Die 14 kortfilms en ses dokumentêre waarmee verskeie talentvolle nuwe draaiboekskrywers en regisseurs hul eerste filmbuigings by vanjaar se Silwerskermfees gemaak het, word vanaf Saterdag, 16 September, stuk-stuk op kykNET (DStv-kanaal 144 én op DStv Stream) uitgesaai.
Dit sal ook ná dié Saterdagaand-uitsendings dan op DStv Catch Up beskikbaar wees.
Wanneer wys wat?
Dié blinknuwe kortfilms en dokumentêre is op die volgende datums op net na die weeklikse storiefilm te siene:
16 September 2023
Born Behind Bars
Met dié aangrypende dokumentêr neem die bekende radio- en televisiepersoonlikheid Romy Titus en haar filmspan ons agter slot en grendel na die ma-en-kind-afdeling van die Johannesburgse Korrektiewe Dienste. Ons maak daar kennis met Morwesi Theledi, ’n tronkma wat tydens haar tweede swangerskaptrimester tot tien jaar tronkstraf gevonnis is en op ’n vernederende manier geboorte aan haar babaseuntjie moes skenk.
Dans dat die biesies bewe
In dié familie-vriendelike komedie laat Mieke die dansvloer brand – op háár manier. Alhoewel Mieke nie die bou of opleiding van ’n klassieke danser het nie, droom sy daarvan om een te wees. Dan kom haar groot kans: Haar musiekheld en die coolste ou in Daspoort, Wimpie Steyn, hou oudisies! Mieke word vertolk deur die veteraanaktrise Lizz Meiring se talentvolle broerskind, die dramastudent Cara Meiring.
Werpsel
Wees gewaarsku: Dié riller smokkel met jou kop! Gustav Gerdener is vir ’n Silwerskermtoekenning benoem vir sy spel as Leonard, ’n ongemaklike 40-jarige wat sy bes doen om na sy bejaarde ma, Lena, om te sien. Alles is egter nie pluis in hierdie vreemde huishouding nie. Ly Lena aan demensie of voer sy iets onheilspellends in die mou?
23 September 2023
Besmet
Pieter Steyn se hartverskeurende ondersoek na die wrede vergiftiging van leeus het die Silwerskermfeesbeeldjie vir beste dokumentêr en die toekenning vir beste redigering verower. Neem wel kennis: Dié dokumenter mag sensitiewe kykers ontstel.
Karen
In hierdie skreeusnaakse komedie gaan ’n tipiese Karen viral na ’n vloermoer in ’n koffiewinkel. Haar vertolking van dié Karen het aan Laura-Lee Mostert ’n benoeming vir beste aktrise in ’n kortfilm besorg, en Franci Swanepoel is briljant as ’n bombastiese ma wat inspring om haar dogter se naam in ere te herstel. Karen was die laaste voltooide film waarin Franci voor haar dood gespeel het.
Een saam
Die kortfilmdrama Een saam, wat doelbewus met ou VHS-toerusting verfilm is om ’n gevoel van nostalgie te skep, draai om temas soos geslagsidentiteit, die gevare van konserwatiewe ouerskap en hoe liefde en deernis ou wonde kan genees.
Silwerskermfees 2023
30 September 2023
Call of the Wild
Die baanbrekerdokumentêr Call of the Wild neem mense sonder sig én siendes op ’n unieke klanksafari.
Ons gaan saam met Anika, ’n visueel gestremde kind met ’n besonderse gawe om voëlgeluide te onderskei, op ’n bos-ervaring waarin klank die toergids is en mens die natuur beleef soos nimmer tevore. Call of the Wild is bekroon met die Silwerskermtoekenning vir beste klankontwerp.
Volle bors
Volle bors draai om ’n digter in haar 20’s wat worstel met die idee van ’n dubbele mastektomie wanneer sy uitvind haar risiko vir borskanker is uiters hoog. Die film is op die draaiboekskrywer en regisseur van Volle bors, Gabriella Blumberg, se eie lewensverhaal gegrond, en Marguerite van Eeden is as beste aktrise vir haar sielvolle spel benoem.
Thrift tot die dood
Dié tong-in-die-kies-komedie blaas nuwe asem in ’n ou gruwel-subgenre: die slasher-film. Wanneer ’n eiewyse hipster met die skêr wil inklim om vintage kledingstukke te vernuwe, veg die klere terug. Thrift tot die dood maak van poppekastegnieke gebruik om ’n gebleikte denimbroek en ’n ou groen rok skrikwekkend lewe te gee. Die film het ’n spesiale vermelding vir kreatiewe poppespel by die fees gekry, en Anré Bouguenon het ’n benoeming vir beste aktrise in ’n kortfilm ontvang.
7 Oktober 2023
Teater na die mense
Die dokumentêr Teater na die mense vertel die verhaal van The Cape Flats Players – ’n vasberade groep akteurs wat teater gebruik het om die apartheidstelsel uit te daag en gehore geïnspireer het om teen onderdrukking op te staan. Dié amateurtoneelgeselskap is in die 1970’s gestig en het gereeld Adam Small se dramas en revues opgevoer.
Helmhart
Die Silwerskermfees se eerste spookstorie en Gotiese romanse is die handewerk van die geliefde aktrise Zenobia Kloppers (Fiela se kind) en haar besigheidsvennoot, Monique Seigels. Hul draaiboek is op ’n storie wat Zenobia se ma oorvertel het, gegrond en is vir ’n Silwerskermtoekenning benoem. Dit gaan oor ’n jong verpleegster wat in die 1960’s by ’n grieselrige hospitaal werk.
14 Oktober 2023
’n Gids vir Louzanne
Die Bloemfonteinse paralimpiese blinde atleet Louzanne Coetzee maak tydens wedrenne staat op ’n ongewone hardloopmaat – ’n gids wat haar hardloopritme, fiksheid en spoed verstaan. Oor haar merkwaardige loopbaan heen, het Louzanne talle triomfe en teleurstellings saam met dié gidse beleef, en dié besonderse dokumentêr vertel hul storie.
’n Doop om stilte
Die wenner van die Silwerskermtoekenning vir beste kortfilm, ’n Doop om stilte, vertel die ontstellende verhaal van ’n graad-8-leerder wie se lewensuitkyk tydens die ontgroening by sy nuwe seunshoërskool omgedolwe word. Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst het ook die toekenning vir beste regie ingepalm. Tiaan Luyt, die briljante jong hoofrolspeler wat self nog op die skoolbanke is, is as beste akteur benoem.
21 Oktober 2023
Langafstand
Die inspirerende dokumentêr Langafstand, waarvoor Frankie Opperman en Reginald Hufkie die Silwerskermtoekenning vir beste regie gewen het, laat die kollig op Deon-Lee Hendricks val. Dié gerekende langafstandatleet, wat in Cloetesville in Stellenbosch woon, kon maklik in ’n spiraal van bende-aktiwiteite verstrengel geraak het, maar vandag staan hy as “die hoop van Cloetesville” bekend.
Die Swart Draak ontwaak
Die akteur Lee Roodt, ook ’n voormalige karate- en skopboks-Springbok, speel die hoofrol in die eerste gevegskunsfilm in Afrikaaps, waarvoor hy ook die draaiboek geskryf en al die gevaarlike waaghalstoertjiies gechoreografeer het. Die Swart Draak ontwaak het talle Silwerskermbenoemings ontvang, asook ’n spesiale vermelding vir choreografie by die fees se tegniese toekennings, waar dit die toekenning vir beste klankontwerp opgeraap het.
Koors
Die komedie Koors spreek met skerp humor ’n ernstige kwessie sydelings aan – die vreemde feit dat menstruasie steeds ’n taboe in ons samelewing is. Die Instagram-sensasie “Vroudrie”, oftewel Mandri Sutherland, vertolk die rol van die ambisieuse Simone wat nét voor ’n belangrike raadsaalvoorlegging aan hardekoejawelmans ’n verrassinkie in die dameskleedkamer kry.
28 Oktober 2023
Die Blokke
Die grinterige Kaapse Vlakte-storie Die Blokke het drie belangrike kortfilmtoekennings by die 11de Silwerskermfees ingeryg: Beste akteur (Gershwin Mias), Beste draaiboek (Roxanne Blaise en Mujaahid Valley) en Beste kinematografie (Alfonzo Franke). Dié aksiedrama, met die polsende musiek van die rapper Cream Machine as klankbaan, is deur ware gebeure geïnspireer. Dit beeld ’n kringloop van geweld uit in ’n wêreld waar werk skaars is, die lewe goedkoop en die lewenskoste hoog.
As
As is die roerende verhaal van ’n kwesbare ma wat op ’n vreemde manier vasklou aan die laaste bietjie oorskot van haar oorlede dogtertjie. Dié rol het aan Roeline Daneel (Fraksie) die Silwerskermtoekenning vir beste aktrise in ’n kortfilm besorg. Nisa Hockey se draaiboek is ook vir ’n toekenning benoem.
Straatrotte
Die ondeunde trio hawelose kinders van Straatrotte – ene Ebi, Zac en Nat – het omtrent die harte gesteel by vanjaar se Silwerskermfees. Straatrotte is aangewys as die fees se gehoorgunsteling nadat feesgangers se stemme getel is. Kashief Haqe, Justin Cloete en Maria Ruth Thomas wat die “straatrotte” speel, het ’n spesiale vermelding vir hul ensemble-spel gekry. Die film se grafika het ook met ’n spesiale vermelding erkenning gekry.
4 November 2023
Hier/daar
Die akteur Edwin van der Walt, wat by die eerste Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie die beeldjie vir beste akteur in ’n televisiedramareeks (Donkerbos) ingepalm het, maak sy regisseursdebuut met Hier|daar. Dit is ’n vars, moderne storie oor liefde en rou waarin hedendaagse tegnologie die hoofkarakter voor moeilike keuses plaas.