Menu terloops
In Recaps & Resensies [25 Mar 2025]

‘Niggies’: Egtheid en menslikheid in elke skoot vervat


Die waremisdaadreeks ‘Niggies’ begin hierdie week op kykNET en hoewel dit moeilike kykstof is, word dit in die hande van vernuftige storievertellers ’n moet-kyk wat wys misdaad is allermins ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk 'Niggies' op DStv Stream

‘Niggies’: Egtheid en menslikheid in elke skoot vervat
Kyk lokprent

Dit is nie maklik om Niggies te kyk nie. 

Daarvoor voel die beige-bruin voorkamers en linoleum-kombuistafels; die vaal-verwaarloosde Vrystaatse-vlaktes en hartseer dorpies, en die Sondagmiddag-familie-kuiers op die grasperk, met ’n huiswerker wat op die agtergrond opruim, net te bekend. 

Dalk is dit omdat baie van ons van so veertig plus nog ’n tyd onthou toe dinge só was. En omdat daar iets geweldig bekend, en ongemaklik, in ’n mens se binneste kom lê terwyl die gebeure in dié puik nuwe reeks, wat vandeesweek op kykNET begin, ontvou.

’n Eerste vir kykNET

Niggies is as waremisdaadreeks ’n eerste vir kykNET en is gegrond op die ontvoering en moord van twee niggies, Issie Fourie en Petro Nel, in Odendaalsrus in 1966, ná ’n besoek aan die dorpswembad. 

Niggies
Dries Fourie word deur Jacques Bessenger vertolk. Foto: Verskaf

Issie se broer André het gesweer om die skuldige te vang en Niggies vertel nie net die verhaal van hoe die twee meisies se brutale moord ’n familie laat breek nie; maar fokus ook op die impak wat die gebeure op André gehad het en hoe dit sy lewe ’n voorheen ondenkbare koers laat inslaan het.

Drie van die vier episodes wat vir resensering beskikbaar gestel is, speel in 1966 af, terwyl die tydsprong na die 80’s in die vierde episode gemaak word. Die verskillende tydvakke is soos tydskapsules wat die tydsgees perfek uitbeeld – van die kostuums, deur Mariechen Vosloo, tot die stelinkleding en musiekkeuses, Chris Lotz se kinematografie en kleurgradering (die redigeerder was Leon Visser) en die oorspronklike klankbaan, gekomponeer deur Pierre-Henri Wicomb. Rocco Pool was die produksie-ontwerper.

Die vingerafdruk van teatermense

Die bronmateriaal leen dit tot melodrama en sensasionalisering. Danksy die vernuftige skryfwerk van die teaterskeppers Saartjie Botha en Philip Rademeyer, en Jaco Bouwer se slim regie, is daar egter ’n egtheid en menslikheid omtrent Niggies

Dat hulle baie mensekennis het en die komplekse binnewerkinge van families verstaan, is ooglopend, veral in die manier hoe die toutjies wat alles bymekaarhou ontrafel namate wantroue en vooroordeel inskop.

Elke skoot vertel ’n storie, of bevat ’n stukkie simboliek: twee skoolrokkies wat nooit gedra sal word nie, hang gestryk en reg vir die skooljaar wat die volgende dag sou begin; twee draad-tuinstoele, vrolik geverf, staan leeg voor die huis; twee lykies, onder wit lap, word van die moordtoneel af weggedra.

Jaco is bekend vir sy grensverskuiwende teaterwerk, maar ook vir reekse soos die internasionale treffer Spinners. Saartjie is ’n veelbekroonde en invloedryke dramaturg wat in 2002 die teatergeselskap Vleis, Rys en Aartappels saam met Marthinus Basson en Bouwer op die been gebring het om onafhanklike Afrikaanse verhoogwerk te skep. Philip is op sy beurt die skrywer van teaterwerk soos Opdrifsel. Sy nuutste teaterteks, Stinkhout, is bekroon met die 2025 Fiësta-prys vir beste nuutgeskepte teks. 

Niggies
Jaco Bouwer se slim regie maak Niggies se vertelling veelvlakkig. Foto: Verskaf

Waarom die lang relaas om dié drie se lof te besing? Juis omdat die vingerafdrukke van teatermense so pertinent op Niggies afgedruk is. As mede-draaiboekskrywers het Saartjie en Philip ’n teks geskryf wat nie net die skokkende gebeure op ’n doodgewone Sondagmiddag weergee nie; maar ook met groot deernis die lig werp op ’n familie se ongelooflike verlies, rou en trauma en die gapende wond wat die gebeure veroorsaak het.

Storie in elke skoot

Die draaiboek is gegrond op ’n databasis van navorsing deur ’n familielid van Issie en Petro, Willem van der Merwe. Hy het die reeks saam met Roelof Storm en Gideon Lombard vervaardig. Danksy Willem se betrokkenheid, het die skrywers toegang gehad tot die uiteenlopende weergawes van die gebeure soos verskillende familielede dit onthou. Hulle het ook toegang gehad tot ou foto’s, videomateriaal en hofrekords. Waar hulle nie al die feite gehad het nie, het Philip en Saartjie die storie verruim deur af te wyk van die ware gebeure en dit is opvallend dat elke aspek van die storie met oordeelkundigheid oorweeg en aanmekaargesit is.

Jaco se regie is veelvlakkig. Elke skoot vertel ’n storie, of bevat ’n stukkie simboliek: twee skoolrokkies wat nooit gedra sal word nie, hang gestryk en reg vir die skooljaar wat die volgende dag sou begin; twee draad-tuinstoele, vrolik geverf, staan leeg voor die huis; twee lykies, onder wit lap, word van die moordtoneel af weggedra.

Rolverdeling met trefkrag

Dis opmerklik dat die akteurs dan hul regisseur se spelleiding vertrou het en dat almal verstaan het presies wat van hulle verwag word om hierdie storie te vertel. Die rolverdeling is fantasties en dis moeilik om nie élke akteur in hierdie resensie op die naam te noem nie. 

As die jong André beeld die sestienjarige nuweling, Janru Steenkamp, subtiel uit hoe ’n tiener op die vooraand van die grootmenslewe, letterlik oornag, sy oopgesig onskuld kan verloor. Die een dag dans hy in die sitkamer saam met sy sussie en hy droom van dokter word. Dan tref die tragedie en ’n onregverdige skuldlas word op sy skouers gelaai. Dis nie ’n maklike eerste televisierol nie, maar Janru slaag met vlieënde vaandels. En wanneer hy langs die oop graf breek, voel dit eg.

Niggies, Janru Steenkamp
Janru Steenkamp as die jong André wat sy onskuld in ’n oogwink verloor. Foto: Verskaf

Beer Adriaanse (Hotel, Wonderlus) vertolk die rol van die ouer André, ’n pa van twee by wie die verlede steeds spook. In Beer se spel is daar steeds iets van die jong André se goedheid, maar in sy oë sien ’n mens hoe die verlede hom nog jaag en hoe die onskuld vir bitterheid plek gemaak het. (Een bron van kritiek, of dalk eerder ’n vraag, is waarom daar die afgelope ruk, soos ook in Niggies, ietwat ongeloofwaardige ouderdomsverskille tussen ouers en kinders is. Sou twee effens jonger kinders nie meer sin gemaak het met Beer en Kristen Raath in die rol van ouers nie?)

En dan is daar die twee ma’s, wat nie beter ge-cast kon wees nie. Erica Wessels (Dwaalster, Donkerbos) se spel as Ousus, Petro (Izabella Louw) se ma, is uitmuntend. Waansinnige smart laat haar voor jou oë verkrummel van ’n elegante, beginselvaste en deernisvolle vrou, tot ’n slaapwandelaar vir wie die lewe alle sin verloor. Dis dalk teen hierdie tyd ’n cliché om dit te sê in resensies, maar Wessels gee regtig hier ’n meesterklas in toneelspel.

Niggies
Erica Wessels en Tinarie van Wyk-Loots is nommerpas in hul emosiebelaaide rolle as die ma’s wat oor hul vermoorde dogters rou. Foto: Verskaf

Tinarie van Wyk-Loots (Fynskrif, Dwaalster), wat Issie (Lané Vertue) se ma, Marie, speel, is haar skoonsuster se teenpool. Hoewel sy met tye speels kan wees met haar kinders, is daar ’n gehardheid aan haar. Wanneer haar dogter vermoor word, val alle maskers weg en word ’n tierende woede losgelaat. Tinarie vergestalt ’n Afrikaanse vrou wat glo kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Met fyn nuanses – ’n trek om haar mond, of ’n hand wat bal – dra sy die intensiteit van Marie se stormagtige binnewêreld uit.

Dis dalk teen hierdie tyd ’n cliché om dit te sê in resensies, maar Erica Wessels gee regtig hier ’n meesterklas in toneelspel.

Die ondersoek na die meisies se dood word gelei deur kaptein At van Wyk. Carel Nel (Koek, Spinners) is gemaak vir die rol van die ervare, long-suffering polisiekaptein wat sukkel met ’n span polisiemanne wat nie gerat is vir ’n misdaad van hierdie aard nie. Van al die karakters is dit kapt. Van Wyk wat nooit toelaat dat sy eie emosies sy oordeel oorskadu nie. “Ons moet vergeet wat ons weet van hierdie mense,” sê hy in ’n stadium. “Soms lyk die duiwel nes ek en jy.”

Niggies
Carel Nel is gemaak vir die rol van die ervare, long-suffering polisiekaptein, At van Wyk. Foto: Verskaf

Een man wat onder die vergrootglas geplaas word, is die Nels en Fouries se swaer, Gustaff Fouché (Albert Pretorius, Nêrens, Noord-Kaap) wat getroud is met Maks (Roeline Daneel, Fraksie). Sy karakter word ’n simbool van hoe ander se oordeel en minagting jou kan vernietig. Albert lewer, soos altyd, genuanseerde spel wat Gustaff se menslikheid verhelder. Daarmee saam beeld Roeline ’n vrou uit wat tussen haar lojaliteite vasgevang is.

’n Mens moet ook vir Lara Fouché noem, wat hul dogtertjie, Poppie, speel. Sy is ’n knap klein aktrise. Anja Taljaard vertolk ook die rol van die jonger Henda, Petro se sussie, met insig.

Meer as een verlies

Aanvanklik het ek gewonder of dit té gedwonge is om, te midde van hierdie tragiese storie, ook nog die superioriteitsgevoel van die Afrikaanse gesin teenoor hul swart huiswerker, Sophie, en veewagter, Samuel, in te bring.

Maar deur Sophie (Peggy Tunyiswa) en Samuel (Mbulelo Grootboom), word die tragiek uitgebeeld van ouers wat hul kinders dalk nie aan die dood afstaan nie, maar hulle tog ook eintlik verloor. Dít tref hard.

’n Swart ma moet weens ’n onmenslike bestel op Odendaalsrus agterbly om te werk terwyl sy haar kind na ’n tuisland stuur om by haar ouma te bly en skool te gaan. Intussen moet sy die wit kinders se skoolklere stryk en vir hulle middagetes kook.  

Dis sý wat in meer as een geval troos, wanneer die ouers van die huisgesin by wie sy werk doodeenvoudig nie kan nie. Maar wie troos haar?


Niggies begin Dinsdag, 25 Maart om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Gaan ook saam met ons agter die skerms op die stel van Niggies.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies