Menu terloops
In Lysie-lysie [19 Jul 2022]

Wat om te kyk: Silwerskerm-kortflieks op Showmax


Vanjaar se Silwerskerm-kortflieks is nou op Showmax. Hier volg ’n opsommende kykgids van dié stories, waaronder Jordy Sank se ‘Leemtes en Leegheid’ wat die toekennings vir beste kortfliek, beste draaiboek en die gehoorkeuse-prys gewen het.

Kyk nou

Wat om te kyk: Silwerskerm-kortflieks op Showmax

Kliek op die titel van vanjaar se Silwerskermfees-kortflieks om dit op Showmax te kyk.

1

’n Kolonie van wateraanbidders kan hul enigste kans op die vervulling van ’n lank verwagte profesie verbeur. Vera, die uitverkore vrou, moet besluit of sy haar hart gaan volg en die kolonie verraai en of sy sal bly om Evander se derde vrou te word en ’n lewe sonder liefde te leef.

2

Lize het nog nooit te veel van die lewe gevra nie. Sy is meestal gelukkig met haar huwelik, maar Lize het nog altyd daarvan gedroom om ‘n ma te wees. Vir Lize en haar man, Willem, wil dit net nie geluk nie. Met gesinsdruk wat saggies erger raak en die tik van die biologiese klok al hoe harder, gooi die nuus van Willem se steriliteit haar identiteit as vrou omver. As die droom aan skerwe lê, vergeet Lize en Willem van die samelewing se konvensies en beplan om dit steeds ’n werklikheid te maak. Kan hulle die plan deurvoer sonder om hulself in die proses te verloor?

3

Shaun is die Nagvoël – ’n kleindorpse superheld wat daarvan droom om deel van die Suid-Afrikaanse Superheldeliga te word. Wanneer Crimson, ’n beroemde superheld en lid van dié liga, by die nabye Tikbrug land, snel die Nagvoël hom te hulp. Saam reken hulle met boewe af wat ’n dwelmmiddel gebruik om hulle tydelik superkrag te gee. Shaun publiseer ’n video-opname van hul heldedade op die internet wat baie aandag trek, maar dan word sy vriend Kyle ontvoer en die skurke eis hul dwelms terug. Sal die Nagvoël met Crimson se hulp vir Kyle kan red en lid van die liga word?

4

Baber speel af in ’n makabere barbierswinkel teen die agtergrond van die Kaapse Vlakte se patriargale waardestelsel. Dônnie vanie Reevas kom in vir ’n skeer. Vikkah, die barbier, herken hom as die man wat na bewering sy enigste seun beroof en vermoor het. Dônnie is in besit van sy seun se sakhorlosie. Mynie, die barbier se dogter, is baie vaardig, maar sy word deur haar pa ondermyn. Vandag het sy ’n kliënt in die stoel – die man wat haar broer vermoor het.

5

Magdaleen, ’n eensame weduwee in haar 70’s, skep ’n denkbeeldige weergawe van haar oorlede man om die hartseer en pyn te verdoof. Nadat sy so lank met haar herinneringe opgeskeep was, probeer sy desperaat om weer die buitewêreld te betree en weer die see te sien waarna sy nou al vir maande smag.

6

Vanessa moet noodgedwonge die laaste paar dae van haar matriekvakansie saam met haar vervreemde, sukkelende rock-muso-pa, Louis, deurbring. Tydens sy kustoer bevind Vanessa haar in die posisie van sy nie-amptelike roadie. Sy sien so daagliks hoe Louis vir ’n steak en bier voor ’n handjie vol mense sy hart uit sing. Vir die eerste keer in jare is pa en dogter eerlik oor die verlede en probeer hulle, langs die pad, in die middel van nêrens, mekaar weer vind.

7

Martha is ’n enkellopende kelnerin wat nie weet wat sy met haar lewe wil doen nie. Boonop word sy vandag 28. Almal weet 28 is die nuwe 30, en 30 is die begin van die einde vir enige vrou met planne om te trou of ma te word. Sy word die oggend ná haar verjaarsdagpartytjie wakker met ’n onbekende man in haar bed en ’n vreemde gevoel in haar maag. ‘n Apteektoets bevestig haar vermoede – sy is swanger. Die nuus versprei soos ’n veldbrand en binnekort geniet Martha die aandag en liefde waarna sy ’n maand vantevore gesmag het. As sy dan uitvind dat dit egter ’n skynswangerskap is, knak iets in haar. Sy besluit om eenvoudig hierdie nuus vir haarself te hou. Selfs ’n non-baba is beter as die doodloopstraat waarin sy haarself voorheen bevind het.

