Menu terloops
In Gons [24 Okt 2024]

‘Banana Air’: ‘Koekie is ’n karakter baie na aan my hart’ vertel Lara Lourens


‘Ek het regtig myself gate uit geniet,’ vertel die aktrise Lara Lourens oor haar vertolking van die ‘Banana Air’-karakter Koekie Koekemoer.

Stroom 'Banana Air'

‘Banana Air’: ‘Koekie is ’n karakter baie na aan my hart’ vertel Lara Lourens

“Koekie Koekemoer is ’n karakter so na aan my hart. Kyk, sy is nou regtig nie boekslim nie, maar mens moet haar nie onderskat nie. Ten spyte van al die drama onder die personeel by Banana Air, is Koekie eintlik maar net te dankbaar om ’n werkie te hê en deel van die span te wees,” vertel die aktrise Lara Lourens oor haar karakter in die kykNET-komedie Banana Air.

Koekie is die energieke lugwaardin in Banana Air se sakeklas en ’n belly dancer in haar vrye tyd. Sy is beslis nie iemand wat vooruit beplan of goed oordink nie, sy is impulsief en lewe in die oomblik. Dit lei natuurlik tot ’n paar onverwagse romanses en taai situasies.

“Koekie is redelik ver verwyderd van wie ek is as mens. Jy begin maar altyd by die teks, die hele teks vir elke episode, en deur jouself vertroud te maak met die dinamiek van die karakters en die storiewêreld, en dan kyk jy hoe jou karakter daarin pas. Karakteranalise is net so belangrik soos teksanalise. So, ek moes seker maak ek verstaan wat Koekie se gedagteproses is, want dit is nie noodwendig hoe ek as Lara sou dink of redeneer nie.” 

Maar al verskil Koekie en Lara hemelsbreed, wens sy soms sy kan so spontaan en impulsief soos Koekie wees. “Ek oordink gereeld en is altyd besig om te analiseer,” voeg Lara by.

“Ek kan nie vir ander mense praat nie, maar ek hou van Koekie, want sy neem nie haarself te ernstig op nie en veroorsaak soms groot drama met geen benul dat sy in die middel van alles sit nie. Ek het regtig myself gate uit geniet deur die rol te vertolk. Koekie is ’n geval van ‘wat jy sien is wat jy kry’. Sy is wie sy is, en sy is heel oukei daarmee.”

Giggel-oomblikke op stel

Lara speel teenoor haar kêrel, Kaz McFadden, wat die rol van Brand vertolk. “Dit was lekker om weer teenoor my kêrel, Kaz, te kon speel. Ons het soveel oomblikke op stel gehad wat my nou nog laat giggel.”

“Tydens een toneel moes ek van ’n stoel af spring en saam met Danielle Retief (Barbie) oor ’n houtdek loop, maar iewers in die proses het my hakskoen van my voet af geskiet en in die dakbalke beland. Die kamera was besig om te rol, en ek wou nie karakter breek of lag nie. So, toe storm Koekie doelgerig op Hester (Liane Heyl) af, hinkepink in een skoen,” vertel sy laggend. 

Wanneer Lara nie kykers op die kassie vermaak nie, is sy besig agter die skerms. Sy het saam met Kaz en Zack Mtombeni ’n produksiemaatskappy, The Third Law, begin. Hulle is tans in na-produksie met ’n film wat hulle vir Showmax vervaardig het. Hulle was ook onlangs by Aardklop met Kaz se eenmanvertoning Stuur groete vir die Moot. Lara het die toneelstuk geskryf én die regie behartig. En dan gee sy ook deeltyds klas vir eerste- en tweedejaarstudente.

⁠”Ek speel binnekort ook in ’n teaterproduksie by Teksmark. Dit sal die eerste keer sedert Covid-19 wees wat ek self die teaterplanke aandurf. Dit is beide opwindend en angswekkend!”


Banana Air saai Maandae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Dit is ook na uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies