Menu terloops
In Features [26 Des 2023]

Ons kyk terug na die lekkerste storielyne en skandale op ‘7de Laan’  


Dis tyd om te groet. Maar dis nie net die bekende ‘7de Laan’-deuntjie wat kykers gaan mis nie – daarom kyk ons ook terug na van die skokkendste, sousigste, wildste, vreemdste en soms absurde storielyne wat oor die afgelope 23 jaar op ‘7de Laan’ uitgespeel het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Ons kyk terug na die lekkerste storielyne en skandale op ‘7de Laan’  

Vandat die eerste episode op Dinsdag, 4 April 2000 uitgesaai is, het hierdie cult classic sepie aan miljoene kykers se hartsnare getrek… Of dit het mense só warm onder die kraag gemaak dat die tonge geklap het. Boonop het 7de Laan ook verskeie toekennings op sy kerfstok. 

Daar’s baie goed wat eie is aan 7de Laan – dink maar net aan Hilda (Annelisa Weiland) se serpies en Oubaas (Pierre van Pletzen ) se malapropisme. Dan is daar natuurlik Ryno (Chris Vorster) se vele troues, en Paula (Diaan Lawrenson) se je ne sais quoi. Ook dan Ivy (Nazli George) se groot hart, Aggie (Nobuhle Mimi Mahlasela) se glow up, en Vanessa se verskillende “eras”.

En wat sou ’n sepie wees sonder skurke soos Sandra Stutterheim (Heléne Lombard), Gita McGregor (Jo da Silva), Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter) of Bonita Basson (Hildegardt Whites)? Boring! That’s what! 

7de Laan
7de Laan se rolverdeling het oor die jare al baie verander. In hierdie foto was Neil Sandilands nog deel van die span as Bart! Foto: Verskaf

Fluit-fluit

In Julie vanjaar het die SAUK aangekondig dat hierdie geliefde sepie ná 23 jaar eindig, met die laaste episode op 26 Desember 2023.

So voordat die bekende deuntjie vir die laaste keer in kykers se sitkamers speel, kyk ons op die lekkerste, skokkendste, en soms belaglikste storielyne van die afgelope twee dekades.  

Met soveel oomblikke om van te kies, het terloops toe uiteindelik op hierdie agt storielyne besluit. 

1

Dezi verloor haar sig 

Mense wat nie in die konsep van ‘’love is blind” glo nie, het obviously nog nooit 7de Laan gekyk nie. Want kyk vir Amorey (Kristen Raath) en Tjattas (Rikus Strauss) wat mekaar weer gevind het nadat Amorey haar sig verloor het. Kykers wat tans 7de Laan kyk, sal weet dat Amorey onlangs van ’n perd afgeval het, haar kop gekap, en toe haar sig verloor het.

Maar voordat Amorey en Lesedi (Keabetswe Motsilanyane) hul sig verloor het, was daar Dezi. Wie kan dan nou vergeet toe Dezi Terreblanche (Elma Postma) destyds weens ’n hou teen die kop in ’n koma beland het en toe later blind wakker geskrik het. Dit was hartverskeurend en dit het regtig aan mense se hartsnare getrek. Dit was totdat Dezi haar sig terug gekry het, haar man verneuk het, die groot liefde van haar lewe verloor het en toe soos ’n dief in die nag uit Hillside uit verdwyn het. Praat van ’n rollercoaster ride!

2

Die ultimate liefdesdriehoek 

Die Welmans mag dalk tans 7de Laan se mees agterbakse glans familie wees, maar hulle is niks in vergelyking met die Terreblanche-familie nie. Want ’n meer statige en toxic TV-familie sal jy nie sommer kry nie. Die ikoniese Theron en Terreblanche-winkel was destyds deur die twee broers Tiaan (Frank Rautenbach) en Jan-Hendrick (Waldemar Schultz) bestuur, maar die winkel was nie die enigste ding wat hulle moes deel nie…

Albei broers was ook smoorverlief op Petra (Yvonne van den Bergh). Petra was lief vir albei broers, het swanger geraak en dit het later uitgekom dat Tiaan die pa was. Dít terwyl sy nog met Jan-Hendrick getroud was. Petra en die baba het tragies gesterf en nadat sy ma van die geheim en sy ander planne teen die familie uitgevind het, is Tiaan uit die huis geskop. Dit was ook toe die einde van Tiaan se tyd in die Laan… vir eers. 

3

Tiaan kom ná 17 jaar terug 

Toe Tiaan in 2005 die Laan verlaat het, was sosiale media nog nie regtig ’n ding nie. Maar 17 jaar later het Frank omtrent vir sosiale media aan die gons gehad toe Tiaan in 2021 en 2022 soos ’n warrelwind deur die Laan gewaai en amok gemaak het.

Tiaan het in 2021 in Hillside opgeduik nadat Mariaan en haar man geraamtes in die ou Terreblanche-huis, waarin hulle tans woon, ontdek het. ’n Mens sou nie verbaas wees as dit een van die Welman se vele geraamtes was nie, maar Tiaan was toe juis op soek na sy ma Madel (Wilna Snyman). Madel het glo spoorloos verdwyn en haar vervreemde seun wou closure kry ná al die jare. Frank het kykers toe weer verlede jaar verras toe hy sy ma se moordenaar wou opspoor. Maar once a bad boy, always a bad boy… Tydens sy kuier het die oorspronklike hartebreker van die Laan sy charm aangedraai en in Fikani (Nicholas Nkuna) en Alexa (Carina Nel) se huwelik kom krap. 

4

’n Epiese liefde 

Voor Bruynwaves se sukses, was daar Kyriakis en De Lange, die corporate waar almal wou werk. Die dynamic duo agter hierdie brand was twee van dié sepie se mees geliefde karakters: Wilmien (Nina Swart) en George (Nico Panagio). Deesdae is Nina ’n beroemde regisseur en Nico is natuurlik Suid-Afrika se eie Jeff Probst en aanbieder van Survivor SA.

George en Wilmien was besties turned lovers. George het destyds romantiese gevoelens vir sy beste vriendin en sakevennoot Wilmien ontwikkel, maar het verloof geraak aan sy meisie, Karien (Christi Panagio). Wilmien het later met Marko (Francois Lensley) begin uitgaan, wat groot drama veroorsaak het. Marko en George het letterlik vir Wilmien se liefde baklei en in regte rom-com styl het Karien toe vir George gelos. Hy en Wilmien kon toe ’n boot koop en vir die res van hul lewens die wêreld oor seil. Dinge het dalk nie vir George en Karien uitgewerk nie, maar Nico en Christi is in die werklike lewe al vir jare getroud en het twee dogters. 

5

Felicity en die Mientjies-manne

Voordat Xander (Theodore Jantjies) en Vanessa (Ingrid Paulus) die Laan se power couple geword het, was Felicity (Melanie du Bois) ook in die prentjie. Felicity was in ’n verhouding met Xander, maar toe verneuk hy haar met Vanessa. Dit was nadat Felicity, wat aanvanklik met Xander se broer Vince in ’n verhouding was, vir Vince gelos het omdat Xander by haar aangelê het. Vince het ook toe intussen vir Felicity verneuk. Sy was later ook met hul pa, Neville Mientjies, in ’n verhouding.

Ja-nee, kyk, dit was goeie tye, want Felicity was beslis die Laan se eie Brooke Logan van verhoudings.  

6

Waar is Karmen?

Vir maande het kykers gewonder of hulle ooit weer vir klein Karmen (Gabriella Linton) sou sien nadat sy tydens haar ouers se spesiale dag verdwyn het. Vanessa en Xander het tydens 7de Laan se 4000ste episode hul troubeloftes hernu, maar hul mooi dag het in ’n maande lange nagmerrie ontaard toe hul dogter soos mis voor die son verdwyn het. Die hartseer en stres het stelselmatig hul huwelik laat verbrokkel. Maar Karmen is toe wonderbaarlik in ’n informele nedersetting opgespoor. Hettie (Karin van der Laag) en haar seun Tjattas (Rikus Strauss) het Karmen vir maande as hul eie dogter en suster aangehou. 

7

Orange is the new black 

Die tonge het behoorlik geklap toe daar in ’n stadium ’n hele gang van vroue in die tronk was. Mariaan, Bonita, Amanda (ook vertolk deur Carina Nel), Natalie (Danielle Deysel) en Charmaine se evil tweelingsuster Vivian (Vinette Ebrahim) was toe almal in die tronk. Suster Miems, wat eintlik Emma (Bertha le Roux) is, het ook ’n verskyning gemaak. Daar was net die een gekonkel na die ander. Maar my gunsteling-storielyn uit die tronk was die een toe Hillside se grootste skelms kragte saamgespan het om Erika (Corine du Toit) landuit te smokkel. Daai prison break was een vir die boeke met ’n high speed chase en die een belaglike toneel ná die ander. Watter tronkvoël staan soos ’n hitchhicker langs die pad? 

8

Is hulle regtig dood? 

Hillside het beslis oor die jare met die gewilde Amerikaanse sepie Days of our Lives gebattle, want daar was al vier feniks-gevalle. Ek het letterlik op my rug gelê en kraai van die lekkerte toe Vanessa sê: “Wat gaan aan in Hillside? Eers was dit Neville, toe Marvin en Werner wat uit die dood uit terugkom. Nou Xander! Wie is volgende… Madel Terreblanche?” Beter kon ek dit nie stel nie. Dit was net te veel toe Werner en Marvin die hele gemeente op Marvin se seun se troudag verras het. Hulle het by die kerk ingestap asof niks gebeur het nie. #unbelievable

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies