Menu terloops
In Onderhoude [18 Nov 2023]

Van groot dansflieks tot huismoles in ‘Suidooster’ – Duane Williams gryp élke geleentheid aan


Hy maak tans huismoles as die ryk sakeman Alex in ‘Suidooster’, en binnekort is die akteur Duane Williams ook in ‘Arendsvlei’ te sien. Hy gesels met terloops oor sy passie vir toneelspel, dans en sy hoop om ’n inspirasie vir ander te wees.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Sien vir Duane Williams in 'Suidooster'

Van groot dansflieks tot huismoles in ‘Suidooster’ – Duane Williams gryp élke geleentheid aan

As kind op die Kaapse Vlakte het hy dansflieks en komedies gekyk om hom uit die moeilikheid te hou. As daar ’n nuwe musiekvideo of dansfliek uitgekom het, het hy dit gekyk en die choreografie geleer. Min het die akteur Duane Williams toe geweet dat dít ’n saadjie sou plant en dat hy jare later self in groot internasionale dansflieks soos Honey 3: Dare to Dance, Bring It On: Worldwide en A Cinderella Story: If the shoe fits sou verskyn.

Maar dit was nie net die dansflieks wat sy aandag getrek het nie; hy het dieselfde met komedies en flieks gedoen en die akteurs daarin probeer na-aap. As hy nou daaraan dink, is dít beslis waar die wortels van sy liefde vir die kunste gegrawe is. 

“Ek het in Hillview grootgeword. Dit is ’n klein gebied agter Lavender Hill op die Kaapse Vlakte en dit was nie jou tipiese suburb met groot huise en mooi groen erwe nie. Dit was eintlik die teenoorgestelde en dit het my gemotiveer om iets van my lewe te maak,” sê hy. 

“Natuurlik het ek ook soos baie van die kinders in die straat sokker gespeel, maar in die strate is waar baie van die kinders kwaad aanvang, so ek het myself meeste van die tyd binne by die televisie besig gehou.”

Dit is daar voor die televisie in sy grootwordhuis waar hy akteurs se gesigsuitdrukkings en aksente begin na-aap het. Maar vandag is dit sy eie karakters wat kykers vermaak, kwaad maak of inspireer. 

Van 7de Laan tot Suidooster en Arendsvlei

Duane is bekend vir die rol van Vernon in 7de Laan, maar het ook die rol van Mark in die Netflix- treffer Blood & Water vertolk, asook die van Jack in die kykNET-drama Fraksie

Op die oomblik veroorsaak hy egter huismoles as die ryk sakeman Alex in die sepie Suidooster, maar sy nuutste karakter Calvin sal binnekort ook sy verskyning op die dramabelaaide telenovela Arendsvlei maak. 

Wat ook al Alex se bedoelings is, dit het vir groot drama in Suidooster die afgelope paar weke gesorg en vir Duane is dit juis vir hom die lekkerste wanneer sy karakters reaksies by kykers uitlok. 

Sonder om enige storielyne weg te gee, sê Duane dat hy vermoed die kykers sal verras wees om te sien hoe verskillend Alex en Calvin is. 

“Die storie op Arendsvlei gaan aan mense se hartsnare trek. Daar is ’n paar ooreenkomste tussen Alex en Calvin, soos dat hulle albei omgee vir die mense rondom hulle en hulle is altyd bereid om mense te ondersteun. Maar daar is ’n groot verskil in hul leefstyle,” vertel Duane oor sy twee nuutste karakters. 

“Calvin is ’n kunstenaar en ’n free spirt, terwyl Alex hierdie miljoenêr is met helikopters en besighede. Hy vlieg reg oor die wêreld net wanneer hy wil.”

Duane Williams Suidooster
Duane Williams as Alex in Suidooster. Foto: Verskaf

Op dié manier verskil sy karakters soos dag en nag, maar tog voel Duane daar is ’n sagter kant van Alex wat mense dalk miskyk. 

“Ek dink die grootste wanpersepsie van Alex is dat hy hierdie homewrecker is. Op die oog af mag hy dalk voorkom as iemand wat vol is van homself, en iemand wat moeilikheid wil veroorsaak. Maar ek dink nie hy is ’n slegte ou nie. Hy gee regtig om vir Lee-Ann en het ’n diep liefde vir haar. Wanneer jy verlief is, sal jy soms enigiets doen om tyd saam met daardie persoon te kry, maar ek dink nie hy wil aspris moeilikheid tussen haar en haar gesin veroorsaak nie.”

Wat ook al Alex se bedoelings is, dit het vir groot drama in Suidooster die afgelope paar weke gesorg en vir Duane is dit juis vir hom die lekkerste wanneer sy karakters reaksies by kykers uitlok. 

Dans eerste, toneelspel tweede natuur

Sy eerste liefde sal altyd dans wees, maar vir die afgelope paar jaar wou Duane doelbewus meer op acting konsentreer, veral omdat dans al so natuurlik en deel van sy liggaam se bewegings is. 

“Al doen ek dit vir lank nie, sal ek altyd weer kan inval by dans. Acting was nie altyd tweede natuur vir my nie en ek moes meer aandag daaraan gee om myself te verbeter. Ek dans steeds en sal elke nou en dan ’n klas vat of ’n klas aanbied, maar ek doen nie op die oomblik enige danswerk nie,” sê hy. 

“Ek is baie kieskeurig wanneer dit by dansprojekte kom. Ek sou graag weer aan ’n groot dansfliek wou werk, maar daar was lanklaas groot internasionale dansproduksies. As hulle môre een van daardie flieks maak, sou ek beslis deel daarvan wil wees.”

Wanneer dit by internasionale flieks kom, is dit glad nie iets vreemds vir Duane nie. Een van sy loopbaanhoogtepunte was sy tyd op die stel van Honey 3, wat in Kaapstad verfilm is, saam met die internasionale aktrise en sanger, Cassie.

Groter produksies, groter geleenthede

Duane meen dit is vir hom as akteur opwindend om te sien hoe die internasionale filmbedryf oor die afgelope paar jaar al meer van Suid-Afrikaanse akteurs en produksiespanne gebruik maak. Dit is ook bemoedigend om te sien hoe gereeld groot produksies in Suid-Afrika, en veral in Kaapstad, kom skiet. 

“Daar is wonderlike geleenthede wat kom met internasionale produksies wat in Suid-Afrika geskiet word. Dit gee plaaslike akteurs blootstelling aan internasionale regisseurs, maar dit gee hulle ook die geleentheid om aan verskillende aksente te werk en om aan produksies van reg oor die wêreld te werk. Wanneer regisseurs later Suid-Afrikaanse akteurs vir ander produksies nodig het, sal hulle meer mense en name ken en dit help jou dikwels om ’n voet in die deur te kry,” sê hy. 

Duane Williams Suidooster
Duane Williams gryp elke geleentheid aan wat sy kant toe kom, groot of klein, vertel dié akteur. Foto: Verskaf

“Jy mag dalk nie die hoofrol of ’n groot rol in die produksie kry nie, om eerlik te wees dit gebeur net met 1% (van plaaslike akteurs), maar ek glo dit sal in die toekoms verbeter, want dit is so lekker om te sien dat Suid-Afrikaners, en veral bruin mense, uiteindelik in spasies is waar hul talente internasionaal raakgesien kan word. Ongelukkig sal jy oorsee moet trek as jy regtig internasionaal ’n loopbaan wil hê soos dié van Neil Sandilands of Thuso Mbedu. Maar selfs as jy trek, is daar geen waarborg nie en dit is ’n groot opoffering.” 

Vir nou geniet Duane dit om sy loopbaan plaaslik te groei en om van ikoniese Suid-Afrikaanse akteurs en regisseurs soos Nina Swart te leer, al is die moontlikheid van oorsee trek nie heeltemal van die tafel af nie. Hy was onlangs ook in ’n Prime Video-produksie te sien, en sê daar is ’n paar opwindende projekte in 2024 waaroor hy nog nie kan praat nie.

Maar Duane gryp elke geleentheid aan wat sy kant toe kom, groot of klein, en hy hoop dat as kinders van die Kaapse Vlakte hom sien, hulle ook soos hy destyds geïnspireer sal word om groot te drome te laat realiseer. 


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies