Ná nog ’n dag van té veel popcorn en té min tyd om badkamer toe te gaan, is die benoemings vir vanjaar se Silwerskermtoekennings in die kategorieë vir kortprente, dokumentêre en speelfilms ook bekendgemaak. Die benoemings vir die TV-toekennings is reeds in Junie vanjaar aangekondig. Lees meer oor die benoemings hier.
Kortprente
Die sielkundige drama, ’n Doop om Stilte, draai om Joshua, ’n graad 8-leerder wat ’n aand van ontgroening by sy nuwe seunshoërskool deurmaak. Of eerder oorleef… Want deur die loop van dié aand word Joshua met ysingswekkende omstandighede gekonfronteer. Dís die gebeure wat hom dwing om te dink oor wie hy wil wees, en waarvoor hy bereid is om op te staan. Maar met die treffende nabyskote op die seuns se gesigte word dit duidelik dat daar nie veel van ’n keuse is, mits jy in een stuk jou hoërskooljare wil oorleef nie. Of jy die res van jou lewe gaan oorleef, is egter ’n ander saak. Die prent is soveel meer ontstellend omdat jy weet dit is real. Veral in hoe dit uitspeel in die hoë koers van geweld, spesifiek huishoudelike geweld, in ons land. Dié alleenreis van ’n seun word rou weergegee, met ’n hulpeloosheid wat bly klou soos die eindtitels rol.
In Dans dat die biesies bewe droom Mieke daarvan om ’n professionele danser te wees. As Wimpie Steyn, die coolste ou in Daspoort en haar gunsteling-sanger, oudisies vir ’n nuwe back-up-danser hou, besluit Mieke dis nou of nooit. Sy span dan haar ouer broer, André, in, om haar na die oudisie te neem. Mieke het geen professionele opleiding of die “tradisionele” figuur van ’n danser nie, maar sy laat dit nie in haar pad staan nie. Die optrede wat sy lewer is… onvergeetlik, om die minste te sê…
Hoewel die continuity van die 80’s-estetika nie oral volgehou word nie, is dit ’n prettige prent op tematiese en spel-vlak. Die rol van Mieke word heerlik vertolk. Hoewel die verhouding tussen haar en haar broer van meet af cliché is, is dit ook dan juis hoekom dit relatable is.
In Karen word die one-liners teen ’n stink spoed uitgespoeg. Franci Swanepoel se droll delivery is egter wat dit onvergeetlik maak. My gunsteling? “Jy trust nie ’n man met ’n Engelse naam nie!”
Die storie verloop flink en vinnig – só ook die misverstand waarmee die storie begin as Susan effe histeries raak as sy ’n allergiese reaksie in ’n koffiewinkel kry. Dié misverstand sien hoe Susan dan per ongeluk met ’n handsak vol van dié koffiewinkel se kontant daar weghol. Die vooral gaan viral – en nie op ’n goeie manier nie… Al genade vir Susan is om met die hulp van haar bombastiese ma (Swanepoel in een van haar laaste rolle voor haar afsterwe) planne te maak om die geld terug te besorg aan die kelnerin wat haar bedien het. Maar dan, mense, kom daar ’n helse kinkel!
Dis uit-jou-maag-lag van begin tot einde.
Thrift tot die Dood is daarenteen ’n aweregse kombinasie van humor en gruwel. Die storie draai om ene Janel, ’n effense vaal figuur wat ’n tweedehandseklerewinkel bedryf. Hier leef sy haar passie uit om nuwe lewe (letterlik!) aan ou klere te gee. As drie hipsters haar winkel besoek en vertel hoe hulle klere wil koop om op te sny vir hul eie doeleindes, is sy hewig onsteld. Sy probeer hul oortuig dat die klere net só perfek is, maar hulle lag haar uit. Dit lei egter tot bloederige gevolge vir Ruth, die hoofmeisie-hipster.
Ruth se karakter is erg cliché is, maar dít sou ’n groter doel kon dien as die tematiese metafoor actually gewerk het. Hier word die ou klere wat Ruth-hulle so wil opsny en net die beste dele van wil hê, gelykgestel aan hoe mense misbruik en weggegooi word. Dié ding is net dat terwyl geen mens dit verdien om so behandel te word nie, is dit egter ’n goeie ding as ou klere op verskillende maniere hergebruik word. Om die donnerse lelike strik af te sny sodat jy die res van die rok kan gebruik is beter as wat jy die hele rok weggooi. Die plasing van die metafoor na ’n tydige konteks is interessant, maar die kloutjie kom nie heeltemal by die oor uit nie.
Marguerite van Eeden is ’n aktrise waarvan ek soveel meer van wil sien en haar vertolking in Volle Bors is ’n kragtoer in die kleine. Dieper emosies en intensiteit lê net onder die oppervlak, beheersd, maar dreigend, die angs wat uitloop uit haar porieë.
Die prent bring ook ’n groter beheptheid met borste – en hoe dit aan vroulikheid gelykgestel word – in perspektief.
Eva (Van Eeden), ’n jong digter in haar 20’s, sit in ’n genetikus se kantoor en voel oorweldig oor die moontlikheid dat sy ’n uiterse hoë risiko vir borskanker kan hê as gevolg van haar familiegeskiedenis. Sy toets positief vir die geen, en ’n voorkomende mastektomie word aanbeveel. Haar beste vriendin, Hannelie, en haar verloofde, Daniel, probeer haar ondersteun, maar die interaksie met hulle ontstel haar. In Eva se wêreld word borste met seksualiteit, borsvoeding en aanloklikheid geassosieer. Wat sal daarvan ná die operasie oorbly? Sy begin die onderwerp vermy en verkies om in ontkenning te leef. ’n Poësiefees kom egter nader waar Eva in die kollig sal wees. Het sy dalk te lank gewag om ’n besluit te neem?
Dokkies
Geweldige seer word in Born Behind Bars uitgebeeld. Só ook die langdurige impak van ’n mens se foute, en die kostes wat jy jou nooit sou kon indink nie.
Born Behind Bars is ’n dokumentêr oor aanhouding binne die vroue-afdeling van die Johannesburg Korrektiewe Sentrum. Dit gaan kyk agter die hoë mure en ysterdeure om die storie te vertel van Morwesi Theledi, wat gedurende die tweede trimester van haar swangerskap ná haar inhegtenisname verhoorafwagtend was. Sy word tot tien jaar agter tralies gevonnis en gedurende hierdie tyd skenk sy onder onmenslike omstandighede aan ’n babaseuntjie geboorte. Op twee jaar oud word haar seuntjie van haar weggeneem om saam met haar gesin in Soweto te woon. En dit is hier waar ’n nuwe hoofstuk vir Morwesi begin.
Call of the Wild neem Anika – ’n jong visueel gestremde meisie met ’n gawe vir tale en die uitkenning van voëlklanke – op ’n gedokumenteerde safari vir blindes. Dié buitengewone klanksafari, ontwerp deur die oudio-spesialiste Derek en Sarah Solomon, is verfilm vir beide siende en blinde mense, maar ongelukkig gaan die Afrika-bosklanke nie tot hul reg kom as jy nie oor ’n ordentlike sound system het nie. Die dokkie sukkel boonop om ritme te kry, met geen klimaks waarna dit beweeg nie. Dit kort beslis ’n sterker struktuur, of ’n ander tuiste… soos op Kwêla as ’n insetsel…
Speelfilm
In die romantiese komedie, Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak, gegrond op Annie Klopper se gelyknamige roman, verloor Pamina Vermaak haar werk as joernalis ná ’n skouspelagtige uitbarsting voor haar baas. Die rocker Wolf de Jager word deur sy bestuurder na ’n stil dorpie in die Weskus gestuur nadat hy sy humeur lelik by ’n gig verloor het. Sy eks-verloofde, Daniella, het hom verneuk met ’n bekende Amerikaner en sy kreatiwiteit het opgedroog. Hy het ryk geword met ’n one-hit wonder, maar sy beeld as cool kid is in sy maai. Pamina word in dieselfde dorpie, haar geboortedorp, gedwing om vrede met haarself en die verlede te maak, terwyl Wolf besef sy ontwykende muse is dalk dié hardkoppige, aanvallige donkerkop. Ons resensie volg met die DStv BoxOffice-vrystelling van Die tragiese saak van Pamina Vermaak in Februarie 2024.
- Al die dokumentêre en kortfilms sal ná afloop van die fees op kykNET en Showmax beskikbaar wees. Spesifieke datums sal bevestig word.
- Die tragiese saak van Pamina Vermaak sal van 10 Februarie 2014 tot 23 Maart 2014 op DStv BoxOffice te siene wees.
Besoek ook die Silwerskermfees-webwerf vir meer inligting oor die fees.