Terwyl ’n period-penarie in Koors vanjaar se kortprente op die Silwerskermfees ingelui het, was die kil wreedheid in Besmet, wat die haglike realiteit van leeustropery onder die loep bring, ’n swaar slag vir harte wat eers met die mooiheid van die dokumentêre prent, ’n Gids vir Louzanne, saggemaak is.
Kortprente
As jy al ooit ’n period gehad het, was jy al waarskynlik in ’n soortgelyke situasie as wat Mandri Sutherland se Simone haarself in Koors bevind; een waarin daai tyd van die maand dreig om jou hele lewe donners ver om te dolwe. Vir Simone gebeur dit op pad na ’n voorlegging vir ’n belangrike kliënt as sy haar handsak in die Uber vergeet – natuurlik saam met als wat sy sou nodig hê om period-katastrofes af te weer. Sy eers sukkel om haar (oversaturated) tampon uit te haal en weg te gooi sonder om te mors… maar dan beland die laaste tampon wat sy uit haar werksak gekrap het in die toilet ,en daar is boonop nie toiletpapier nie. (Haar oplossing is nie iets wat ek ooit sal oorweeg nie. Nooit nie vriende, nooit nie.)
Sutherland speel Simone net reg. Sy kon maklik gekies het om die vertolking in cliché-histerie te anker, maar strooi eerder net genoeg gatvol in die mix om dit as ’n alledaagse realiteit tuis te bring. ’n Vignette van real life. Dis behoorlik kort – sonder die eindtitels is dit onder tien minute – met ’n teks en tight regie wat dié stukkie amperse flash fiction omsluit.
Dis Koors se beheersdheid waarby Straatrotte baie kon baat. Granted, hierdie is ’n hele ander tipe prent, enig in sy soort op die fees, met grafika en animasie wat ruim ingespan word om die storie van Ebi, Zac en Nat te vertel. Dié drie vrinne probeer om genoeg geld bymekaar te maak om vir ’n amper-blinde Zac ’n spesiale bril te kry. Die plan? Ontvoer die Kaapse burgemeester se Instagram-beroemde papegaai, Kofu, om dan ’n paar rand as beloning te kry as hulle dan sy vermiste voël “vind” en aan hom terugbesorg.
Daar word hard gewerk om Straatrotte soos ’n Ocean’s Eleven-agtige caper te laat lyk en klink: ’n polsende score, humor en high stakes, en natuurlik, ’n “slim” plan. Die teks is egter te langdradig vir die boonop stadige tempo waarteen dit uitgevoer word en die score is dikwels distracting eerder as wat dit die storie vorentoe dryf. Maar niks pla soveel soos hoe die “hawelose” kinders uitgebeeld word nie. Selfs as ’n komedie is dié uitbeelding moeilik om te ignoreer – veral omdat hul haweloosheid nie integral tot die storie hoef te wees nie.
Daarenteen is die uitbeelding van alledaagse bestaan op die Kaapse Vlakte in Die Blokke een waarom die storie draai – alles hang hiervan af. Die storie is immers dié bestaan en is op ware gebeure gegrond. Die Blokke speel af by Gloucester Place, ’n blok raadswoonstelle op die Kaapse Vlakte waar drie vriende oor die toekoms peins. Muhammad wil ’n goeie pa wees; Michael wil sy ma uit dié gebied kry; Cheslyn, pas klaar met matriek, soek werk. ’n Koeël uit ’n verbygaande motor en ’n onwettige vuurwapen in die verkeerde hande, saai egter pyn en verwoesting.
Die Blokke is grinterig en krap aan jou vel soos ’n tattoo-naald. Die gebruik van Afrikaaps, tesame met sterk en gewigtige spel deur die bank, sorgsame regie en weldeurdagte skote, anker die fiktiewe weerspieëling van ’n geweldadige, en soms desperate, realiteit.
Terwyl die ander drie kortprente in die hede afspeel, neem Helmhart ons terug na 1968. Ragel, noukeurig vertolk deur Vashti Prins, is ’n jong verpleegster wat met die helm gebore is. Só maak sy kennis met die spoke en geeste op pad na die hiernamaals in die hospitaal waar sy werk. Dié prent, bemark as ’n “spookstorie met ’n knippie romanse”, laat egter veel te wense oor as beide ’n spookstorie en ’n romanse. Die dialoog is onnatuurlik lomp met die oorkoepelende uitvoering wat net nooit ’n gemaklike ritme vind nie.
Dokkies
’n Gids vir Louzanne vertel oor Louzanne Coetzee, ’n blinde paralimpiese atletiekster van Bloemfontein. Dié dokumentêr verken die ingewikkelde, simbiotiese verhoudings tussen haar en drie van haar atletiekgidse en speel af teen hul ervarings by twee Paralimpiese Spele, en ’n tweede poging om die Soweto-marathon te voltooi.
Die dokkie is hartverwarmend, ja, maar dis ook ongelooflik insiggewend. Deur die verhoudings tussen Louzanne en elk van haar gidse afsonderlik – en later saam – in oënskou te neem, word Louzanne self se vele fasette, die kleurvolle mens wat sy is, belig. Tematies is daar ’n diep poel waarin gedelf kan word, tog was dit die manier hoe atletiek as ’n indivuele sport in die breë uiteengesit en verduidelik word – en hoe Louzanne (saam met haar gidse) dit as ’n spansport moet beoefen – wat veral tref. Só ook hoe sy ook ’n (lewens)gids vir ander dien.
En net as jy jouself in die warm and fuzzies van ’n Gids vir Louzanne verlekker het, slaan Besmet jou plat met ’n harde hou. Besmet kom met ’n waarskuwing vir sensitiewe kykers met rede – die lyding en wreedheid wat leeus ervaar as hulle deur stropers vergiftig word, is front and center. Veral wat beelde van dié gestroopte wild betref, maar ook in die hartseer vertellings van toegewyde mense wat alles in die stryd werp om hierdie spesie te beskerm – die veeartse, die veldwagters, die navorsers… Suid-Afrika is immers een van die laaste natuurlike tuistes van die ikoniese Afrika-leeu. Maar dié katte het nie juis verweer teen menslike gierigheid nie – en veral nie teen gifstropers nie.
Die dokkie belig ook onder meer die redes waarom leeus gestroop word – onder meer vir gebruik deur traditional healers en hul klante – en hoe leemtes in plaaslike wetgewing veroorsaak dat daar nie genoegsame afskrikmiddels teen stropery is nie.
Besmet is uiteindelik ’n uiters dringende vertelling. En danksy die struktuur en samestelling word spanning gebou en klem op die erns van die situasie gelê sonder om prekerig te raak. Die kinematografie is ook besonders.
Speelfilms
Hans steek die Rubicon oor is gegrond op die topverkoperroman en gewilde radiodrama deur Rudie van Rensburg. Dis ’n aksie-avontuur oor die hardkoppige 90-jarige Hans (Pierre van Pletzen), wat deur sy vervreemde dogter Karla (wat in die buiteland woon), in ’n ouetehuis gestop word. Hans skop egter kliphard daarteen en lei ’n ouetehuisopstand teen die drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder (Nicola Hanekom). Dis ’n komedie vir die hele gesin oor oudword op jou eie terme.
Regie deur Corné van Rooyen. Ook in die rolverdeling tel Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo, Danny Ross en Diaan Lawrenson. Ons resensie volg met DStv BoxOffice-vrystelling in Oktober vanjaar.
Old Righteous Blues se storie begin op Kersdag 1997 as Hantjie Jansen opwindende nuus ontvang. Sy Oom Jakwes, wat jare lank die Kerskoor se trommelmajoor was, tree af. Hantjie droom van kleintyd af daarvan om trommelmajoor te word, maar die bejaarde koorleiers wil niks daarvan weet nie. Twintig jaar gelede het sy pa ’n keuse gemaak wat die geliefde Old Righteous Blues Kerskoor in twee geskeur het. Toe twee vyandiggesinde groepe daarna ontstaan, het dit twis en vernietigende geweld in die gemeenskap veroorsaak. ’n Generasie later is daar ’n nuwe gevoel van eenheid in die land ná die eerste demokratiese verkiesing. Dit kan die geleentheid wees vir Hantjie om die gemeenskap te herenig en sy droom te verwesenlik, maar dit sal ’n titaniese stryd verg – en nie net om trommelmajoor te word nie.
Muneera Sallies is die regisseur. Die rolverdeling sluit onder andere in Ayden Croy, Joshwin Dyson, Megan Saayman, Simon Bruinders, Kevin Smith, Stefan Erasmus en Euodia Sampson. Ons resensie volg met die DStv BoxOffice-vrystelling in 2024.
- Al die dokumentêre en kortfilms sal ná afloop van die fees op kykNET en Showmax beskikbaar wees. Spesifieke datums sal bevestig word.
- Hans steek die Rubicon oor is vanaf 29 September 2023 in rolprentteaters en op DStv BoxOffice vanaf 13 Oktober tot 25 November beskikbaar.
- Old Righteous Blues sal volgende jaar op DStv BoxOffice beskikbaar wees.
Besoek ook die Silwerskermfees-webwerf vir meer inligting oor die fees.