In Nêrens, Noord-Kaap vertolk die aktrise Marion Holm die rol van ene Ans Adendorff, ou Lourens se suster en die drie broers se tannie – nog ’n briljante vertolking wat sy tot haar oeuvre gevoeg het. ’n Oeuvre wat reeds lywig is met rolle op die planke, soos in haar nuwe eenvrouvertoning, Marion Monroe, asook dié van TV-karakters in reekse soos Trompoppie en Taktiek.
Marion vertel vir terloops meer oor haar karakter in Nêrens, Noord-Kaap.
Ans is ’n lieflike karkater. Aards, liefdevol, as’t ware die dorp en haar familie se sielkundige, ore en oë. Wat het jy van haar gedink die eerste keer wat jy haar op papier gelees het?
“Ek was mal oor Ans en wou die rol met alles in my hê. Sy is sterk, vreesloos in sommige opsigte, bevrees – as dit byvoorbeeld by emosies kom. Sy wys nie wat sy voel nie. Eintlik is haar hart bitter klein.”
In Nêrens, Noord-Kaap Deel II het Ans ’n storielyn van haar eie met Hanna (Nicole Holm) wat weer op die dorp kan woon. Die toneel waar Ans vir Hanna gaan sê sy moet by haar kom eet, wys ’n heel ander kant van Ans. Hoe het jy vir dié toneel voorberei?
“Vir my is die voorbereiding om jou teks te lees en lees en lees, en leer en leer en leer. Alles wat jy nodig het om te weet van jou karakter en hoe om dit te speel, is in die teks. As dit ’n goeie teks is, bygesê. So, dís stap een. En dan kom jy die dag op stel en dan luister en kyk jy na jou medespeler en jy reageer net met alle eerlikheid binne die karakter wat jy reeds ken. ’n Mens kan nie voorberei deur presies te weet hoe jy die lyn gaan speel nie, want hoe jou medespeler speel, bepaal hoe jy antwoord. Jy kan bíétjie weet, maar nie die fyner detail nie. En met Nicole Holm is dit regtig net ’n kwessie van reageer. Sy speel só mooi, dat sy eintlik al die werk namens jou doen.”
Selfs mense in die vermaakbedryf het al deurmekaar geraak met Marion Holm en Nicole Holm. Is julle familie?
“Ja, ons is familie. Haar pa is ’n neef of kleinneef van my oorlede pa. Dit was op my emmerskoplys om teenoor haar te speel en toe word dit waar. Dit was nog wonderliker as wat ek gedroom het!”
Wat was vir jou ’n hoogtepunt van Nêrens, Noord-Kaap?
“Die toneel in die kombuis van Ans se huis saam met Nicole. Dit was magic vir my as aktrise om dit te beleef. Hoe dit uitgekom het, weet ek nie. Ek weet net wat ek ervaar het, en dít was wonderlik.”
Jy was ook onlangs in Trompoppie – ’n heel ander rol. Ontwerpersklere, hare en grimering perfek, iemand wat amper die hele tyd voorgee, die teenpool van Ans. Het jy ’n voorkeur wanneer dit by rolle kom?
“Vir my is dit juis die teenpole wat my opgewonde maak. Ek wil so graag nie dieselfde wees in elke rol nie; ek hoop van harte ek kry dit ’n bietjie reg. Meg Ryan is wonderlik in elke film, ek geniet haar, maar sy speel net Meg Ryan. Sean Penn daarteenoor is twee verskillende mense in byvoorbeeld I am Sam en Milk. My droom is om eendag dáár uit te kom.”
Jy doen steeds jou eenvrouvertonings by feeste en teaters en dit wys weer nog ’n kant van jou talent. Vertel ons meer van jou nuwe een, Marion Monroe.
“Ek doen my eenvrouvertonings regtig bloot om vir myself werk te skep. As ek moet wag vir die foon om te lui, gaan ek lank wag. Ná my eerste rol in Dot & Kie. as Toetsie, het ek 28 jaar gewag vir Vlug na Egipte en Terug na Egipte as Dot. En toe weer nege jaar voor Trompoppie as Jill. Aanbiedinge vir verhoogwerk is nog minder. So ek móét my eie werk skep en ek gebruik bloot wat ek weet ek goed doen: stories vertel.
“Marion Monroe gaan basies oor die vraag, ‘Wat maak jou jy?’ Natuurlik bekyk ek die vraagstuk deur komiese stories uit die alledaagse lewe. Dit was hoeka op Nêrens, Noord-Kaap Deel II dat die een grip, Kaashief Tebus, my Marion Monroe genoem het, en daar het ek toe die titel vir my volgende eenvrouvertoning.”
Nêrens, Noord-Kaap Deel II saai op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.