8

Samuel, die eienaar van ’n baie winsgewende tegnologiemaatskappy, word beroof deur ’n gewelddadige aanvaller genaamd Nathan, wat hy as ’n voormalige werknemer herken. Samuel bel nie die polisie nie, maar spoor vir Nathan op en bied hom betaling aan as hy instem om die voorval herhaaldelik vir sy eie plesier te herskep. Hierna ontstaan ’n onstuimige, verdraaide werkgewer-werknemer-verhouding wat afstuur op ’n morsige klimaks en ’n donker, ontnugterende ontknoping.

9

Kersfees lê soos ’n berg voor Tilla. Dit was haar voorstel om hierdie Kersete te reël. ’n Soortvan huldeblyk aan haar ma. Maar Stephan, haar seun, is minder beïndruk dat hy nie sy verloofde, Divan, mag nooi nie. Tilla meen hierdie romanse sal net een te veel vir die oumense wees om te sluk. Oupa se Alzheimer’s is juis aangehits deur Ouma se skielike dood. Tydens die ongemaklike Kersete besluit Oupa Andries om groot nuus met sy familie te deel. Niemand reageer soos hy gedink het nie, en hy deel die geheim weer – ’n paar keer.

10

Liefde kan oral toeslaan. Selfs al kruip jy soos die pas ontsnapte Louie in ’n polisieman se hangkas weg saam met ’n ou wat jy nie ken nie – ’n ou wat by daai einste polisieman se huis ingebreek het. Louie is nog in haar oranje tronkpakkie, maar het haar plakkies uitgeskop om vinniger te kan hardloop. Louie hou van tone, en Francois het tien van hulle, en baie oulikes boonop. Francois het nooit iets impulsiefs gedoen nie. Dis nou totdat hy die voordeur oopgemaak en in Louie se bietjie mal, bietjie scary, bietjie sexy oë vasgekyk het. Nou sit hy kaalvoet in ’n kas en probeer hard om sy tone weg van hare te krul, terwyl hare al nader aan syne kruip. En binnekort gaan die eienaar van die kas – ’n man wat selfs met sy pistool stort – besef hy is nie alleen tuis nie.

11

Tydens ’n nasionale ramptoestand en grendeltydperk is Daniël en sy siek, bejaarde pa vasgekeer in ’n eenslaapkamerwoonstel. Daniël moet Pa versorg, maar die ou man is verlore in ’n droom van die berge en dring aan om te gaan stap. Dit is onmoontlik. Daniël se moed, hul kos en sy pa se suurstof en medisyne is amper op. Oorweldig trek Daniël sy pa vir sy laaste staptog aan.

12

’n Afrikaanssprekende man help sy bejaarde, Duitse buurvrou in ’n tyd van nood, ondanks die taalgrens tussen hulle. In die proses leer hy boekdele oor homself.

13

Elke drinker op aarde het ’n Horrie. En wat is dit? ’n Horrie is ’n geheime agent wat op die oggend ná ’n Groot Aand aan jou verskyn met een doel: om jou Die Horries te gee oor jou dronk gedrag. Wanneer een werkverslaafde Horrie haar werk verloor omdat haar drinker ophou drink het, is sy bereid om enigiets te probeer om haar geliefde werk terug te kry.

14

In ’n post-apokaliptiese Kaap, waar masjiene die laaste menslike oorlewendes jag, soek die hardkoppige Tink en haar troue hond, Indy, saam na robotparte om haar moedelose suster Kari te help om hul “beskermer” klaar te bou. Kari wil nie hê Tink moet haarself in gevaar stel nie, maar Tink verontagsaam haar bevele. Sy gaan na die skrootwerf om ’n laaste uitstaande part te soek. Daar word sy aangeval deur ’n moorddadige masjien. Sy ontsnap, maar die masjien volg haar huis toe. Sal Tink betyds hulle halfgeboude beskermerrobot kan regmaak om haar en haar gesin se lewens te red?

15

Angel en Lorenzo was lank ’n paartjie. Hulle is ook eeue oue vampiere. Angel sukkel om die einde van hulle verhouding te aanvaar en die eensaamheid van die Covid-19-grendeltyd maak dit nog moeiliker. Sy lok Lorenzo na die Seepunt-promenade – die plek waar hulle destyds ontmoet het – om van sy besittings terug te gee. Lorenzo het dae laas geëet en is sterwenshonger. Hy daag saam met sy nuwe mens-girlfriend by die promenade op en daarop was Angel beslis nie voorbereid nie.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies