Die tweede dag van vanjaar se Silwerskermfees het ’n vol program gebied met premières vir vyf kortprente, waaronder die roerende As en Hier | Daar, twee dokkies – Langafstand en Teater na die mense, asook die twee speelfilms, Frankie en Felipé en Blindelings.
Kortprente
Roeline Daneel as ’n ma wat in die modder van rou verstrik word, lewer ’n ontroerende vertolking in As. Drie jaar ná die dood van haar dogtertjie, Elouise, is Mara steeds vasgestrengel in haar hartseer en is oortuig van Elouise se teenwoordigheid as sy op haar bed sit. Nes Elouise se onaangeraakte kamer, dieselfde as toe sy nog geleef het behalwe vir die potjie as op die bedkassie, is Mara ’n gevangene van die verlede. As Mara vir Elouise ’n verjaardagpartytjie reël, vervreem sy haarself nog verder van haar man, Rigter, en ander dogter, Hannah. Dis dié partytjie wat Rigter dryf om druk op Mara te sit om Elouise se kamer te ontruim – wat sy dan doen omdat sy ’n ander manier gevind het om naby Elouise te wees… Dis juis hierdie ontnugterende tonele met Elouise se as wat die visceral aard van rou en desperaatheid uitbeeld soos Daneel dikwels woordeloos treur.
Die storie is seker bedoel om rondom Mara se rou as ma te sentreer, tog is dit jammer dat Neels van Jaarsveld se Rigter aanvanklik as effe afgestomp teenoor sy vrou se seer uitgebeeld word. Dít is ’n onnodige stereotipering wat nie die storie dien soos wat ’n ander blik op sy rou as pa dit moontlik sou kon verdiep nie.
Soos in As, is rou een van die hooftemas in Een saam. Hierin speel Morné Visser ’n middeljarige man, Pieter, wat ’n baie eensame lewe lei en sy tyd verwyl met tuisvideo’s van ’n veel gelukkiger tyd in sy lewe. ’n Tyd voor die verlies van sy vrou aan die dood en die verlies van sy kind aan sy vooropgestelde idees en veroordelings.
Die draaiboek is ryk aan emosie en arm aan teks met Visser wat gevoelvol en intens broos speel. Die storie neem egter reuse tydspronge wat die kyker van ’n nodige vlak van emosionele konteks en ontwikkeling ontneem.
Hier | Daar is ’n storie wat die wisselwerking tussen die mooi en die hartseer van verlies uitbeeld. Dit draai om Liam, wie se vrou in ’n koma is. Hy kan hom nie ’n lewe sonder haar indink nie. Hy stort homself in sy werk, sluit homself toe in sy huis en doen enige iets om die rouproses te vermy. Toe hy ’n ander vrou begin sien, maak hy sy hart vir die eerste keer op ’n skreef oop.
Die chemie tussen Anna en Liam is tasbaar, delikaat. Daar is ’n kinkel, maar dit maak eintlik nie saak of jy dit sien kom het of nie, want die prent se vertelling oor die emosionele tol van leed en lyding – en nie weet wat om daarmee te doen nie – is ’n bekende besoeker. Edwin van der Walt se regie-hand is los genoeg vir dié vertelling of vry te vloei, maar ferm genoeg om terseldertyd ’n koers vir daai vloei daar te stel. Binne dit is daar speelruimte waarin die akteurs delf.
Daar’s iets van Marthinus Basson se teaterregie hier te bespeur – iemand met wie Van der Walt al telkens mee gewerk het – en dié anderse (en welkom) aanslag, vereis dat die spelers niks minder as hul beste kan gee nie. Hulle word compel om dit te doen.
Die draaiboek, deur Melissa Myburgh, is eenvoudig en onopgesmuk. Sy werk suinig met haar teks want die storie is ’n skatkis genoeg.
Werpsel is ’n haastige gruwel wat jou ewe veel skrik as walging op die lyf jaag. Gustav Gerdener speel Leonard, ’n skaam, socially awkward 40-jarige man wat sy bes doen om na sy bejaarde ma, Lena, om te sien. Hy dans met haar, voer haar en bad haar selfs voor hy haar snags bed toe help. Dit lyk of sy aan demensie ly, maar haar leë staar en wilde voorkoms sinspeel op iets meer, iets onheilspellend. En jip, daar is inderdaad kinkels en gruwels wat wag.
Die Swart Draak Ontwaak is as ’n aksieprent geklassifiseer, maar ek wonder of dit dalk eerder satire is?
Die clichés en die tropes is so volop, en word met soveel intense erns oorgedra dat ’n mens so hoop, want so aspris kan ’n mens nie wees as jy nie eintlik die gek skeer nie. Die toneelspel is awkward at best en weereens, indien dit ’n satire is, werk die prent as ’n lawwe take op dié niche-genre. Indien nie, is dit als ’n bietjie absurd.
Die storie draai om ’n gevreesde Muay-Thai skopbokser genaamd The Kingpin wat ’n bendegeteisterde gemeenskap op die Kaapse Vlaktes met ’n ystervuis regeer. Maar die held, Clifford Smith, span tradisionele Oosterse gevegskuns in vir ’n goeie doel. Clifford neem jonges onder sy vlerk, rig hulle af en probeer om hulle uit die kloue van bendes te bevry. Maar dan word iemand na hom een van The Kingpin se slagoffers en hy sweet wraak… al sy oortuigings oor vrede en goedheid vergete.
Dokkies
Langafstand draai om Deon-Lee Hendricks van Cloetesville, Stellenbosch, se voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse landloopproewe. Deon-Lee gee alles om die span te haal wat World Athletics-landloopkampioenskap toe gaan en Langafstand wys watter uitdagings hy moes oorkom om hierdie droom na te jaag. Dié kort dokkie verken sy komvandaan, waaronder sy gesin, die impak wat sy ma se afsterwe op hom gehad het en die gemeenskap van Cloetesville. Daar is ook insiggewende onderhoude met Deon-Lee se afrigter, Jacques Jansen van Rensburg, en die atletieklegendes Elana Van Zyl en Zola Budd, wat hom raad en leiding gee.
Dié dokkie bring perspektief oor hoe dit lyk om ten spyte van jou beste pogings nie ‘n mylpaal te bereik nie, maar steeds voort te beur. Deon-Lee se storie is een van hoop en dis eerder daai voortdurende reis wat die dokkie trefkrag gee as enige spesifieke prestasie. As sulks is dit eerder ’n blik op die “Hoop van Cloetesville” se alledaags.
Teater na die mense vertel die merkwaardige verhaal van die vasberade Cape Flats Players-geselskap wat teater ingespan het om die apartheidstelsel uit te daag en gehore bemoedig het om teen onderdrukking op te staan. Dié groep akteurs was veral bekend vir hul samewerking met die dramaturg Adam Small. Die dele waarin die geselskap tonele uit van hul bekendste toneelstukke opvoer, is van die treffendste oomblikke in die dokkie. Maar hierdie besonderse storie kom net nie heeltemal tot sy reg hier nie. Dis deels die formaat en die struktuur wat pla. Hier is genoeg diepte vir dit om ’n dokkiereeks te wees, wat die vertellers die ruimte sou gee om dieper in die verskillende temas te delf en te verken.
Speelfilms
Die akteurspaar en storieskeppers Donnalee Roberts en Ivan Botha is ou feeskatte. Hulle bou op hul sukses met Beurtkrag by verlede jaar se Silwerskermfees voort met vanjaar se Blindelings.
Met dié senutergende riller gaan beide Roberts en Botha buite hul gemaksone van romanse en drama. In Blindelings vertolk Roberts die rol van René Scholtz, ’n briljante, blinde pianis met sinestesie. Só “sien” sy unieke kleurkolle wanneer sy musiek, stemme en emosies beleef, maar ná ’n aanranding op die aand van haar eerste solovertoning, onttrek sy heeltemal van die buitewêreld. Daar is ’n eksperimentele operasie wat moontlik haar sig kan herstel, maar haar man, Paul (Jacques Bessenger), ’n sukkelende eiendomsagent, het hul spaargeld verloor. As ene Steyn Rademan (Wilhelm van der Walt), ’n meestermanipuleerder wat homself as ’n sakeman voordoen, dan vir Paul oorreed om na ontwikkelingsplanne op sy wildsplaas te kom kyk, gaan René saam. Sy voel egter dadelik iets is onpluis en as Steyn dan ná ’n jagtog sonder Paul terugkeer word haar misnoeë bevestig… Sy moet haar sinne tot die uiterste inspan om die teistering wat volg te oorleef.
Botha, ook die regisseur, het die draaiboek saam met Roberts, Liani Jansen van Rensburg en Ernst van Wyk geskryf. Blindelings is vanaf 26 Augustus 2023 tot en met 7 Oktober 2023 op DStv BoxOffice beskikbaar. Ons resensie volg binnekort.
Solomon Cupido en sy jarelange vriend wyle Bradley Olivier van Binnelanders-faam is die voor- en agter-die-skerms sterre van die romcom Frankie & Felipé.
Olivier speel Frankie, en Cupido is Felipé, twee broers wie se lewens heeltemal verskillende paadjies geloop het nadat hulle as kinders van mekaar geskei is. Wanneer hulle net voor Frankie, nóú n suksesvolle sakeman, se troue mekaar weer raakloop, lei dit tot ’n klomp misverstande wat dreig om Frankie se groot dag te bederf.
Marvin-Lee Beukes behartig Frankie en Felipé se regie. Ook in die rolverdeling tel Zane Meas, Ilse Klink, Kim Syster, Bianca Flanders, Bouwer Bosch, Danny Ross en Terence Bridgett. Ons resensie volg met die DStv BoxOffice-vrystelling van Frankie en Felipé in 2024.
- Al die dokumentêre en kortfilms sal ná afloop van die fees op kykNET en Showmax beskikbaar wees. Spesifieke datums sal bevestig word.
- Blindelings is vanaf 26 Augustus 2023 tot en met 7 Oktober 2023 op DStv BoxOffice beskikbaar.
- Frankie en Felipé sal aanstaande jaar op DStv BoxOffice beskikbaar wees.
Besoek ook die Silwerskermfees-webwerf vir meer inligting oor die fees.