Menu terloops
In Onderhoude [13 Sep 2023]

Grensverskuiwende TV: Marlo Minnaar oor ‘Fraksie’


Die akteur Marlo Minnaar, bekend vir sy rolle in reekse soos ‘Sara se Geheim’ en ‘Troukoors’, is iemand wat makliker kanse waag as sy karakter Tim Koopman in die dramareeks ‘Fraksie’.

Deur Riëtte van der Wat

Stroom vanaf 14 September 2023

Grensverskuiwende TV: Marlo Minnaar oor ‘Fraksie’
Kyk lokprent

Marlo Minnaar het met Riëtte van der Wat gesels oor die dramareeks Fraksie en sy karakter se sin van geregtigheid. Dié kykNET-reeks is nou op Showmax beskikbaar om te stroom.

Jy nogal bekend vir jou rolle as standvastige, goeie ouens. Wat het jou aangetrek daartoe om Tim in Fraksie te vertolk?

“Vir my was die grootste trekpleister van Tim sy geskiedenis. Waarvandaan hy gekom het en hoe dit hom as man gevorm het. Hy was ’n weeskind met ’n pa wat steeds sukkel met ’n dobbel-probleem.

“Ten spyte hiervan het hy vir homself ’n lewe gebou waarop hy trots is. Hy is hoogs intelligent en kon al van sy jeug ’n hele rekenaar van die grond af opbou. Hierdie aanvoeling vir rekenaarwetenskap en liefde vir onderrig was sy kaartjie uit ’n lewe waaruit hy desperaat wou ontsnap.

“Nommers maak vir hom sin, mense doen nie. Hy is bietjie socially awkward en het ietwat imposter syndrome. Hy voel byvoorbeeld dat hy nie vir Chantel, met wie hy pas getrou het, verdien nie. Sy morele kompas is eg en opreg. Dit is juis wanneer hy homself voor ’n kruispad bevind met die ontwikkeling van sy nuwe finansiële-bestuurs-app, dat sy integriteit en waardes getoets word.

“Chantel (Crystal-Donna Roberts) raak sy rots en klankbord as Tim homself in ’n wêreld bevind wat heeltemal buite sy gemaksone is. Regdeur die reeks word Tim se versigtigheid en onvermoë om belangrike besluite te neem getoets. Totdat hy leer om sy man te staan en sy volle potensiaal te bereik.
Ek het groot aanklank gevind by hierdie karaktereienskappe van Tim. Ons almal stap maar soms katvoet deur die lewe. Maar hoe gemaak as jy voor besluite staan wat jou hele lewe kan verander, maar die dobbel is net te groot? Hierdie is die vrae wat vir my die lekkerste was om te ondersoek en te ontleed met voorbereiding vir die karakter.”

In watter opsigte is jy en Tim eenders en hoe verskil julle?

“Ek sou sê waar ons verskil is dat ek maar baie kanse gevat het in die lewe. Om ’n akteur te word, dink ek, was nog die grootste dobbel wat ek moes vat. Walking the road less travelled, throwing caution to the wind. Ek was nog altyd bietjie eiewys en my eie kop gevolg. Tim se swerfjare as kind het hom meer versigtig gemaak om kanse te vat en te dink voor hy doen.

“Hy is ook baie lojaal teenoor ander en kan nie sien hoe ander mekaar seermaak nie. Met hierdie toepassing wil hy lewe vir studente makliker maak deur hulle te leer spaar en meer beheer te gee oor hul geldsake, juis omdat hy weet hoe dit voel om van niks af te kom nie. Ek dink ons stem in hierdie opsig baie ooreen.”

Vertel asseblief van jou tyd op stel?

“Om met die span van Infinity Films te werk was vir my verskriklik sielsbevredigend. Ons werk met die mees ongelooflike span kreatiewe mense, van die tegniese span tot produksie.

“Ek het laasjaar vir die eerste keer saam met die regisseur Nina Swart gewerk op Troukoors (op Showmax) en sy het sedertdien my spirit animal geword. Sy is ondenkbaar goed in wat sy doen. Sy het die rare vermoë om die absolute beste uit al wat ’n akteur is te kan kry. Met so iemand aan jou kant wil jy as akteur net meer gee om die produk beter te maak.

“Dis die heel eerste keer dat ek televisie saam met Crystal doen en ek het ongelooflik respek en bewondering vir haar. Ons moes op een stadium oor die vyftig tonele in een week skiet en ek het haar nie eenkeer hoor fluff nie – dis wanneer ’n akteur dalk oor sy woord val wanneer die kamera rol, die gebeur nege uit tien keer met akteurs maar Crystal is immuun daarteen. Sy is definitief een van ons land se bestes.

“Daar is ook nooit ’n dull moment tussen my en Edwin Van Der Walt nie. Soms moet die kameras cut soos ons lag dan weet hulle ook hulle kry nou vir ’n paar minute niks uit ons kry nie. Ek is ook keer op keer stomgeslaan oor sy performance en hoe hy dieptes kan bereik waarvan sommige net kan droom – wat ’n akteur, wat ’n mens!”

Louis Pretorius en Albert Snyman se reekse is gewoonlik ʼn wegholsukses. Hulle weet maar net hoe om kykers in te trek. Wat dink jy is dit omtrent hulle manier van storievertel wat so goed werk?

“Die grootste ding met Louis en Albert se tekste, is dat hulle stereotipes vermy en die boundaries push as dit kom by eg Suid-Afrikaanse stories en mense. Omdat hulle vir jare al met akteurs werk en selfs verbonde was aan die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement ken hulle akteurs en die kuns van storievertelling uit en uit. Ek dink daarom vertrou kunstenaars hul skryfwerk so baie. Die werk word klaar vir jou gedoen op papier, al wat jy moet doen is om die waarheid te speel wat vir jou gegee is.”

Waarom behoort kykers nie Fraksie mis te loop nie?

“Louis en Albert het die manier om Suid-Afrikaanse karakters in enige milieu te plaas en die wêreld ten volle te benut en om die drama, intrige, spanning en ironie te identifiseer.

Fraksie se storiewêreld speel af binne die finansiële tegnologie-realm ín en rondom Stellenbosch maar ook entrepreneurskap en start-up besighede, ’n groot realiteit in vandag se wêreld. Ek dink daar is te veel in hierdie reeks om op te noem waarmee mense hulself sal gaan vereenselwig.”

Daar was die afgelope paar jaar talle opwindende nuwe reekse in Afrikaans. Hoe voel jy oor die rigting waarin die bedryf beweeg?

“Ek dink die bedryf, veral na die groot skrik, is besig om ’n stem van sy eie te ontwikkel – in Afrikaans en ook as Suid-Afrikaans. Daar is nog soveel stories wat vertel moet word en ons sit met wêreldklas gehalte kunstenaars, skrywers, regisseurs, stunt coordinators en crew. Die gehalte van ons werk staan vir niks terug nie.”


Fraksie is vanaf Donderdag, 14 September 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies