Menu terloops
In Onderhoude [26 Jun 2024]

Talia Davis ‘dankbaar’ vir ‘Arendsvlei’ se Abi: ‘Ek het op ’n dieper vlak met haar connect’


Vir die aktrise Talia Davis was haar rol as Abigail in ‘Arendsvlei’ ’n professionele droom wat bewaarheid is. Met die ‘Arendsvlei’-hoofstuk klaar, beleef sy nou ’n nuwe uitdaging, én ’n nuwe leerskool op die stel van ‘Skemergrond’, kykNET&kie se nuwe telenovela, waarin sy die rol van Amber Louw vertolk.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Talia Davis ‘dankbaar’ vir ‘Arendsvlei’ se Abi: ‘Ek het op ’n dieper vlak met haar connect’

Talia Davis se Arendsvlei-karakter was ’n regte terroris toe sy in seisoen vyf haar verskyning in die Vlei maak. Abigail wou niks van haar lank verlore pa, Clint (Clayton Evertson), se verhouding met Beatrice (Jolene Martin) weet nie en het Beatrice se lewe in ’n nagmerrie verander. Sy het Beatrice amper haar verhouding – en lewe – gekos. Die tonge het behoorlik op sosiale media geklap soos kykers vir Abigail weggewens het. Talia Davis ‘dankbaar’ vir ‘Arendsvlei’ se Abi: ‘Ek het op ’n dieper vlak met haar connect

Maar hoe meer die tonge geklap het, hoe meer het dit vir dié jong aktrise gerusgestel dat sy op die regte pad is met haar karakter en toneelspel. Anders as haar karakter was Talia glad nie so voorbarig en uitgesproke as kind nie en dit is presies hoekom haar ouers haar by dramaklasse ingeskryf het.

“Ek was maar vyf jaar oud toe ek met drama klasse begin het. My ma wou nie hê dat my skaamheid en lae selfvertroue my geleenthede in die toekoms moes affekteer nie,” vertel Talia. 

Haar dramaskool het hul eie agentskap gehad en met hul bystand het Talia in 2014 haar eerste rol in ’n fliek losgeslaan het, As ek huis toe kom, wat later op kykNET&Kie uitgesaai is. 

“Ek was so opgewonde, maar het ’n rukkie daarna vir eers met acting opgehou om op my skoolloopbaan te fokus,” vertel Talia. 

‘Suidooster’-verrassing

Sy het ná skool filmproduksie en video-tegnologie ge-swot, omdat sy nie net van die werk voor die kamera gehou het nie, maar van agter die skerms ook. As deel van haar kursus op universiteit, moes sy ’n internskap doen. Sy het ’n geleentheid by die gewilde sepie, Suidooster gekry, maar in plaas daarvan dat sy net die tricks agter die kamera leer, het hulle vir haar in 2021 ook voor die kamera in die rol van Veronqiue gesit. 

As aktrise was Abigail vir my ’n groot leerskool. Ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid op my droomreeks en ek is veral dankbaar vir hierdie karakter wat so baie vir my beteken het.

Talia Davis

“Veronique het nes Abigail amok gemaak. Sy was ’n regte busy body wat haar neus in almal se sake gedruk het,” vertel sy. 

“Ek is mal oor karakters wat ’n bietjie anders en complicated is. Dit is vir my verskriklik lekker om karakters te vertolk wat my uit my comfort zone dwing.” 

In 2023 was sy deel van die kykNET Silwerskermfees-speelfilm, Old Righteous Blues, maar haar loopbaanhoogtepunt tot dusver is beslis die rol van Abigail. 

Droom word waar

“Ek wou nog altyd deel van Arendsvlei wees. Ek was ’n groot aanhanger van die telenovela en het daarvan gedroom om deel te wees van die rolverdeling. Dit het soos ’n vibe gelyk en daar is min reekse met so baie jongmense. Baie van die ander reekse het ’n ouer rolverdeling. Ek het ook gedink dit sal amazing wees om deel te wees van ’n reeks wat die coloured-kultuur en -stories vier.”

Sy het eers oudisie vir die rol van Judy, maar Simone Neethling het toe dié rol gekry. Toe die rol van Abigail later beskikbaar raak, het Talia en haar agent saamgestem dat Abigail waarlik vir haar bedoel is.  

Talia Davis as Abigail in Arendsvlei. Foto: Verskaf
Talia Davis as Abigail in Arendsvlei. Foto: Verskaf

“Sy is netso sassy en soms sarkasties soos ek, maar ek het op ’n dieper vlak met hierdie karakter connect,” vertel sy. 

“My pa is ook skielik in 2018 oorlede en toe Abi vir Clint verloor, het dit so baie emosies teruggebring. Dit het my as aktrise regtig gepush, al was dit persoonlik baie moeilik en uitputtend om van daardie tonele te skiet. Nes Abi het ek ook vir ’n lang tyd gehuil en gesukkel om my pa se dood te aanvaar.”

Vir Talia was Abigail ’n komplekse karakter, maar een saam met wie sy baie kon groei.

“As akteur kry jy nie sommer ’n karakter met so baie character growth nie, maar met Abigail was daar so baie lae om te skil. Ek het saam met haar gegroei en as aktrise was Abigail vir my ’n groot leerskool. Ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid op my droomreeks en ek is veral dankbaar vir hierdie karakter wat so baie vir my beteken het.”

Ek is mal oor karakters wat ’n bietjie anders en complicated is. Dit is vir my verskriklik lekker om karakters te vertolk wat my uit my comfort zone dwing.

Talia Davis

Koebaai Abi, dis tyd vir Amber

Nou is Talia gereed vir haar volgende uitdaging as Amber in Penguin Films se splinternuwe telenovela, Skemergrond, wat vanaf 1 Julie in Arendsvlei se plek op kykNET&kie te sien is. 

“Amber is heeltemal anders as Abigail en dit is wat dit so uitdagend gemaak het toe ek by albei moes werk. Ek het Skemergrond begin skiet toe ek nog besig was met Arendsvlei en daar was baie dae in die begin toe ek in die oggend op die een stel geskiet het en toe die middag op die ander stel moes skiet. Vir ’n paar weke het ek nie geweet of ek kom of gaan nie. Ek het ook nie geweet wie of wat ek is nie,” vertel sy laggend. 

Talia Davis as Amber Louw in Skemergrond. Sy was voorheen in Arendsvlei. Foto: Verskaf
Talia Davis as Amber Louw in Skemergrond. Foto: Verskaf

Die karakters verskil soos dag en nag en waar Abigail glad nie emosioneel geraak het nie, gebruik Talia baie meer emosies om Amber te vertolk. Amber is ook baie meer volwasse as Abigail. 

“Sy is steeds ’n tiener, maar weens omstandighede moes sy vinnig groot word. Ek word later vanjaar 24, so my tienerjare was nie te lank gelede nie en ek dink dit maak dit makliker vir my om jonger karakters te vertolk,” vertel sy.

“Ek kan nie te veel weggee nie, maar ek dink hierdie karakter het my soms geskok en verbaas en ek dink sy gaan dieselfde met kykers doen.”

Talia hoop om in die toekoms meer ondervinding agter die kameras te kry, maar vir nou geniet sy haar gate uit voor die kameras en is sy baie opgewonde oor haar nuwe leading role


Skemergrond is vanaf 1 Julie 2024 om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit sal ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies