As jy ’n tweede Mariaan soek, moet jy eerder tou opgooi. Diepe Waters se Sandra is eerder dié 7de Laan-karakter se teenoorgestelde meen Deirdre Wolhuter, die aktrise agter albei karakters. Ons los dus maar die gekonkel vir Zelda (Sandi Schultz) en Gys (Justin Strydom). Anders as Mariaan is Sandra saggeaard, onskuldig en effens kwesbaar.
Hul voorkoms verskil ook soos dag en nag. Waar Mariaan nooit die huis sonder grimering en stilettos verlaat het nie (behalwe toe sy in die tjoekie was), is truie, praktiese brille en gemaklike skoene meer Sandra se vibe. Jy kan nou nie juis verwag dat sy ’n fashionista in ’n inrigting moet wees nie!
’n Mens sou dink dat dit vir Deirdre ’n moeilike aanpassing sou wees om ná soveel jare in Mariaan se stylvolle skoene in ’n broos karakter soos Sandra se wese te moet klim, maar sy vertel dat dinge nie beter kon uitwerk nie.
“Om sommer na ’n ander dominante persoon soos Mariaan te spring, kon nogal tricky gewees het. Maar omdat hulle so baie verskil, was dit nogal lekker om ’n rol soos Sandra te kry. Daar is geen manier dat mense enige deel van Mariaan sou sien nie,” sê sy.
“Mariaan kan baie donker en dominerend wees, so ek het altyd ’n punt daarvan gemaak om haar af te skud die oomblik wat hulle cut geskree het. As ek by die werk aankom in my jeans, tekkies en wilde hare, is ek steeds Deirdre. En dan soos ek in die stoel sit en hulle my gesig begin doen en my hare begin kam, word ek Mariaan of Sandra of wie ook al dit is. Jy gaan deur ’n metamorfose om in daardie rol te klim en wanneer ek op die (stel)vloer stap, is ek Mariaan of Sandra.”
Nét Deirdre by die huis
So belangrik soos wat haar proses is om ’n karakter te word, is dit nog belangriker vir haar om as Deirdre te kom en te gaan. Die oomblik wat hulle klaar geskiet is, trek sy haar eie klere aan en haal sy al die grimering af.
“Dit is hoe ek weer uit ’n karakter klim en wanneer ek by die deur uitstap, is dit Deirdre wat huis toe gaan. Dit is so belangrik om die onderskeid tussen akteur en mens te maak. Ek dink dit is hoekom ek nog nooit deur die publiek sleggesê is nie, al was Mariaan ’n skurk,” deel sy.
“As mense my op straat gekry het, kon jy sien hulle is so ’n bietjie verward. Dit lyk soos Mariaan se gesig, maar dit lyk nie soos sy nie. Ek is altyd in my jeans en tekkies, so mense kon onmiddellik die verskil tussen akteur en karakter sien. En dan het hulle besef dit is net ’n rol wat ek speel.”
Deirdre sê Sandra het nie ’n slegte been in haar liggaam nie en haar amperse kinderlike uitkyk op die lewe maak haar interessant. Die feit dat sy meer as een alterego het, maak dit vir haar nog meer opwindend om hierdie rol aan te pak, meen sy.
Ons almal settle in ’n ritme en haat verandering, want jy weet dit is altyd daai ding van better the devil you know than the devil you don’t. Maar dit is daardie mentaliteit wat mense dikwels gevangene hou. Dit is hoe mense in ongesonde verhoudings of werksplekke bly. As jy nie weet wat aan die anderkant is nie, kan dit jou baie nervous maak, maar as akteur is jou bestaan (in) verandering (gegrond).
Deirdre Wolhuter
Spel wat jou onkant vang
Deirdre se rolspel is so oortuigend dat ek byna van my stoel afgeval het toe Sandra se bose alterego, Esther, nou die dag haar verskyning gemaak het.
Dié aktrise het net begin lag toe ek my reaksie met haar gedeel het. Ek is glo nie die enigste persoon wat onkant gevang is deur Esther se verskyning in die spieël nie.
“Deesdae doen mense nie meer oudisies op dieselfde manier nie. Meeste van die tyd is dit maar self-tape oudisies, wat jy opneem en stuur. Toe ek vir hierdie rol moes oudisie, het ek gereël dat my 7de Laan-suster en vriendin, Amor Vittone, vir my kom help om dit op te neem. Ek het toe juis daardie toneel waar Sandra skielik in Esther verander vir my oudisie opgeneem. Amor was so geduldig en ek het toe sommer ’n lekker celebration vir ons met vonkelwyn daaruit gemaak. Amor het nie geweet wat kom nie en toe ek skielik van Sandra na Esther spring, het die foon so geruk en jy kon die skok op haar gesig sien. Dit was nogal baie snaaks,” vertel Deirdre laggend.
“Die regisseurs by Diepe Waters is ongelooflik en hulle lewer wonderlike insette. Baie keer dink regisseurs dat akteurs wat nou al jare in die bedryf is nie insette of notas nodig het nie, maar dit is nie waar nie. Om eerlik te wees, voel ek dit is selfs meer belangrik vir akteurs soos ek wat dalk vir jare in ’n spesifieke karakter se skoene was en nou iets heeltemal anders wil probeer. Hulle vergeet jy speel van binne, maar hulle kyk van buite. Daardie input van hulle is so belangrik vir jou spel.”
Verandering ‘áltyd goed’
Verandering op enige ouderdom kan ongemaklik wees, maar Deirdre sê sy was nog nooit bang vir verandering nie – al kom dit met hartseer soos die onverwagse einde van 7de Laan.
“Ons almal settle in ’n ritme en haat verandering, want jy weet dit is altyd daai ding van better the devil you know than the devil you don’t. Maar dit is daardie mentaliteit wat mense dikwels gevangene hou. Dit is hoe mense in ongesonde verhoudings of werksplekke bly. As jy nie weet wat aan die anderkant is nie, kan dit jou baie nervous maak, maar as akteur is jou bestaan (in) verandering (gegrond),” sê sy.
“Net omdat jy vir iets oudisie, beteken nie jy gaan dit kry nie en elke rol kom op een of ander manier tot ’n einde. Ons het nooit vaste werk nie. Jy mag dalk lank op een projek werk, maar alles kom tot ’n einde. Ek dink dit is hoekom akteurs verandering baie beter as meeste mense hanteer. Ek sê altyd, you have to learn to dance on sliding carpets.”
Deirdre glo sterk dat ’n mens sonder verandering sal stagneer. Dit is nie altyd lekker nie, maar sy staan voor in die koor om te sê dit is áltyd goed. Sy vat alles in die lewe soos dit kom en dit is juis hoekom sy nie in Nuwejaarsvoornemens glo nie. Deirdre is oortuig dat as jy nie alles lank vooruit beplan nie, laat dit ruimte vir spontaniteit en minder teleurstelling.
“Ek go with the flow, raak stil en dink diep. Dit is hoe ek alles in die lewe en in my werk aanpak. Verandering gaan altyd daar wees, maar vat dinge soos dit kom.”
Wortels in SA
Vir Deirdre, wat in Kanada gebore is, is daar net een verandering wat te groot sal wees en dit is om uit Suid-Afrika te verhuis.
“Ek het 100% nog nooit dit oorweeg nie. Ek sal soos ’n vis uit water wees in ’n Amerikaanse of Kanadese konteks. Ek verstaan Suid-Afrika en ons Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. My wortels is hier en jy voel altyd deel van ’n groter gemeenskap,” sê sy.
“Op elke stel is daar iemand saam met wie jy jare gelede gewerk het, of dit nou ’n akteur of grimeerkunstenaar is. Waar ook al jy gaan, is daar ’n sense of coming home. Ek is ook geseënd om nog ouers te hê. My pa is vanjaar 92 en my ma 84. Dit is ’n blessing en ek sal hulle nooit agterlaat nie. Niks is vir my belangriker as verhoudings nie. Ek sal nooit alles opgee vir ’n loopbaan elders nie, daai verandering sal te groot wees. Ek is geseënd en gelukkig met alles wat ek het.”
Sien vir Deirdre Wolhuter as Sandra/Esther in Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.