Menu terloops
In Onderhoude [13 Sep 2023]

Fragmente van ʼn vrou: Trix Vivier oor haar rol in ‘Fraksie’


Trix Vivier is bekend vir haar dinamiese rolle in ‘Trackers’, ‘Waterfront’ en ‘Legacy’. In ‘Fraksie’ op Showmax speel sy die prokureur Jana Broeksma. Trix het met Riëtte van der Wat gesels oor die plesier om haar tande te kon slaan in dié komplekse karakter wie se verlede by haar spook.

Deur Riëtte van der Wat

Stroom vanaf 14 September 2023

Fragmente van ʼn vrou: Trix Vivier oor haar rol in ‘Fraksie’
Kyk lokprent

Vir die afgelope paar jaar was die aktrise Trix Vivier in dieselfde wentelbaan as die skrywers en vervaardigers Louis Pretorius en Albert Snyman, die skeppers van reekse soos Die Boekklub en Fynskrif.

Sy beskryf haar rol as Jana Broeksma in hulle nuwe reeks Fraksie as die “perfekte sameloop van professionele oomblikke” en as ʼn “mooi storie”, wat eindelik volsirkel gekom het.

“In 2016 het ek en my man uit Johannesburg Kaap toe getrek. Die tweede seisoen van Sterlopers het gewrap en ek moes my loopbaan van voor af begin in die Kaap. Ek het nie ʼn agent of kennisse hier gehad nie en het by die APM-agentskap aangesluit.

“Ek het die een oudisie na die ander gedoen en die eerste rol wat ek gekry het, was ʼn cameo in Louis en Albert se reeks Die Boland Moorde. Ek het as jong aktrise teenoor Stian Bam daarin gespeel en dit was ongelooflik. Later het ek ʼn klein rolletjie in Die Boekklub se tweede seisoen gehad. Net een lyn teenoor Antoinette Kellerman se karakter; later was daar ʼn gasrol in Fynskrif

“Elke keer as ek saam met Louis en Albert gewerk het, het hulle gesê hulle wil so graag hê ek moet vir hulle ʼn groter rol speel. Maar die geleentheid en die rol was net nooit daar nie.”

En toe…die hoofrol

Toe bel haar agent met die nuus dat die twee haar wil hê vir ʼn hoofrol van hul nuwe reeks.

“Ek het nie eers geweet wat die reeks of die rol was nie, maar ek het dadelik ja gesê,” sê sy.

“Toe ek die teks vir Fraksie gekry het, het ek nie geweet vir watter een van die twee vroulike hoofrolle hulle my wou hê nie, maar ek het dadelik geweet ek wil Jana speel. Dit was toe ook die rol waarin hulle my in gedagte gehad het.

“Dit is vir my so mooi dat ons na al hierdie jare saam volsirkel kon kom. Ek was ook persoonlik en professioneel in die regte posisie om die rol en die storie te kon dra.”

ʼn Span met gravitas

“Louis en Albert se tekste is altyd aanloklik, omdat dit so slim geskryf is, met soveel navorsing en detail,” sê Trix.

“Vir my is die script álles en hierdie twee se werk is altyd met soveel noukeurigheid aanmekaar gesit.

In Fraksie speel sy teenoor Edwin van der Walt (Schalk Smit) en Marlo Minnaar (Tim Koopman), akteurs met ʼn soortgelyke aanslag as sy. Hul drie se karakters is die “tripod” in Fraksie – skoolvriende wat mekaar na jare weer raakloop. Trix kies doelbewus projekte waarby ander akteurs betrokke is saam met wie sy nog nie voorheen gewerk het nie.

“Om saam met nuwe mense te werk, leer jou baie van jouself as akteur. Hulle bring ʼn nuwe ritme, energie en benadering met hulle saam. Dit is ook vir my belangrik om saam met mense te werk vir wie craft voor career kom. Akteurs wat die voorbereiding doen voor hulle iets daaroor op Instagram post.

“Ek, Edwin en Marlo benader ons werk op dieselde manier – we were cut from the same cloth. Ons al drie is opgelei in teater; ons almal werk hard en ons respekteer mekaar – ons het dieselfde grondslag. Dit bied ʼn verwelkomende simbiotiese verhouding waaruit daar net goeie goed kan kom.

“Dit is nie te sê hulle performances is voorspelbaar nie. Inteendeel, die feit dat ons almal baie voorbereid is, dra daartoe by dat ons iets unieks kan skep. As jy akteur op stel gaan kom sonder dat jy die voorbereiding gedoen het, gaan jy jou gat sien. Albert en Louis se tekste is beautiful, maar kyk, dis woord-dig, so dit verg werk.”

