Op 26 Desember 2023 is dit die einde van ’n era – 7de Laan moet groet!
Die nuwe millennium het ’n nuwe opwindende era in Afrikaanse televisie na kykers se kassies gebring. Lank voor die Binnelanders-, Suidooster-, Arendsvlei- of Diepe Waters-gemeenskappe ons harte kom steel het, was daar een baie bekende straat wat jonk en oud vasgenael voor hul kassies gehou het. Ja, dit is niks anders as die gewilde – en geliefde – 7de Laan nie.
Jy is beslis ’n millennial as jou ma vir jou gewaarsku het om voor Louis van Rensburg se gewilde temalied begin speel het, binne die huis te wees. Toe 7de Laan in 2000 begin het, was dit nog redelik veilig vir kinders om met hul bure in die strate te speel en met hul fietse rond te ry, maar die Here behoed jou siel as jy nie voor 7de Laan begin het in die huis is nie!
Die oorspronklike temalied, die epiese oujaarsaand-partytjies, die over the top-modeparades, cool Oppiekoffie chicks, handsome hunks van die Heights en Hilda se ikoniese laken het deel van kykers se huise en harte geword.
En wie kan dan nou ooit Oubaas se gevleuelde woorde vergeet? ’n Persoonlike highlight is dan dié: “Almal weet Netta Nortjé, die Matrone van die tehuis vir beswaardes, is ’n bobaas koek”. Of dalk eerder: “Die mense het so baie van my gevleuelde woorde gehou, hulle’t my ’n staande ovulasie gegee!”
Kyk, 7de Laan en sy karakters was baanbrekers, maar ongelukkig is dit amper fluit-fluit-tyd vir die Laan en sy mense ná nagenoeg drie dekades.
terloops het met Nina Swart en Frank Rautenbach gesels wat daar was toe die kameras op dag een begin rol het, sowel as met Nobuhle Mahlasela wat nog ná 18 wonderlike jaar op stel daar was toe die kameras onlangs ophou rol het. Hierdie 7de Laan-akteurs gesels met ons oor hul gunsteling-herinneringe en hoe hierdie ikoniese show hul lewens verander het.
Hou ook dop vir ons onderhoude met Nazli George, Carina Nel en Deirdre Wolhuter waarin hulle ook hul herinneringe met ons deel.
Tiaan Terreblanche vertolk deur Frank Rautenbach
Hoe lank was jy op 7de Laan en wat onthou jy van jou eerste dag?
“Ek was daar op dag een van die show en was van 2000 tot 2005 deel van die rolverdeling. Ek onthou hoe opgewonde ons was. Toe ons begin het, was 7de Laan nog nie ’n ding nie. Ons was almal só opgewonde. Nie een van ons kon raai hoe groot 7de Laan sou word nie! Ek onthou veral hoe warm en vriendelik Wilna Snyman, wat my ma, Madel Terreblanche, gespeel het, teenoor my was.”
Watter storielyne was vir jou die lekkerste om te vertolk?
“Ek het altyd Tiaan se sake-shenanigans saam met Sandra Stutterheim (Heléne Lombard) geniet. Dit was altyd lekker! Die tonele wat ek saam met Waldemar Schultz, wat my broer Jan-Hendrick gespeel het, gedoen het was ook exciting. Veral wanneer hulle so koppe gestamp het. Dan was daar natuurlik al Tiaan se liefdesbelangstellings, dit was altyd lekker om te sien in watter moeilikheid Tiaan homself volgende met nog ’n liefdesdriehoeke sou vind.”
Wat onthou jy van jou laaste dag op stel?
“Ek het nooit regtig geweet dit gaan my laaste dag op stel wees nie, want ek het teruggekom. Voor ek Amerika toe is, het ek net gedink oor hoe dankbaar ek is vir hierdie geleentheid en om deel van hierdie familie te kan wees. Almal op stel was regtig soos ’n familie en ek is nou nog vriende met my 7de Laan-pêlle.
Een woord om jou tyd op hierdie legendariese TV-show te beskryf?
“As ek twee woorde mag gebruik – dankbaar en heerlik.”
Wilmien De Lange vertolk deur Nina Swart
Jy was in die eerste toneel wat op die kassie gewys het en het in 2004 die rol verlaat, behalwe vir ’n vinnige inloer so drie jaar gelede. Herken mense jou nog as Wilmien en wat onthou jy van jou eerste dag op stel?
“Ja, mense herken my nog as Wilmien, maar waar ek voorheen deur mense ge-mob is en nêrens kon gaan sonder ’n donker bril nie, is ek nou soos ’n niggie of iemand saam met wie mense grootgeword het. Dis soos, ‘Oh hi, Wilmien, hoe gaan dit met jou?’ en dan is ek soos, ‘Cool cool cool, dit gaan goed en met jou?’ Ek is Wilmien en daar is ’n nostalgiese vertroudheid en ’n warmte. Ek is deel van die familie en ek is soos ’n agter-kleinniggie vir almal.
“Wat vir my uitstaan, is dat ek absoluut niks geweet het nie. Ek het nie ’n motor of ’n blyplek gehad nie. Ek het Vrydag van die Kaap af gery om Maandag by hierdie nuwe ding te begin werk. Ek het ’n vriend se motor gebruik en het ’n sproet op my ken gehad wat 7de Laan voor die tyd met chirurgie laat verwyder het. Dit het amper onmiddellik teruggekom, maar dit is waaraan ek dink. Dit was rof en ek het regtig niks geweet nie, maar Vinette Ebrahim, David Minnaar, Wilna Snyman, en tot ‘n mate Gys de Villiers, was die ouer rolverdeling en hulle het my en die ander regtig tuis laat voel.”
Wat is jou gunsteling-herinneringe van jou tyd op 7de Laan?
“Wilmien en Zak (Robert Bester) het Griekeland toe gegaan in 2003 vir ’n groot storielyn en vir my as akteur was dit wow wow wow! Ek het van die begin af my tyd saam met Robert Bester baie geniet. Hy het as akteur gegroei en ek het redelik vroeg besef dat ek ’n regisseer wou wees. Ons groei as twee akteurs op ’n stel was seker een van my gunsteling-ervarings, sowel as toe Pierre van Pletzen (wat Oubaas vertolk het) vir my geleer het hoe om op multi-cam te direct.
“Ons het ook soggens word runs gedoen. Nico Panagio (wat die rol van George vertolk het), het hulle R2-runs begin noem. Nou R2 was nogal baie in daardie dae, so jy moes jou lyne geleer het en so vinnig as moontlik deur jou lyne gaan en as jy ’n fout gemaak het, moes die een wat die fout gemaak het die ander elkeen ’n R2 betaal. So ons het ’n R2-run elke oggend gedoen met al ons tonele. Niemand het ooit vir iemand betaal nie! Maar sjoe, dit was soos ’n honour. Ek hou vandag nog daarvan. As regisseur wens ek meer akteurs het R2-runs gedoen.”
Die Hillside-universe was baie relatable. Ek dink dit het op ’n kritieke tyd in ons politieke geskiedenis gekom en het vir ons as ’n land gewys wat ons kan wees.”
Nina Swart
Hoekom dink jy was 7de Laan so lank op die lug?
Ek dink ’n sepie het ’n begin en einde. Ek dink alle sepies is eintlik telenovelas en het ’n einde. Dit kan ’n 100 jaar of ’n 100 episodes wees. Ek dink dit het so lank gehou, want dit het jou laat dink aan ’n plek waar jy nog nie was nie en het aan die begin vir Suid-Afrikaners gewys wat hulle in Afrikaans kan wees. Die Hillside-universe was baie relatable. Ek dink dit het op ’n kritieke tyd in ons politieke geskiedenis gekom en het vir ons as ’n land gewys wat ons kan wees.”
Een woord om jou tyd op hierdie legendariese TV-show te beskryf?
“Ek het nie een woord om dit te beskryf nie. Ek weet dit het my loopbaan gemaak. Ek het baie op universiteit geleer en toe het ek baie op 7de Laan geleer. Danie Odendaal het my alles geleer. Hy het my toegelaat om ’n regisseur te word, iets wat ek al die afgelope 15 jaar voltyds doen. Life-changing is hoe ek dit sou beskryf. Dit is regtig waar ek alles geleer het, dit was seminal. Dis waar ek werksetiek geleer het en saam met verskillende akteurs en akteurs met verskillende vlakke van ervaring gewerk het. Ek het al die tegniese aspekte geleer, dit was ’n wonderlike tegniese omgewing. Ek het alles soos ’n spons op 24 (jaar oud) alles opgesuig. Dit was ’n leerskool. Dit was ’n unieke ervaring en unieke geleentheid om alles te leer.”
Aggie vertolk deur Nobuhle Mimi Mahlasela
Hoe lank was jy op 7de Laan en wat staan vir jou uit van jou eerste dag op stel?
“Op 12 Oktober was ek 18 jaar op die program. Vir my was dit ongelooflik om mense op stel te sien wat ek as kind op die TV gekyk het soos Pierre van Pletzen, Themsie Times (wat Maria vertolk het) en Annelisa Weiland (wat die rol van Hilda vertolk het).”
Wat is die grootse persoonlike lewensverandering wat jy tydens jou tyd op 7de Laan ervaar het?
“Die grootste persoonlike verandering waardeur ek gegaan het, was toe ek my ouma en tannie verloor het. Hulle was van die begin af daar en toe ek hulle verloor, het ek net gevoel, ‘Sjoe, julle gaan nie saam met my hierdie reis voltooi nie.’ Dit het my as mens en my rang in my stamboom verander. Ek het deel van die ouer groep van die gesin geword, so ek neem besluite en het meer verantwoordelikhede. Wanneer dinge gedoen moet word, raadpleeg mense my. So ja, dit het my lewe baie verander.”
Wat was jou mees embarrassing dag op stel?
“Sjoe, daar is te veel! Ek dink daar moet ’n spesiale episode van net bloopers wees. Dit sal epies wees. Maar een dag wat uitstaan, is ’n dag in my eerste jaar, tydens die groot mampoer-storielyn met Maria en Matrone. Ek was so moeg en het tydens middagete gaan slaap. Ek het verslaap en het eers wakker geskrik toe hulle Aggie se naam oor die interkom roep.”
Een woord om jou tyd op hierdie legendariese TV-show te beskryf?
“Magical!”