“Mevrou! Ek dink dikwels aan hoe anders my lewe sou wees as dit nie was vir die vrou met die bruin serp wat by my graad 10 Wiskunde-klas ingeloop het en my lewe verander het nie,” skryf een van Lizette Schroeder se oud-leerlinge uit Amerika vir haar op WhatsApp.
“Ek is ʼn medeprofessor en het amptelik met my PhD-studies begin. Ek sal hopelik eendag ʼn volwaardige professor wees. Toe ek nou die dag les-beplanning doen, het ek besef hoe dikwels ek jou hulpbronne gebruik. Ek het steeds ʼn lêer met jou naam en dis van onskatbare waarde vir my! Hoe geseënd was ek nie om te kon paaie kruis met jou nie.”
Dié voormalige leerder is maar een van die duisende met wie Lizette deur die loop van haar loopbaan as Wiskunde-onderwyser te doen gehad het. En vir elkeen van hulle het sy, nes Inge Bester (vertolk deur Trix Vivier) in kykNET se Juffrou X, ʼn wêreld van moontlikhede ontsluit deur hulle te leer lief raak vir Wiskunde.
Lizette is die vakhoof van Wiskunde by Protea Hoogte Akademie in Brackenfell, waar sy Wiskunde gee vir graad 9’s tot 12’s.
Verlede jaar is sy aangewys as Onderwyser van die Jaar in die Wes-Kaapse Provinsiale Onderwystoekennings. Boonop was sy in 2022 die provinsiale wenner in die kategorie vir uitnemende Wiskunde-onderwysers by die Nasionale Onderwystoekennings.
“Ek het self met Wiskunde gesukkel op hoërskool. Deur die ingryping van my niggie het ek die mooiheid van die vak begin sien. Toe dié nuwe wêreld vir my begin oopgaan, het ek al meer entoesiasties oor Wiskunde geword. Soveel so dat ek dit as een van my hoofvakke op universiteit geneem het om my as Wiskunde-onderwyser te bekwaam. My doel was om kinders wat soortgelyke probleme soos ek ondervind het, daarmee te help,” sê sy.
Onderwys is vir haar, nes vir Inge, ʼn leefwyse.
“Vir my is onderwys beslis ʼn roeping, omdat dit een van die plekke is waar ʼn mens ʼn verskil kan maak in die lewe van jongmense en sodoende ons gemeenskap. Dié siening van my word bevestig deur die terugvoer van vele oudleerders, nou regoor die wêreld, wat hoë hoogtes bereik het.”
“My ouers was albei onderwysers en dit het my geïnspireer om dit my loopbaan te maak. Ek het self ook inspirerende onderwysers gehad op skool en ek ken baie ander onderwysers wat hul onderwystaak met erns beskou. Hulle strewe nie net daarna om dit te doen nie, hulle gryp daadwerklik by hul leerders se lewens in,” sê sy.
“Ongelukkig is die omstandighede in ons skole deesdae van so ʼn aard dat vele kollegas ontmoedig raak in die uitvoering van hulle taak.”
Dat dinge soos sosiale druk, moeilike huishoudelike omstandighede en armoede die skoolervaring kompliseer vir kinders én onderwysers, is onteenseglik waar, sê Lizette.
“Omgewingsfaktore het ʼn reuse invloed op veral leerders se ingesteldheid teenoor ʼn vak soos Wiskunde en nie noodwendig hul vermoëns nie,” sê sy. “Al is daar leerders wat bo hulle omstandighede uitstyg, is dit ongelukkig nie altyd die geval nie. Dit is ʼn ongelukkige waarheid dat ons onderwysdepartemente, provinsiaal en nasionaal, hierdie sosiale ongelykhede ignoreer wanneer skole, uitslae en onderwysers met mekaar vergelyk word. Dit is ʼn grootste onreg wanneer die ongelyke speelvelde oor dieselfde kam geskeer word.
“Dit werk demoraliserend in op onderwysers en verhoog die negatiwiteit jeens die onderwys as beroep.”
Onderwysers as inspirasie
Berdene Burger van Meerfout Films, was die vervaardiger van Juffrou X. Sy onthou twee onderwysers wat ʼn noemenswaardige impak op haar gehad het en haar anders na die wêreld laat kyk het.
“Daar was heelwat onderwyser wat deurslaggewend in my lewensuitkyk was. In graad 2 het juffrou Martie van der Spuy my bekend gestel aan die kunste in die vorm van Eisteddfod-monoloë, dans en revue. As dit nie vir haar was nie, sou ek seker vandag ʼn aktuaris gewees het!
In die hoërskool het meneer Nico van Niekerk my gewys hoe kuns, filosofie en die lewe met mekaar gesels.
My taalonderwysers het ook altyd ʼn groot impak gemaak. Juffrou Dina Malan het letterkunde laat sing, maar ook so edgy manier van doen gehad. Sy was nou regtig ʼn classy lady.”
Wiskunde maak deure oop
In die lig van konkrete sosiale en ekonomiese probleme, kan Wiskunde ook vir baie leerders abstrak voel. In dieselfde asem is dit ooglopend dat dit deure kan oopmaak. Lizette sê Wiskunde word as ʼn “gateway” vak geïdentifiseer in die skoolkurrikulum, omdat dit ʼn vak is wat toegang gee tot baie studierigtings en werksgeleenthede.
“Selfs beroepe waarin Wiskunde nie eksplisiet gebruik word nie, het Wiskunde as ʼn vereiste vir toelating. Die onderliggende denvaardighede wat ontwikkel word deur bedrewenheid met Wiskunde, is uiters noodsaaklik vir probleemoplossing in die samelewing,” sê sy.
Ongelooflike onderwysers
Tertius Kapp, die skrywer en regisseur van Juffrou X, sê sy hoofkarakter, Inge Bester, se naam is ʼn huldeblyk aan twee onderwysers wat ʼn groot rol in sy lewe gespeel het: Louise Bester by wie hy Afrikaans geneem het en Inge Hugo, sy Duits-onderwyser.
Sy suster, ʼn onderwyser by ʼn skool wat uit ʼn sosiaal, maatskaplike en finansiële oogpunt benadeel is, was die inspirasie vir die storie.
“Ek luister al jare na haar stories oor haar klas en haar kinders, baie van hulle uit moeilike omstandighede. Soms kan ek nie my ore glo nie. Dan terg sy my altyd: ‘Wanneer maak jy nou ʼn movie oor my?’ Toe doen ek dit maar.
“Maar sy was slegs die inspirasie agter die karakter. ʼn Paar van die meer skryende gebeure in die reeks kom uit haar ervaring met skoolgee (en ook uit my eie as dosent), maar die oorkoepelende plot is fiktief.”
Hy het vir haar en van haar kolegas wat van die ander karakters geïnspireer het, so paar episodes gewys.“So ver ek kan agterkom, geniet sy dit baie. Hulle sal nou seker nie vir my sê as hulle nie daarvan gehou het nie, maar hulle reaksie was baie positief.”
Wat is die geheim?
Wat is Lizette se “geheim” om die top-onderwyser in die Wes-Kaap en so ʼn geliefde Wiskunde onnie te wees?
“Ek skryf my toekennings vir uitnemendheid in die onderwys in die algemeen en vir Wiskunde spesifiek eerstens toe aan die sterkte wat ek uit my geloofsoortuigings put,” sê sy.
Sy bly op die hoogte van nuwe verwikkelinge in die vak, woon werksessies van ander kundiges by en bly by allerlei Wiskunde-inisiatiewe betrokke, soos ʼn Wiskunde Klub, wat een keer ʼn week bymekaarkom.
Daar is onderwysers wat nie hulle persoonlike telefoonnommers vir leerders gee nie, maar Lizette se leerlinge weet hulle kan haar elke aand tot tienuur kontak met vrae oor hulle huiswerk. Sy hou ʼn notaboek en ʼn pen langs haar bed, net vir ingeval sy notas moet maak waarvan sy ʼn foto kan neem om te help.
In die klaskamer maak sy Wiskunde prakties en lekker deur hulpbronne soos Kahoot-wiskunde-vasvraespeletjies in te span. Sy gebruik ook 3D-modelle sodat kinders die somme wat hulle in 2D op papier sien, beter kan verstaan. Dan bied sy ook nog ekstra klasse aan vir leerders én ander onderwysers.
“Ek is ook gedurig betrokke by gemeenskapsprojekte om Wiskunde onder ons jeug te bevorder. Ek motiveer en inspireer my leerders deur die vak so prakties en eenvoudig as moontlik aan te bied. Ek streef daarna om elkeen te laat besef dat hy of sy sukses kan behaal en dat die vak nie net toeganklik is vir sogenaamde ‘slim’ mense nie.”
Juffrou X word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.