Menu terloops
In Onderhoude [22 Des 2023]

‘Dit was die beste terapie’ sê Dries Botha oor ‘Arendsvlei’-rol… ten spyte van dáái troue-skok


En daar los Beaty vir Kyle voor die kansel! ‘Arendsvlei’-kykers het na hul asem gesnak soos Kyle, vertolk deur Dries Botha, se droomvrou sy hart in stukke gebreek het. Maar, vertel Dries, dís beslis nie die laaste wat kykers van Kyle gesien het nie. Hy gesels met terloops oor hoe sy ‘Arendsvlei’-familie hom ná die dood van sy ouers versterk het en wat nou voorlê.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom nou 'Arendsvlei'

‘Dit was die beste terapie’ sê Dries Botha oor ‘Arendsvlei’-rol… ten spyte van dáái troue-skok

In ’n skokkende wending – en dalk tot talle se verligting – het kykers van die gewilde kykNET&kie-telenovela Arendsvlei gisteraand gesien hoe Beatrice (Jolene Martin) vir Kyle (Dries Botha) by die kansel los nadat Clint (Clayton Evertson) sy laaste pleidooi teenoor Beatrice gemaak het. 

Ons almal het al in die kerk gesit en so effens senuweeagtig rondgekyk as die dominee vir die mense sê, “speak now or forever hold your peace’’… Wel, hierdie keer het iemand opgestaan! Vir almal wat Team Clint was, was dit ’n sprokiesoomblik. Ja, Clint moes definitief vroeër wakker geskrik het (dit sou baie minder stres veroorsaak het), but better late than never

Almal weet dat Clint en Beatrice saam hoort. Nes Derek en Meredith. Of Oubaas en Hilda. Of Ross en Rachel. Sommige mense hoort net saam soos vis en tjips of ’n boereworsrol met sousige smoor. 

Maar wat van arme Kyle? Al was jy nie team Kyle nie, wil niemand tog by die kansel gelos word nie. Kyle het kykers verbaas met sy voorbarigheid. Die man het binne weke nadat hy in die Vlei aangekom het, besluit dat hy Beatrice wou hê en onmiddellik ’n move gemaak. 

Arendsvlei, Dries Botha
Hy gaan seker nog vir ’n tydjie sy wonde lek, sê Dries Botha oor sy karakter Kyle nadat hy by die kansel hoog en droog gelos is. Foto: Verskaf

Hy gaan seker nog vir ’n tydjie sy wonde lek, maar gelukkig vir kykers is dit nie die laaste wat hulle van sy karakter gesien het nie, sê akteur Dries Botha. 

terloops het met dié Vrystaat-boorling gesels oor sy karakter se love triangle, sy skuif na sepies, sowel as hoe sy lewe verander het ná die dood van sy ouers. 

Van Suidooster tot Arendsvlei

Hy is veral bekend vir sy rol as Malherbe in die dramareeks Erfsondes, en was ook al te sien in sepies soos Egoli en 7de Laan

En net vroeër vanjaar het hy die tonge op sosiale media laat klap as die slinkse James in Suidooster. Saam het hy en sy vrou, die bose Orpa (Marisa Drummond), kerke geteiken en gemeentes van duisende rande beroof. Dié storielyn het groot reaksie gelok en vir baie kykers ontstel. 

“Ek was in die Vrystaat toe die storielyn uitspeel. Ek moet erken dat ek ’n paar keer met ’n sonbril en hoed winkel toe moes gaan. Dit was wonderlik om saam met ’n gesoute akteur soos Marisa te kan speel, maar sjoe, die mense was darem kwaad vir James en Orpa,” vertel hy. 

“Ons het geweet dit is ’n sensitiewe onderwerp. Ongelukkig gebeur hierdie dinge en dit was wonderlik om ’n bietjie in daardie wêreld te kan speel. En om mense bewus te maak van die gevare – selfs binne ’n kerkomgewing.”

Uiteindelik die good guy

Maar James is nie die enigste karakter wat mense omgekrap het nie. Vir aanhangers van Arendsvlei, was dit ewe ontstellend toe ’n nuwe speurder vir Beatrice by Clint probeer afvry het. 

“Ek moet sê dit was lekker en effens intimiderend om met hierdie storielyn in te kom. Ek het vinnig agtergekom dat kykers nogal erg oor Beatrice en Clint se verhouding was. Selfs op stel was daar elke nou en dan iemand wat jammer gevoel het vir my en toe maar op Kyle se span was. 

Jolene en Clayton het diep in kykers se harte geklim met hul wonderlike vertolking van hierdie verhouding, so ek is ook bly dat hulle saam opgeëindig het, maar natuurlik is Kyle se hart stukkend

Dries Botha
Arendsvlei, Dries Botha
Verlief… maar toe kom die troue-skok! Foto: Verskaf

“Jolene en Clayton het diep in kykers se harte geklim met hul wonderlike vertolking van hierdie verhouding, so ek is ook bly dat hulle saam opgeëindig het, maar natuurlik is Kyle se hart stukkend,” vertel hy. 

“Ek is nogal mal oor hierdie karakter, want dit is die eerste keer dat ek ’n goeie ou speel. Ja, hy is baie direk en het ’n bietjie in Clint se slaai kom krap… Maar in wese is hy ’n goeie en opregte ou. Gewoonlik is ek maar ’n skurk of ’n slinkse karakter. Dit was nogal lekker om vir ’n verandering ’n goeie ou te kan wees.”

Dries sê hy voel mense gaan nog sien dat Kyle nie so ’n slegte ou is nie en dat daar dalk nog ’n paar interessante kinkels vir sy karakter wag. 

Arendsvlei toe die ‘beste terapie’ ná hartseer

Dries het aan die begin van 2022 sy ma verloor, en moes vroeër vanjaar ook sy pa groet. Die dubbele verlies van sy ouers so kort na mekaar, was ’n groot verandering in Dries se lewe, veral omdat hulle so ’n hegte familie was. Sy rol op Arendsvlei het onverwags oor sy pad gekom, maar hy sê die tydsberekening kon nie beter wees nie. 

Hulle het vir my ’n familie-omgewing gebied in ’n tyd toe ek baie hartseer en eensaam gevoel het. Om deel van Arendsvlei te word, was die beste terapie.

Dries Botha

“Op hierdie stel is dit regtig ’n familie-omgewing. Meeste van die cast en crew is al sedert dag een deel van hierdie show. Almal het soveel respek vir mekaar en deel behind the scenes hul lewens met mekaar. Mens sou dink dat dit snaaks sou voel vir iemand om so laat die show te join en veral omdat mense nou weet dat dit binnekort tot ’n einde kom, maar dit was regtig die teenoorgestelde,” vertel Kyle. 

Dries Botha Arendsvlei
Sy rol op Arendsvlei het onverwags oor sy pad gekom, maar Dries Botha sê die tydsberekening kon nie beter wees nie. Foto: Verskaf 

“Ek dink dit was uplifting vir die span om ’n nuwe energie te hê, veral omdat dit so ’n bittersweet tyd vir almal is. Vir my was dit absoluut wonderlik om hierdie geleentheid te kry en om met hierdie mense te kan werk. Hulle het vir my ’n familie-omgewing gebied in ’n tyd toe ek baie hartseer en eensaam gevoel het. Om deel van Arendsvlei te word, was die beste terapie.”

Aanvanklik was hy nie seker of hy emosioneel in die regte plek was om die rol aan te pak nie. Toe hy egter die karakter se naam sien, was dit vir hom soos ’n teken. 

“My karakter se van is Borman en my ouerhuis in Kroonstad is steeds in Bormanstraat. Ek het dit as ’n teken van die universe af gesien. Ek is so bly dat ek hierdie geleentheid aangegryp het,” vertel hy.

Hello Dolly is waar vermaakgogga byt

Dries se liefde vir vermaak het nog voor sy skoolloopbaan begin en hy is elke dag dankbaar dat hy sy passie kan uitleef. Hy begin lag as hy dink aan die presiese dag toe die vermaakgogga hom gebyt het. 

“Ek het in Kroonstad grootgeword en daar is mos nou nie veel om te doen nie. My hele familie is in landbou, maar my ma was mal oor teater. Ek onthou daardie dag soos gister, toe my ma my na ’n middagvertoning van Hello Dolly geneem het. Ek is seker daar was ander shows soos Wielie Walie, maar vir een of ander rede het my ma besluit dat haar seuntjie Hello Dolly moet gaan kyk. Daardie magic was vir my te veel én net genoeg. Van daardie dag af het ek geweet ek gaan acting swot.”

Hy wou ook deel wees van dié magic, maar soos baie ander ouers het hulle hom aangeraai om eers iets anders te gaan swot. Hy het vir ’n rukkie grafiese ontwerp en besigheidskommunikasie gaan swot, maar dit het nie lank gehou nie. 

“Ek wou nie my tyd mors op iets wat ek nie wou doen nie. Ek is Pretoria toe om drama te swot and never looked back!

“My ouers was nog altyd trots op my werk. Die laaste boodskap van my pa op ons familie WhatsApp-groep is ’n berig wat hy gedeel het oor my en Marisa tydens die hele Orpa-fiasko. My pa was so geïnteresseerd in die reaksie op daardie storielyn en was altyd baie trots op my werk. Met dié dat ek die Borman-konneksie met hierdie karakter het, laat dit vir my voel asof ek steeds my ouers trots maak en naby my het.”

Mielies en biltong roep hom terug

Ná sy studies het die avontuurlustige Dries die buiteland aangepak en vir ’n rukkie in Engeland gewoon. Hoewel sy enigste sussie vandag nog daar woon, sê hy die mielies en die biltong het hom terug Suid-Afrika toe geroep. 

“Ek is gelukkig dat ek die ondervinding het van internasionale werk. Dit is ’n hele ander dinamika. En al is die Britse pond lekker en sterk, is daar vir my persoonlik nie ’n beter plek as Suid-Afrika nie. Ja, ons het groot probleme in ons land, maar elke land het maar sy probleme. Die prag van ons land, die mense, ons mielies en biltong is vir my genoeg.”

Ná ’n dol jaar, sien Dries uit om in die stilte van sy grootwordhuis in Bormanstraat te gaan ontspan hierdie Kerstyd. 

“Ons hele familie is in die Kaap, so dit gaan seker my eerste Kersfees in 20 jaar in Kroonstad wees. Dit gaan beslis anders wees en ek weet die verlange sal daar wees. Maar ek weet ook my ouers is altyd saam met my,” sê hy. 

“Ek is mal oor stadslewe en bergklim en al daardie lekker dinge van die Kaap. Maar hierdie feestyd sien ek uit om vir ure langs die vuur te kuier en om in die swembad te wees met great vriende wat al soos familie voel.”


Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook opCatch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies