Menu terloops
In Gons [13 Nov 2023]

‘Skerpioen’: Als wat jy oor dié nuwe telenovela moet weet


Die oorgeklankte telenovela ‘Skerpioen’, met plaaslike akteurs soos André Scholtz en Stephanie Baartman as stemkunstenaars, vervang die gewilde Turkse telenovela, ‘Verbode liefde’.

‘Skerpioen’: Als wat jy oor dié nuwe telenovela moet weet

Met Verbode liefde, kykNET&kie se gewilde oorgeklankte Turkse telenovela, wat tot ’n einde kom, is daar binnekort nuwe drama en intrige wat op sepiekykers wag. Skerpioen, wat soos die ander telenovelas op die kykNET-kanale in Afrikaans oorgeklank is, begin einde vandeesmaand op kykNET&kie. Verbode liefde se laaste episode word op 28 November uitgesaai.

Waaroor gaan Skerpioen?

Perihan Emgen woon onder een dak saam met haar dogter en skoonseun, Berna en Fikret, en hul kinders. Perihan, ’n vrou met matelose ambisie, het egter ’n geheim wat sy al lank probeer wegsteek: sy is ook die ma van Ferda wat sy op eenjarige ouderdom agtverlaat het. 

Ferda en haar dogter, Merve, het ’n haarkappersalon en is geliefd deur almal in die buurt. Ferda blameer egter vir Perihan vir al haar probleme en in ’n poging om haar straf, het Ferda ’n buite-egtelike verhouding met Fikret. Perihan probeer alles in haar vermoë om die verhouding te stop, maar slaag nie daarin nie. Ferda is terselfdertyd vasbeslote om te veg vir die lewe wat sy glo sy moes gekry het. 

’n Tragiese voorval verander egter almal se lewens en Perihan se groot geheim kom op die lappe. ’n Vete breek uit tussen Ferda en Perihan en dit het ook ’n invloed op Ferda se bure, Ipek en Aras. Kort voor lank word almal in hierdie stryd ingesleep. 

Skerpioen se oorspronklike Turkse titel is Akrep en dit is die eerste keer tussen 2020 en 2021 uitgesaai. Dit bestaan uit 91 episodes.

Die karakters

Skerpioen
Skerpioen, wat soos die ander telenovelas op die kykNET-kanale in Afrikaans oorgeklank is, begin einde vandeesmaand op kykNET&kie. Foto: Verskaf

Perihan Emgen (Demet Akbağ) het op sesjarige ouderdom ’n aardbewing oorleef waarin haar ma en twee sibbe dood is. Sy het toe saam met haar pa by familie gaan woon en is op 16 getroud met Ferda se pa, Idris. Sy het hom en klein Ferda egter verlaat omdat sy geglo het sy verdien ’n beter lewe. Perihan is later met Nurullah Emgen getroud en het nog ‘n dogter gehad. Nurullah is vroeg oorlede en Perihan het die eienaar van die besigheid Gevher İlaç geword. 

Ferda Kendirci (Evrim Alasya) is Perihan se dogter wat sy by Idris, haar eerste man, gehad het. Idris het haat in Ferda gekweek en vir Perihan vir alles blameer. Ferda het op ’n jong ouderdom in ’n haarsalon begin werk en ná haar pa se dood, is sy met die eienaar van ’n koffiewinkel getroud wat haar mishandel het. Sy was jonk toe sy haar dogter, Merve, gehad het en is later van haar man geskei en het haar eie salon oopgemaak. 

Fikret Gürsoy (Bekir Aksoy) is Perihan se skoonseun en die pa van haar drie kleinkinders. Hy is Perihan se finansiële bestuurder en dit is waar hy Perihan se dogter, Berna, ontmoet het. Perihan weet van Fikret se buite-egtelike verhoudings, maar op die oog af lyk dit asof Berna salig onbewus is van haar man se rondslapery. 

Aras Sağlam (Yusuf Çim) is Ferda se buurman en woon saam met sy suster, Ipek. Sy grootste droom is om vir Ipek, wat ’n hartkwaal het, gesond te sien. 

Duru Gürsoy (Aslı Melisa Uzun) is Perihan se oudste kleinkind. Sy het in Amerika studeer, maar is terug by die huis ná ’n tragiese gebeurtenis haar familie tref. 

Şahin Gürsoy (Taha Baran Özbek) is Perihan se kleinseun en Duru se jonger broer. Hy is agressief, sarkasties en arrogant en het nie ’n goeie verhouding met sy pa nie. 

İpek Sağlam (Esila Umut) is Aras se jonger suster wat Ferda grootgemaak het ná haar ouers se dood. Ipek het ’n hartkwaal en het hartoorplanting nodig.  

Merve (Müge Su Şahin) is Ferda se dogter. Sy het in haar ma se haarsalon begin werk ná skool en het meer as genoeg selfvertroue en ’n ontspanne persoonlikheid. 

Ece Gürsoy (Ahsen Türkyılmaz) is Perihan se jongste kleinkind. Sy en Şahin is baie na aan mekaar. 

Hacer Aldemir (Demet Gül) is die huishoudster van die Emgen-huishoudig. Sy het as kind saam met haar familie in Duitsland gewoon en is later met iemand 15 jaar ouer as sy getroud. Hy het egter van haar geskei sonder haar medewete en het volle toesig oor hulle seun, Furkan, gekry. Hacer se grootste droom is om eendag weer vir Furkan te sien. 

Ayşem Güngör (Beril Pozam) is Ferda se prokureur en dis net ’n kwessie van tyd voor sy haar merk kom maak. 

Wie is die plaaslike stemkunstenaars?

Die Afrikaanse stemkunstenaars wie se stemme gebruik word, is Bernice de Wet (Ferda), André Scholtz (Fikret), DeWaal Stemmet (Aras), Mari Molefe van Heerden (Berna), Stephanie Baartman (Duru), Claudia Jones (Aysen), Stephren Saayman (Sahin) en Alida Theron (Perihan). 


Skerpioen begin op 29 November om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en word Maandae tot Donderdae uitgesaai. Alle episodes sal op DStv Stream beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies