Spoiler alert! As jy nog nie al die episodes van Donkerbos gekyk het nie, wees gewaarsku: Dié onderhoud met Edwin van der Walt sluit inligting oor kritieke aspekte van die storielyn in.
In die Afrikaanse rillerreeks, Donkerbos, is Braam Pieterse (Edwin van der Walt) ’n onderwyser by die plaaslike laerskool. ’n Ware omgee-mens wat sy werk as ’n roeping beskou. Braam is opreg, en pak elke taak met deernis en eerlikheid aan. Boonop kan absoluut niks sy liefde en beskermingsinstink vir sy broer, Sybrand (Wilhelm van der Walt), oortref nie.
Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo.
Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar.
terloops het met Edwin oor sy rol as Braam – en die skokkende wending wat sy storielyn neem as hy as die reeksmoordenaar onthul word – gesels.
Die premis van Donkerbos klink baie donker, maar is dit werklik so donker of is Nico Scheepers se teks eerder net ’n weerspieëling van realiteit?
“Dit is baie donker. Dit is baie donker en realisties. Ek dink nie daar is vir my ’n verskil tussen donker en realisties nie. Dit is ’n baie donker storie, want die psige van ’n persoon wat hierdie tipe van moorde pleeg, is donker. Maar dit is nie te sê dit kom nét uit boosheid uit nie. Ek glo nie mense is nét goed of nét sleg nie. Ek dink daar is skakerings van beide. As ’n mens dan delf en uitvind wat iemand se redes en motivering is, dán raak die storie meer realisties eerder as wat dit net donker is. Soos ek die teks gelees het, het ek begin verstaan wat hy in sy lewe deurgemaak het. Toe maak dit als sin. Dit maak dit nie reg nie, maar toe maak dit sin.”
Wanneer het jy uitgevind dat jou karakter eintlik ’n reeksmoordenaar is?
“Toe ek die oudisie gedoen het, het ek geen kennis oor die inhoud gehad nie. Dit is iets wat hulle opsetlik gedoen het sodat ek die minimum van my rol sou weet en nie sou weet wie die moordenaar is nie.
“Later was ek besig om op Plaasjapie te werk (as inhoudsregisseur) en Nico het my gebel en vir my self gesê dat hy wil hê ek moet Braam speel. Hy het so mooi met my deur dit (Braam as ’n karakter) gepraat, want natuurlik was dit belangrik om die subject matter met my te bespreek. Hy wou seker maak ek is steeds okei om Braam te speel. Hy het sy aanslag aan my verduidelik ten opsigte van wat hy met die karakter wou doen. Ons het baie lekker gesels en ek was dadelik in, want Nico het dit so mooi aan my gekommunikeer dat dit oor empatie gaan. Dat dit gaan oor die rede vind vir die karakter se aksies, eerder as wat hy net gesê het, ‘o, ja, jy speel die villain’.”
Braam is ’n komplekse karakter – hoe gemaak om aanklank met hom te vind of jouself met hom te vereenselwig?
“Vir my het dit baie gegaan oor dat hy regtig ’n omgee-mens is. Hy het baie, baie empatie vir die mense wat hom beskerm het, juis omdat hy – tot en met die ouderdom van 14,15 – grootgeword het in ’n omgewing waar daar nooit iemand was wat vir hom uitgekyk het nie. Dit het my help verstaan hoekom hy so lief vir Sybrand is. Die rede vir wat hy gedoen het en wat hy doen, kom uit ’n plek van beskerming. So hy overcompensate in sy psige en dink hy doen die regte ding.
Ek dink dit kan baie ontstellend wees vir mense, maar ek dink die komplekse karakters wat Nico geskep het, gaan onderliggende empatie skep – vir almal. Niemand is sonder sonde nie.
Edwin van der Walt
“Ek dink wat ons, op ’n kleiner skaal, baie keer in die lewe doen, is ons dink ons beskerm ons geliefdes deur ’n sekere manier op te tree. Maar ons kom met so ’n vuil perspektief of negatiewe, modderige venster. Braam het regtig gedink dit wat hy doen is goed en reg en nodig vir die samelewing, bloot vanweë daardie beskermingsdrang. Dít is so ’n groot deel van hom – om vir Sybrand te beskerm.
“Dit was egter ’n groot uitdaging om my psige op ’n plek te kry waar ek nie die karakter oordeel oor hoe hy dit doen nie. Eerder as wat ek gefokus het op sy aksies, op dit wat hy doen, het ek gefokus op sy motivering. Dit het gemaak dat ek hom glad nie oordeel nie. Dit het vir my gehelp om begrip te hê.”
Wat staan vir jou uit van Braam?
“Braam het regtig baie empatie. Besonders baie empatie. Hy is super-beskermend oor sy geliefdes. Ek dink hy is in ’n baie vreemde manier beginselgedrewe. Daar is ’n sekere stel beginsels wat hy volg en wat hy weet die regte ding is om te doen. Hy het ’n droë humorsin. Daar is ’n ligtheid in hom wat ’n mens nie altyd sien nie. Hier en daar kan ’n mens dit tussen hom en Sybrand optel.
“Sy dryfkrag is 100% beskerming. Hy wou net mense help en hy het regtig geglo dat hy help. Hy het so ’n sensitiewe, overcompensation-perspektief van beskerming om só seker te maak dat niemand die pyn ervaar waardeur hy is nie. Dít is sy motivering. Om mense te help en te beskerm. Hoe hy dit gedoen het, is ’n ander saak.”
Jy het duidelik baie empatie met die karakter – ten spyte van sy moorddade.
“Mense is baie gou om klippe te gooi, maar jy moet eers gaan vra en probeer uitpluis hoekom iemand doen wat hulle doen. Die aksies kan universeel verkeerd wees en ons kan almal glo dit is verkeerd, ja, maar waar empatie regtig vir my belangrik is, of waar ’n mens empatie kan skep, is deur iemand se redes te verstaan. Moenie net ’n klip gooi na wat hulle gedoen het nie.
“Ek dink dit kan baie ontstellend wees vir mense, maar ek dink die komplekse karakters wat Nico geskep het, gaan onderliggende empatie skep – vir almal. Niemand is sonder sonde nie.”
Die uiteindelike onthulling is nogal skokkend. Hoe het jy dit reggekry om jou karakter só te speel dat ons hom tot aan die einde van episode ses glad nie verdink nie?
“Vir my was dit belangrik, en ek het met Nico oor my besluit gepraat, om omtrent tot en met die einde van episode ses elke toneel te speel asof ek nie die moordenaar is nie. 100%. Om glad nie ’n saadjie te probeer plant van ‘is hy dalk die moordenaar?’ nie. In my kop het ek gekies om hom te speel asof hy onskuldig is – dat hy nie die moordenaar is nie – want in sy kop het hy geglo hy het die regte ding gedoen. So iemand wat regtig optree in ’n manier waar hy voel hy het niks verkeerd gedoen nie (en dus onskuldig is).
“Ek het probeer om eers aan die einde van episode ses krakies in sy psige te begin wys. Maar tot daai oomblik het ek besluit daar is eenvoudig geen krake nie. Speel die volle karakter en sy menswees en dat hy lief is vir sy broer. Sy hele arc tot en met episode ses het vir my gegaan oor die liefde vir sy boetie en om hom te beskerm.
“Ek wou nooit gespeel het in ’n rigting waar ek probeer het om ’n villain te speel nie. As ’n mens gaan kyk na die navorsing oor psigopate, glo baie van hulle dat dit wat hulle doen, reg is. Daar is partykeer ’n vreemde gemaklikheid en sjarme. En jy dink net, ‘hoe het jy dit gedoen? Jy lyk so normaal.’ And I kind of went that route. So die uitdaging vir my was om nie in te speel op die feit dat ek weet hy is die moordenaar nie.”
Hoe was dit om met Nico Scheepers (die reeks se skrywer en regisseur) te werk?
“Nico – hy is lieflik. Dit was ’n absolute joy om saam met hom te werk. Ek dink hy het ’n perfekte balans van ’n absolute vreugde en ernstigheid. As die tyd druk en hulle moet planne maak en daar is nie meer tyd om hierdie shot te kry nie – he’s not going to compromise. He will not go on. Dít, as ’n akteur, laat jou veilig voel.
“Terselfdertyd, as die take klaar is en dit was ’n baie ernstige toneel of wat ook al, dan kan hy direk daarna grappies maak en ons kan oor allerlei goed praat. Veral omdat die subject matter so ernstig was, dink ek hy het die perfekte balans gehad van hierdie sagtheid en hierdie absolute vreugde, met die erns van sy craft, daai dryf en passie. Dít was vir my so lekker, want daar was ’n totale balans om saam met hom te werk.
Nico is ’n briljante storieverteller, en sy Donkerbos-teks, soos Nêrens, Noord-Kaap, is magies. Was jy enigsens gespanne of skrikkerig om saam met hom te werk?
“Ek dink ’n mens voel altyd druk om ’n teks, veral ’n briljante teks soos Nico s’n, so eg en eerlik as moontlik te kan vertolk. Maar nie net dit nie… Dit gaan ook oor om in sy toon en styl te kan speel. Ek dink ’n regisseur het baie keer ’n spesifieke styl of toon in gedagte. Dit is fantasties as almal op dieselfde bladsy is.
“Ek het ook nou al geleer dat egte en eerlike spel nie noodwendig altyd genoeg is nie. Daar is ’n toon en ’n styl waarin jy ook moet speel. Dít is hoekom dit belangrik is om aan te hou groei as ’n akteur en te werk aan jou craft en jou skill. Omdat ’n regisseur dalk ’n sekere styl of ’n toon wil hê, kan jy nie net staatmaak op jou natuurlike reaksies of impulse nie. Jy moet ook ’n laag byvoeg om voorsiening te maak vir die toon of die styl waarin die teks geskryf is.”
Erica Wessels (wat die hoofrol vertolk) het die teks beskryf as die beste teks wat sy nog gelees het. Wat was jou reaksie?
“Daar is ’n magiese element aan hierdie teks. Nico het dit wel regtig vir ons as akteurs gestroop. Ek het druk gevoel om Braam so eg en eerlik te kan vertolk en dan steeds empatie te skep. Om die persoon volrond, drie-dimensioneel te skep en uit te leef sodat ’n mens ’n volle weergawe van die persoon kon ervaar. Nie net deur dit wat hulle doen nie, maar ook van dit waardeur hulle is en die emosies en gevoelens wat die karakter dalk self nie kan verstaan of kan uitdruk nie, maar wat die kyker hopelik in hul oë kan beleef.”
Het jy spesiale bande met enige van jou mede-spelers gesmee?
“Twee verhoudings wat vir my uitstaan, is definitief Wilhelm van der Walt en Erika Wessels.
“Willa. Ons spot dat ons broers is omdat ons dieselfde van het, en ons wou ook nog altyd broers speel. Ek en hy het ’n baie noue band die afgelope twee jaar gevorm. Dit was regtig so lekker om in intieme rolle met mekaar te kan werk. Ook om regtig weerloos te kan wees. Ek dink dit het ook ’n groot verskil gemaak dat ek en hy al voor die tyd ’n regte broederband gevorm het. Dit was baie, baie spesiaal gewees.”
“Selfde met Erika. Ek dink sy is een van die beste aktrises in ons land. Lank terug het sy my ma gespeel in My Father’s War (ook op Showmax). Ons het daar ook ’n spesiale band gevorm. Ons het oor alles gepraat. Al die topics van die lewe ingedelf.
“Ons het baie lekker saam op My Father’s War gewerk en so ook nou op Donkerbos. Sy en Braam het ook ’n nou band. But it’s almost an unspoken connection. Dit was regtig baie lekker om saam met haar te werk, want sy is so ’n goeie aktrise. En sy is so selfless. Jy kry aktrises en akteurs wat vir jou baie sal gee, maar net tot op ’n punt. Dan, as ons langer takes doen, kan jy sien hulle begin so ’n bietjie minder gee. Maar Erica is een van die mees selfless aktrises met wie ek al gewerk het. Sy gaan vir jou aanhou gee totdat hulle happy met daai take is. Ons het ook net so heerlik af-skerm ook gepraat. Sy is werklik ongelooflik.”
Donkerbos se eerste episode word op 21 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Sondae beskikbaar wees om te stroom. Die reeks is ook steeds op Showmax beskikbaar.
Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is in November 2022 gepubliseer en is aangepas vir die reeks se bekendstelling op kykNET in Januarie 2024.