Die “baie sterk spanleier” wat die skip op koers hou tydens die intense skedule, is volgens Trix die regisseur Nina Swart.

“Wat ek waardeer van haar, is dat sy so goeie leier is. Sy hou die crew op hulle tone – die ligte, klank en kamera is álles op sy plek. Sy sorg dat al die wieletjies en ratte op die regte tyd draai; dat alles volgens die skedule gebeur. As akteur kan jy net kom en jou werk doen en dit gee jou groot rustigheid. En as daar ʼn probleem is op stel, sorteer sy dit vinnig uit. Dit alles doen sy met kindness en baie respek.”

Kophou

Terwyl Trix besig was met die verfilming van Fraksie, het sy ook aan die reeks Minder as Niks geskiet, waarin sy die hoofrol as die misdaadjoernalis Ami Prinsloo vertolk. Ami, ʼn voormalige Olimpiese-swemmer, is op die spoor van ʼn reeksmoordenaar.

“Dit was ʼn ongewone situasie om terselfdertyd die hoofrolle in twee reekse te vertolk. Die karakters kom van teenoorgestelde kante van die spektrum en kon nie oorvleuel nie. Die manier waarop die twee karakters hulle gebrokenheid dra, verskil baie. Ami se gebrokenheid is mooi toegespyker in ʼn container wat sy oral heen verskeep saam met haar.

“Jana dra haar gebrokenheid soos ʼn sarong wat die heeltyd afval. Ek dink dit is die grootste verskil tussen die twee. As ons Jana ontmoet sit sy reeds in die gemors van gebrokenheid. Ons sien hoe sy haar lewe van voor af moet herbou en opbou en probeer sin maak daarvan.

“Van Ami se seer is ʼn mens nie bewus nie. Totdat sy met ʼn storie begin wat dan stelselmatig tot die verkalking van haar emosionele wêreld lei.”

Jana in Fraksie is uit die staanspoor ʼn “hot mess”. Sy kry ʼn groot werksgeleentheid in Stellenbosch; haar ooglopend gelukkige huwelik is wankelrig en sy dra swaar aan haar ma se dood jare gelede. Jana, Schalk en Tim was saam op skool. Maar sy het na matriek uit hul lewe verdwyn en regte aan Rhodes Universiteit gaan studeer. Sy is ʼn suksesvolle kommersiële prokureur en op die oog af gelukkig getroud met Alwyn (Sean-Marco Vorster). Hulle het ʼn negejarige dogtertjie, Emmy. Op Stellenbosch beland sy weer in Schalk en Tim se wentelbaan en word sy by hulle maatskappy betrek.

ʼn Lewe in kompartemente

“Ek leer Jana ken deur die oë van die mans in haar lewe – die mense met wie sy belangrike verhoudings het. Deur die oë van haar twee vriende en deur die oë van haar man. Dit was my invalshoek om haar so te leer ken, omdat daar pertinente, unieke legkaartstukke oor haar in elk van hierdie verhoudings is. Daar is ʼn ander faset van Jana in elk van hierdie verhoudings. As jy dit alles saamvoeg, kan jy begin uitwerk wat haar hart laat klop.

“Jana kompartementaliseer haarself. Sy leef in boksies – sy sal in ʼn sekere taal met een mens praat en ʼn heel ander energie met iemand anders hê. Sy leef net ʼn sekere deel van haarself uit saam met elke individu met wie sy te doen het.

“En dan is daar ook haar ma, wat dalk afwesig is in die vlees, maar steeds baie teenwoordig is in die gees. Haar ma se dood en die verlies van haar kindertyd is ʼn fontein van skuldgevoelens wat al haar verhoudings beïnvloed.”

Jana het ʼn negejarige dogtertjie, Emmy (Rizane Rossouw) en Trix, wat ʼn jong seuntjie het, sê ma-word het ʼn sterk invloed op hoe sy Jana se tonele met Emmy benader het. (Trix verkies om nie oor haar persoonlike lewe te praat nie en hou haar seun se naam uit die media.)

“Daar is ʼn spontaneïteit in my tonele met Emmy, en Rizane is ook sό gifted aktrise. Die reaksies wat ek op haar het, is op die punte van my vingers, omdat ek weet hoe ek as ma daaroor voel. As akteur gebruik ʼn mens emotional recall. Jy het dalk nog nie jou ma verloor nie, maar jy kan daardie emosie van verlies met ʼn ervaring uit jou eie lewe vervang. Ek voel egter die ervaring van ma-word, van die geboorte, is nie ervarings wat deur ander emosies herskep kan word nie. Ma-word maak nuwe deure tot jou menswees oop, ook as akteur.”


Fraksie is vanaf Donderdag, 14 September 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies