Menu terloops
In Onderhoude [18 Okt 2023]

Van ‘Suidooster’ tot ‘Devil’s Peak’, Craig Adriaanse woeker wild


Die rol van Wesley Rossouw in ‘Arendsvlei’ was nie net ’n eerste in Craig Adriaanse se loopbaan nie – in ’n mate was dié karakter ook ’n eerste vir ’n plaaslike sepie- en telenovela-produksie. Nou is hy terug op die kassie in ’n heel anderste rol as die sjarmante Gary wat dinge op hul kop draai in ‘Suidooster’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom Suidooster

Van ‘Suidooster’ tot ‘Devil’s Peak’, Craig Adriaanse woeker wild

In 2018 het hy diep in kykers se harte geklim as die hoofseun, Wesley Rossouw, in die eerste seisoen van die kykNET-telenovela Arendsvlei. Met sy aangrypende vertolking van dié baanbrekende karakter het die akteur Craig Adriaanse in slegs sy debuutrol vir homself ’n plek in die bedryf uitgekerf. Nou is Craig, oorspronklik ’n boorling van Macassar, terug op die kassie in ’n heel anderste rol as die sjarmante jong tech guru, Gary, in Suidooster.

As Wesley het Craig (28) kykers gedwing om diep na te dink oor onderwerpe soos geestesgesondheid en seksualiteit. Sosiale media het destyds gegons toe Craig se karakter sy eie lewe probeer neem het. Dít nadat hy vir maande met sy seksualiteit geworstel het en later vir sy pa en meisie gesê het dat hy gay is. Na aanleiding van die kommentaar op sosiale media, het Craig se hartroerende en briljante vertolking veral by jonger kykers aanklank gevind. Dit het, natuurlik, ook omstredenheid onder sommige anders kykers veroorsaak. 

Maar tog het dit aan hartsnare getrek, veral toe hy en sy pa later versoen is. En wie kan dan nou daardie deftige en groot TV-oomblik vergeet toe Arendsvlei se eerste gay-paartjie na die kansel toe geloop het? Dit was die TV-troue van die jaar en ’n belangrike TV-oomblik vir die queer-gemeenskap. Craig en sy mede-ster, Roberto Kyle, wat die rol van Lee-Roy vertolk het, het destyds dié troue as ’n onvergeetlike loopbaanhoogtepunt beskryf. 

Oor hierdie ikoniese oomblik het Craig destyds aan terloops gesê: “Daar is altyd iemand wat deur iets gaan. As ons awareness deur ons karakters kan bring en vir selfs net een persoon die lewe ’n bietjie beter kan maak, het ons geslaag. Mense moet gewoond raak aan ander se keuses, veral ten opsigte van seksualiteit.”

En ’n paar jaar later is Craig steeds dankbaar vir hierdie karakter en die lesse wat dit vir hom as akteur en persoon geleer het. So lief as wat kykers vir Wesley geraak het, het dié karakter ook in Craig se hart geklim. Maar soos met alles in die lewe, het dít ook tot ’n einde gekom om plek vir nuwe avonture te maak. 

Craig Adriaanse, Suidooster
Craig Adriaanse het rede om groot te glimlag met sy nuwe rol in Suidooster, asook sy rol in Devil’s Peak, en verskeie projekte wat volgende jaar die lig sien. Foto: Verskaf

Craig reg vir nuwe hoofstuk op Suidooster 

“Ek dink mense sal altyd na my verwys as Wesley,” gee Craig te kenne. 

“Ek gee glad nie om nie, want hy was ’n belangrike karakter. Ek is nou nog dankbaar vir so ’n groot geleentheid wat deure vir my oopgemaak het. Maar as ’n akteur is dit belangrik dat ’n mens nie aan ’n karakter vasklou nie,” sê hy. 

“Elke karakter bied jou as ’n akteur die geleentheid om te groei en om ander skills te ontwikkel. Gary (sy nuwe karakter op Suidooster) is jou tipiese Gen-Z-ou en verskil heeltemal van my ander karakters, maar dit is wat hom so lekker maak om te speel.” 

Craig beskryf ladies man Gary as iemand wat dink dat hy mense se respek verdien omdat hy ’n graad op universiteit gekry het. Hy wil ook nie noodwendig onder op die leer begin nie. Hy gooi sommer dadelik die handdoek in as hy nie sy sin kry nie. Hy dink ook nie altyd oor die nagevolge van sy optrede nie. 

Hy is heeltemal die teenoorgestelde as Craig. Dié het eerder van skooltyd al hard gewerk en elke geleentheid aangegryp om homself as akteur en persoon te verbeter. Maar tog vra Craig dat kykers nie onmiddellik vir Gary moet afskryf nie. Tussen al die drama sal kykers hom beter leer ken. Onder al die ego is hy maar eintlik ’n goeie mens, meen Craig.  

Ek is opgewonde om weer daagliks op die kassie te wees. Ons sepie-aanhangers is baie lojaal en dit is lekker om te sien hoe hulle met jou werk engage.

Craig Adriaanse

Uiteindelik TV-broers

Craig sê hy is opgewonde om deel te wees van die Suidooster-familie, en veral om teenoor gesoute akteurs soos Theodore Jantjies te kan speel. 

“Om eerlik te wees, ek dink my ouers was meer opgewonde as ek oor hierdie rol. Hulle is al van my hoërskooldae af obsessed met Theodore. Toe hy nog op 7de Laan was, het hulle vir my gesê hulle dink ons sal great TV-broers wees. Dit het toe nou nie in sy 7de Laan-tyd gebeur nie, maar jare later speel ons nou broers op Suidooster. Ek dink regtig my ouers het dit ge-manifest,” vertel Craig laggend.

“My ouers was nog altyd my grootste aanhangers en hul reaksie teenoor my projekte hou my humble. Wanneer een van my shows op die TV is, kyk ek nooit na die toneel nie. Ek hou altyd my ma se gesig dop, want haar reaksie is priceless. Ek is dankbaar vir my familie se ondersteuning en dit beteken so baie vir my.” 

Geen tyd vir stilsit

Sedert Arendsvlei het Craig nog nie stilgesit nie. Hy is volgende jaar te sien in ’n kykNET Storiefilm waaroor hy nog niks mag uitlap nie. En einde vandeesmaand is hy ook in M-Net se opwindende nuwe misdaadreeks Devil’s Peak. Devil’s Peak is op die wêreldberoemde plaaslike skrywer Deon Meyer se gelyknamige roman gegrond. Dit word vanaf 29 Oktober op M-Net uitgesaai. 

Volgende jaar is hy ook te sien in die Showmax-reeks Juffrou X teenoor Trix Vivier.

En wanneer hy nie voor die kamera is nie, kan mense sy stem op KFM hoor as deel van die KFM-crew wat vanaf die veld met omroepers in die ateljee skakel. 

“Soms dink mense akteurs is nie besig nie omdat hulle jou nie in ’n sepie sien nie. Maar dalk is dit omdat jy aan iets vir ’n streaming site gewerk het of dalk ’n film. Ek dink baie mense dink Gary is my eerste karakter sedert Arendsvlei, maar ek was gelukkig baie besig,” sê Craig. 

“Ek is opgewonde om weer daagliks op die kassie te wees. Ons sepie-aanhangers is baie lojaal en dit is lekker om te sien hoe hulle met jou werk engage. Jy kry onmiddellik terugvoer wanneer iemand jou in die straat of by ’n mall raakloop. Maar dit is ook belangrik dat jy nooit jouself in ’n boks plaas nie. Dít is hoekom ek altyd aan verskillende projekte werk.” 

Om ’n suksesvolle loopbaan in die vermaakbedryf te hê, is nie maklik nie. Vir harde werk was Craig egter nog nooit bang nie. Hy vergelyk ook nooit homself met ander nie, want almal se journey verskil, meen hy. 

“In hierdie bedryf moet jy baie geduld hê, want soms wil jy iets hê en dan kom dit nie. In daardie tye is dit maklik om aan jouself en jou vaardighede te twyfel, maar ek dink soms moet jy dit net laat gaan. Soms hou ons onsself terug en dinge gaan nie in jou skoot val nie. Maar êrens moet iemand byt en dít is wat my motiveer,” sê  hy. 

Sien om na jou geestesgesondheid

En vir die dae wanneer hy soms met motivering sukkel, is daar terapie.

Oktober is geestesgesondheidsbewusmakingsmaand en dit is iets wat vir Craig baie belangrik is. 

“Ek maak ’n punt daarvan om gereeld met myself in te check. Maar dit is ook belangrik om met iemand anders te kan in check. Soms het jy net daai unbiased opinie nodig. Jy kan met vriende en familie gesels, maar soms kan dit tot ’n argument lei of weet hulle dalk self nie dat hulle ook hul eie mental health issues het nie. Vir hierdie redes vind ek dit net makliker om met ’n buitestander soos ’n sielkundige te praat. Ek sien iemand al vir vyf of ses jaar en dit is regtig belangrik vir my om in my mental health te invest,” sê hy. 

“As jy ’n peaceful lewe wil hê, dan moet jy in jouself invest. As jy ’n duur nuwe paar tekkies kan bekostig, dan kan jy ’n massage of ’n terapiesessie ook bekostig. Daai skoene sal vir jou tydelik lekker laat voel, maar as jy na jouself kyk, sal jy ’n gelukkiger lewe hê. Dit sal moeilik en vreemd voel om aan die begin met iemand te praat, maar hulle judge jou nie.”  

Nou is Craig net dankbaar vir die mense en geleenthede in sy lewe. Hy hoop om altyd dankbaar te bly, om goeie geestesgesondheid te hê en om aan te hou bou aan outentieke verhoudings, want hy glo vas dat “a grateful heart is a magnet for miracles.”  


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies