Claudia Jones is ewe bekend vir haar sepierolle as vir haar stemkuns, soos die RSG-radiodramas Goue koors en Dink jy darem nog aan my?. En dan was daar ook die stemrolle in oorgeklankte Turkse telenovelas soos Jy is my seun, Droomverlore, en nou Plaas van passie, ’n Brasiliaanse telenovela wat na Afrikaans oorgeklank is.
Claudia vertolk die hoofrol as die stem van Aline (Barbara Reis), ’n wiskundeonderwyseres, wie se man, Samuel (Ítalo Martins), op hul plaas vir dié grond vermoor word. Al het sy geen ondervinding met boerdery nie, besluit Aline om alles moontlik te doen om die plaas vir haar en haar seun, João (Matheus Assis), te behou. Aan haar sy is haar getroue vriend Jonatas (Paulo Lessa) en haar ma, Jussara (Tatiana Tibúrcio). Haar grootste teenstand kom van die man verantwoordelik vir Samuel se dood, Antônio La Selva (Tony Ramos).

Die oorspronklike Portugese titel is Terra e Paixão (Land of Desire in Engels). Dié telenovela is die eerste keer in 2023 uitgesaai en bestaan uit 120 uur lange episodes.
Ons het met Claudia oor onder meer dié rol en haar liefde vir die kunste gesels.
Is jou stemrol in Plaas van passie die eerste keer dat jy die hoofrol vertolk? Hoe het dit gevoel toe jy die nuus ontvang?
“Hierdie is nie my eerste hoofrol in oorklanking nie, maar ek was ongelooflik bly toe ek hoor ek het die rol gekry! Vir ’n akteur is dít altyd die beste nuus!”

Hoe verskil oorklanking en stemkuns van ’n rol waar jy voor die kamera is?
“Oorklanking en stemkuns is regtigwaar ’n ander tipe vaardigheid. ’n Groot verskil is dat jy nie self die pas, spoed of aanslag kan kies – jy moet volg wat op die beeldmateriaal is. Selfs jou asemhaling is nie jou keuse nie. En tog moet jy alles geloofwaardig en, wat toneelspel betref, vlot laat oorkom om die karakter lewe in ’n ander taal te gee. Oorklanking is beslis net so uitdagend soos om fisiek voor die kamera te speel.”
Wat geniet jy die meeste daarvan?
“Ek geniet altyd dat jy ’n ander taal kan leer. Plaas van passie is oorspronklik in Portugees geskiet. Vorige reekse (waarop ek gewerk het) was in Turks en Spaans, so dis nogal iets waarna ek altyd uitsien. Ek geniet ook die storielyne.”
Ek het nog nooit daaroor gewonder nie, ek het net altyd geweet ek kort ’n verhoog en ’n gehoor.
Claudia Jones
Waarna kan kykers op Plaas van passie uitsien?
“Liefdesdriehoeke en -vierhoeke! Hulle kan uitsien na baie drama, passie en ’n hele lot kinkels wat deurlopend in die storielyne opduik. Ook na van ons plaaslike bedryf se beste stemkunstenaars wat die ander karakters behartig.”
En op watter ander projekte werk jy nog?
“Ek doen ook oorklanking by ander studios vir ander kanale, waaronder animasie-stemwerk vir Paw Patrol en Patrick Star wat op Nickelodeon uitsien. Én ek sien uit om binnekort weer op die kassie te wees…”
Wanneer het jy besef jy het ’n liefde vir die kunste?
“Ek het in Westbury in Johannesburg grootgeword – ’n plek bekend vir geweld, bendes en dwelmmisbruik. Tog was my kinderjare heel rustig. Ek was wat hulle ’n ‘huiskind’ noem; iemand wat altyd by die huis is en nie kuier nie. Maar ek was my familie se eie performing artist en het op familie-byeenkomste vir hulle shows opgesit.
“So, ek het van baie kleintyd af ’n liefde vir die kunste gehad. Een van my ma se vriende het glo ’n videoband van hoe ek praat oor hoe ek eendag op televisie gaan wees! Ek het nog nooit daaroor gewonder nie, ek het net altyd geweet ek kort ’n verhoog en ’n gehoor.
“Ek is gaande oor die vermaaklikheidsbedryf en ek voel ongelooflike bevoorreg om as aktrise en stemkunstenaar deel daarvan te wees.”
Wou jy nog altyd ’n toneelspeel, of het jy ook ander drome as kind gekoester?
“Om toneel te speel was altyd eerste op my lys, maar ek en my broer Cameron wou ook albei wildbewaarders word. Ek het ’n reuse-passie vir diere en wou graag veeartsenykunde studeer, maar ek het toe eerder sielkunde, waarvoor ek ook ’n diep liefde het, gekies.”
Wat beteken die kunste vir jou?
“Die kunste is vir my ’n geleentheid om stukkies weg te kap aan die meesterstuk waaraan ek bou. Dis ’n geleentheid vir ander – en vir myself – om my in ’n ander lig te sien. Dis altyd ’n kans om iemand anders te wees en ek vind dít opwindend.”
Wat is jou grootste dryfkrag?
“Ek word gemotiveer deur my droom dat ek geleenthede sal kry om myself in die bedryf te kan verbeter. Dat ek my droomrol sal losslaan. Maar, eerlikwaar, ek kan nie eers bekostig om so te droom sonder God nie. Om te vryskut in ’n onvoorspelbare bedryf is onmoontlik sonder God wat aanhou om vir my deure oop te maak.”
Wat is jou boodskap aan mense wat dalk in jou voetspore wil volg?
“Fokus tog op jul sielkundige en emosionele gesondheid. Hou asseblief op om jouself te vergelyk aan ander en wat hulle het. Jy het geen idee wat in mense se regte lewens aan gaan nie en dis gewoonlik nie die kleurvolle sosiale media plasing wat jy sien nie.”
Plaas van passie begin op 18 Maart om 20:00 op kykNET&kie en DStv Stream (DStv-kanaal 145). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.