Oor die afgelope twee weke het ons voor die televisie uit blydskap geskree toe Arendsvlei se laaste misdaad-trio mekaar in die Galant-mansion vermoor het; ons was saam met Beatrice (Jolene Martin) kwaad toe Clint (Clayton Evertson) sommer so uit die bloute weer in haar kamer verskyn het, en ons het lang trane gehuil toe Arendsvlei se Meredith Grey en McDreamy uiteindelik hul sprokiestroue kry.
Praat van ’n emosionele uitmergelende sprint na die eindstreep! Maar vir ’n beter einde kon aanhangers van hierdie baanbreker-telenovela nie gevra het nie. Dit was propvol drama, spanning, trane, vieringe en gelukkige eindes. Al die bestanddele vir ’n perfekte einde aan ’n telenovela wat kykers al vir ses jaar op die punt van hul stoele hou. Dit was nou ’n ware Arendsvlei-crescendo.
Ek het al baie reekse tot ’n einde sien kom en dikwels los die einde vir jou met meer vrae, teleurstelling of selfs frustrasie. Ons het nie altyd ’n gelukkige einde nodig nie, maar darem een wat ons vrae beantwoord, iets wat afsluiting bring en iets wat aan jou hartsnare trek ter viering van die wilde reis waarop jy so pas was.
Dit en soveel meer is presies wat Penguin Films, die vervaardigers van Arendsvlei, aan kykers gegee het. Die laaste agt episodes het soos een lang love letter aan hul lojale kykers gevoel.
’n Bloedige einde vir die Galants
Ná jare se geskel op sosiale media, het die Galants se reign of terror tot ’n epiese einde gekom toe Desmond (Alistair Izobell), Bompie (Jarrid Geduld) en Rachel (Kim Syster), tydens die grootste shootout van skurke elk hul doodskoot ontvang het. Natuurlik het ek ’n cameo appearance van Wengrid (Rehane Abrahams) en Dorothy (Ilse Klink) verwag, maar ag, Wengrid lewe natuurlik te lekker as die hoofkonyn van die groen dakkies en ten minste het Clint basies aan Beatrice gebieg dat hy nog heeltyd deel was van ’n polisie-eenheid wat Dorothy toe aan die einde vasgetrek het. Ja, spoiler! Clint is toe nie dood nie en hét darem vir Dorothy laat betaal vir haar sondes.
In ware Bompie-styl het hy gedink hy is die slimste ou in die kamer… Of dalk het hy, soos gewoonlik, net glad nie gedink nie. Bompie het mos onlangs net na Rachel se lippe gekyk en kon niks en niemand in die vertrek sien as sy naby was nie. Dit is danksy daardie infatuation dat hy vir arme Adam (Clint Aplon) vermoor het. Sy jaloesie ken geen perke nie! Ongelukkig vir hom, het sy ouers nie helfte van die liefde vir hom wat Rachel vir Adam gehad het nie. En dit was toe juis ’n vuurwarm soen tussen hom en Rachel wat hom sy lewe gekos het. Oh, the sweet taste of revenge!
Ná jare se geskel op sosiale media, het die Galants se reign of terror tot ’n epiese einde gekom toe
Toe Desmond vir Bompie en Rachel betrap, was daar nie nog tyd vir mooipraatjies of verduidelik nie. Met een skoot was Bompie ’n goner. Rachel het nie eens aan haar seun gedink toe sy uit muscle memory Bompie se geweer gryp en Desmond skiet nie.
Ongelukkig vir haar het sy van die regte hoof van die Galant-huishouding vergeet en voordat sy ’n sekonde kon rou, het Audrey (Taryn Hess) haar wraak geneem vir haar broer se dood en Rachel met haar eie skoot teen die kop beloon. Selfs bloed het nie ’n regte crime boss soos Desmond gekeer nie en nou kry Audrey wat sy ná jare in die tronk wou hê, haar eie gesin met Rachel se baba. Die toneel was realisties en epies en al het nie een van hulle weer die binnekant van ’n tronk gesien nie, was dit beter so, want hulle sou in elk geval ontsnap het.
Ware liefde wen áltyd
Beaty het dalk nie die geleentheid gekry om die Galants agter tralies te sien nie, maar ná een van die grootste sepieliefdes – en tragedies – het sy ’n tweede kans met Clint gekry. Ek sou ook soos Abigail (Talia Davis) flou geval het as ek my pa se spook in die huis moes sien, maar gelukkig vir haar en Beaty was dit nie ’n spook nie. Hein (Merlin Balie) het kykers vir een laaste keer met sy simpel one-liners laat skater. Hy dink nou nog ’n aanval het hom met die spirit-wêreld connect, maar hierdie keer was dit geen spook nie, maar Clint in lewende lywe. Ek gaan die lekkerte van ’n karakter soos Hein mis.
Vinnig is daar ’n sprokiestroue gereël. Een met baie liefde, familie, vriende en tradisie. Selfs antie Gertie (Celeste Matthews Wannenburgh) het al die pad van Zanzibar gekom om haar dogter se troue by te woon. Dit was lekker om van die ou gesigte te sien vir een laaste kuier in Mortlocks met ’n speech wat amper so mooi en uniek was soos Derick en Meredith op Greys Anatomy se post-it troubeloftes. En in plaas van something old, something new, something borrowed and something blue, het Thys (Sherman Pharo) vir sy suster ’n nuwe tradisie begin met something lost, something found, something old and something gold. Elkeen natuurlik met sentimentele betekenis wat jou na die tissues laat gryp het.
‘Arendsvlei’ vir oulaas
Geregtigheid vir Monique
Daar was soveel spesiale oomblikke soos toe Yvette (Charlene le Roux) uitvind dat die geweer wat in die Galant-moord gebruik is, dieselfde wapen is wat haar dogter jare gelede vermoor het. Ai, dat ons en Yvette vir drie seisoene moes wag vir antwoorde! Maar ten minste het ons almal nou uiteindelik closure.
’n Pienkvoet vir die Fosters
Die laaste hartroerende oomblik wat ek nog vir ’n lang tyd gaan onthou, is die toneel toe Lionel (Jody Abrahams) en Janice (Crystal-Donna Roberts) vir Roné ontmoet het. Ná mislukte huwelike en IVF, geheueverlies, mammatjie se sabotage-planne en ’n surrogaat wat vermoor is, kry hierdie twee uiteindelik die babatjie wat hulle graag wou hê. Ons het almal saam met hulle gebid vir ’n kind en ek het al aanvaar dat dit nie vir hierdie hopeless romantics beskore is nie. Maar toe gee die skrywers vir ons – en hulle – ’n gelukkige einde.
Goodbye Arendsvlei
Die liefde en leed van die Vlei mag dalk tot ’n wonderlike einde gekom het, maar die karakters en hul storielyne sal nog lank by ons spook. Dankie Arendsvlei… On to the next!
Arendsvlei is nog op Catch Up beskikbaar as jy wil opvang, of die laaste paar episodes oor en oor (en oor) wil kyk…