Menu terloops
In Features [20 Sep 2023]

‘Binnelanders’ se Hykie Berg: ‘Alles wat in my lewe gebeur, is sodat ek kan groei’


’n Meer geliefde TV-skurk as Hykie Berg, wat die rol van die slinkse Conrad Bester in die gewilde kykNET-sepie ‘Binnelanders’ vertolk, sal jy nie sommer maklik vind nie. terloops gesels met Hykie oor sy lekkerste Conrad-storielyne oor die jare en sy nuwe opwindende rol in die werklike lewe as pa op 45.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom 'Binnelanders' aanlyn

‘Binnelanders’ se Hykie Berg: ‘Alles wat in my lewe gebeur, is sodat ek kan groei’

Hykie Berg het in 2008 vir die eerste keer in Conrad se skoene in Binnelanders geklim, maar het die sepie in 2011 verlaat nadat hy die vierde seisoen van Survivor SA gewen het. As At Koster (Hans Strydom) se enigste oorlewende nageslag, het Hykie egter in 2016 na die Binnelanders-stel teruggekeer om sy TV-familie se hospitaal oor te neem. Vir die afgelope sewe jaar hou Hykie en sy TV-pa vir kykers op die punt van hul stoele, want as daar ’n cover-up of bose plan is wat uitgevoer moet word, dan kan jy maar weet die Koster/Bester-manne is deel daarvan. 

Nes Conrad, was daar al baie hoogtepunte en struikelblokke in Hykie se persoonlike lewe. Maar elke veranderende seisoen gee vir albei meer dimensie – en dít is juis hoekom dit tans so heerlik is vir Hykie om vir ’n slag ’n sagter kant van Conrad uit te beeld. 

Conrad het onlangs amper verdrink en hoewel dinge nog touch and go is, het kykers reeds voor sy ongeluk ’n meer kwesbare kant van Conrad begin sien toe sy romanse met Nicolette begin blom het. 

Noudat hy uiteindelik (dalk) geluk gevind het, veg hy vir sy lewe in die hospitaal. Maar is dit dalk karma vir sy onlangse vendetta teen Chiron wat misluk het?

terloops gesels met Hykie oor sy lekkerste Conrad-storielyne oor die jare en sy nuwe opwindende rol in die werklike lewe as pa op 45.

Hykie Berg as Conrad Bester in Binnelanders.
Hykie Berg as dr. Conrad Bester en Clint Brink as dr. Steve Abrahams in Binnelanders. Foto: Verskaf

Ná soveel jare in dieselfde karakter se skoene, hoe verander jy jou vertolking?

“Soos wat jy ’n nuwe seisoen in jou lewe beleef en jy ouer raak, kom daar ’n ander kant wat jy in jou werk sit. Veral in acting, want jou emosionele intelligensie groei… of ek hoop dit groei.  

“Byvoorbeeld, toe my broer ’n jaar gelede oorlede is, en ek daai dag nog nege tonele moes skiet, was daai die eerste dag wat Conrad eintlik moes huil, want hy huil mos nie regtig nie. En hoe ’n mens dan daardie ervaringe gebruik om die regte emosies na vore te bring, wys hoe jou lewe absoluut ’n impak op jou spel het. Dit is seker die beste voorbeeld van hoe ’n mens dit wat in jou lewe gebeur, in die karakter bou.”

Conrad is nie altyd kykers se gunsteling-karakter nie, maar watter drie dinge het Conrad vir jou oor die jare geleer? En watter drie eienskappe van jouself het jy in die karakter probeer ploeg? 

“Die eerste ding wat Conrad vir my geleer het, is dat ’n mens wel familie nodig het, al dink jy nie altyd so nie. Jy het familie en mense wat jou lief het, nodig. Jy kan nie deur die lewe alleen gaan nie. Tweedens, geld is nie alles nie! Geld koop regtig nie geluk nie. En heel laaste, hoef jy nie ’n skurk te wees om te kry wat jy wil hê nie.

’n Mens is nie altyd gemotiveerd nie en ’n mens is verseker nie altyd positief nie, but it’s not about what happens to us in life that matters, its always how you choose to respond to what happens.

Hykie Berg

“Die goed wat ek oor die jare in die karakter probeer inbou het, was vir my verskriklik moeilik, want daar is net een manier hoe jy die karakter moet speel (of hoe hy geskryf is) en dit is dit. Maar ek wou gehad het die karakter moet meer empatie hê en dat hy meer moet smile en vriendelik wees. So met hierdie nuwe storielyn, is dit lekker dat die karakter meer compassionate met ander is.” 

Oor die jare het jy al verskeie interessante storielyne uitgebeeld en Conrad is altyd deel van die drama, maar watter storielyne was vir jou as akteur die lekkerste? 

“Die storielyne wat vir my die meeste beteken het, is heel eerste die storielyn toe At (my pa) aan midazolam verslaaf geraak het. Dit is ’n bensodiasepien en hy moes deur dit werk en onttrek om deur dit te kom. Presies op daai selfde tyd was daar mense in ons familie wat met dieselfde goed gesukkel het. So, it was very, very close to home. Ek het letterlik huis toe gery, dan deal ek met die goed daar en dan kom ek terug stel toe en dan gebeur presies wat in die werklike lewe gebeur het op stel. 

“ ’n Ander storielyn wat vir my uitstaan, was die storielyn toe ons in Nigerië deur die terroriste aangehou is. Ek was nog nooit in so ’n situasie met gewere of waar jy as gyselaar aangehou word nie. Ek het egter besef hoe real dit kan wees en die trauma waardeur mense kan gaan.

“Nog ’n storielyn waaraan ek onmiddellik dink, is toe Conrad Naomi se fallopiese buis verbrand het en sy nie kinders kon kry nie. Dit was ook very close to home, want my vrou het net een fallopiese buis en sy het tog swanger geraak. Ons het 1% kans gehad en my vrou het swanger geraak. Dit was ’n wonderwerk! Hulle sê art imitates life, and the other way around. Dit gebeur baie keer dat dit wat in die werklike lewe gebeur, ook op stel gebeur. Dit het defintief ’n impak op ’n mens.” 

Hykie Berg as Conrad Bester in Binnelanders.
Hykie Berg erken dat die Binnelanders-skrywers dit steeds soms regkry om hom met Conrad se storielyne te verbaas. Foto: Verskaf

Daar is seker bittermin wat jy nog nie gesien of gedoen het nie, maar kry die skrywers dit steeds reg om jou te verbaas met sekere Conrad-storielyne? 

“Kyk dit is maar nou sepieland en enigiets is moontlik. Wat vir my nogal verstom het, was in daardie Nigeriese storielyn toe dit uitkom dat Conrad Morse-kode ken. Hy was mos in die weermag en dit is waar hy dit geleer het en toe was ek soos ‘sjoe, dit is nou ’n ding!’

“ ’n Mens het nie regtig beheer oor die teks wat hulle vir jou karakter skryf nie. So hierdie nuwe storielyn wat tans uitspeel, is vir my lekker want daar het nog nooit so iets met Conrad gebeur nie. Ons skrywers is amazing en hulle kan jou altyd kom verras met iets.” 

Ek het van ’n vroeë ouderdom af geleer dat jou mindset ’n kombinasie is van die vyf mense saam met wie jy die meeste tyd spandeer. Your life will move into the direction of your most dominant thoughts. So as jy die heeltyd met crap besig is, you’re going to have a crappy life. So ek maak seker om myself met die regte mense te omring en ek is bewus van die goed waarna ek luister. I guard my heart and I guard my mind. Dit is verskriklik belangrik.

Hykie Berg

Elke pot het sy deksel, maar lyk my Conrad se deksel het iewers verdwyn… Hierdie oukan net nie geluk vind nie. Hoekom dink jy het Conrad nog nie sy trouvrou gevind nie? 

“Want hy is vol stront!

“Maar ek dink ook dit is een karakter wat hulle enkellopend hou. Franx Marx van Egoli het altyd gesê as jy trou, is dit verby met jou, want dan hou die fans nie meer van jou nie. Ek weet nou nie hoe waar dit is nie, maar Conrad is baie toe. Hy het ’n sagte kant, maar hy deel nie sy diepste geheime en seer met sy partners nie. Dit is baie oppervlakkige verhoudings wat hy het.

“Tracy was die een wat hom regtig verstaan het. Diep in sy hart is dit sy trouvrou, maar hy is nie baie goed met verhoudings nie. Sy werk is sy alles en hy is maar ’n workaholic soos sy pa.” 

Jy praat openlik in jou boek oor jou oorwinning teen dwelms en jy het ook die vierde seisoen van Survivor gewen. Maar wat hou jou gemotiveerd in elke seisoen van jou lewe? 

“ ’n Mens is nie altyd gemotiveerd nie en ’n mens is verseker nie altyd positief nie. But it’s not about what happens to us in life that matters, its always how you choose to respond to what happens. Dieselfde winde waai oor ons almal en dieselfde storms kom oor ons almal. Maar die verskil tussen mense wat sukses in hul lewens skep en dié wat nie, is absoluut hoe mens reageer. You are either a victim or the victor. Wanneer jy na ’n doughnut kyk, gaan jy of die doughnut of die gat sien. Dít het alles te doen met perspektief.

“Ek het van ’n vroeë ouderdom af geleer dat jou mindset ’n kombinasie is van die vyf mense saam met wie jy die meeste tyd spandeer. Your life will move into the direction of your most dominant thoughts. So as jy die heeltyd met crap besig is, you’re going to have a crappy life. So ek maak seker om myself met die regte mense te omring en ek is bewus van die goed waarna ek luister. I guard my heart and I guard my mind. Dit is verskriklik belangrik.

“Ek het lank gelede ’n filosofie in my lewe vasgemaak om te sê dat alles wat in my lewe gebeur, is sodat ek kan groei. Ek gee nie om wat gebeur nie, dit is sodat ek kan groei. En ek het besluit dat dít is waarop ek my lewe gaan bou.” 

Jy praat van jou dogtertjie, Leméh, as jou grootste prestasie tot dusver. Vir mense wat dink 40 is te oud, wat maak ouerskap op 45 beter as in jou 20’s of 30’s? 

“Die lekkerste rol is absoluut die rol van pa. As ek vroeër ’n kind gekry het, sou dit ’n gemors gewees het. So die Here weet presies wanneer ’n mens reg is vir dit. 

“Maar ek dink daar is ’n mate van volwassenheid wanneer jy nou ’n kind kry en ’n mens is meer ge-settle. Dit is nie asof jy 20 jaar oud is en hier kry jy ’n kind en nou moet jy nog deur die lewe hustle en bustle en deur die skool van hard knocks gaan om al die lesse te leer nie. So ek voel daar is ’n standvastigheid en fondasie wat al klaar gelê is.

“My pa het op 55 my half-boetie gekry, so daar is nog baie tyd vir nog kinders. Maar Leméh het ons lewens baie kom verryk. Daar is meer om na uit te sien, en ek kan my lewe nie sonder haar of my vrou indink nie.” 

Hoe verskil dag een Conrad van wie Conrad nou is? 

“Dag een Conrad was absoluut obsessive, compulsive, angstig, bang en all over the place met geen rigting nie. Conrad vandag is presies die teenoorgestelde en dit is die grootste verskil.” 


Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies