaf

En as ’n aktrise, is daar iets wat jy oor jou craft en spel as deel van hierdie projek geleer het wat jou vorentoe sal bybly? Dalk selfs ook iets op ’n meer persoonlike vlak?

Dit het baie dinge vir my beteken. Ek dink ná hierdie het ek meer selfvertroue om die spontaniteit van die oomblik te vertrou, want dit is gewoonlik iets wat spel kan enhance en kleurvol maak! Ek het ook geleer dat ek goed in ’n span werk. Dis vir my die lekkerste ding om komedie te doen, veral saam met ander. En ek het nou by die beste geleer!


Taktiek saai Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit. Dit is ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies