Menu terloops
In Resensies [14 Jul 2026]

‘Ontwaak’ word ‘wakker’ in die spanning tussen vryheid en behorendheid


Skrywer Wessel Pretorius en regisseur André Velts pak met die rillerreeks ‘Ontwaak’ weer ’n keer ’n storie van kwesbaarheid, behorendheid en identiteit aan.

Deur Rozanne Els
‘Ontwaak’ word ‘wakker’ in die spanning tussen vryheid en behorendheid
Kyk lokprent

Die eerste twee episodes van Ontwaak voel met rede soos déjà vu. Dié nuwe reeks, oorspronklik vir Showmax bedoel en nou op DStv Stream beskikbaar, het immers gekiem uit die film Horisonne, wat sowat drie jaar gelede op Showmax uitgereik is. Die film én die reeks is deur Sonvelt Media, onder die regie van André Velts en met Wessel Pretorius as draaiboekskrywer, vervaardig.

Geraamtes en oorlewing

Die storie draai om Melissa Human (Cindy Swanepoel), ’n psigiater wat ná jare oorsee na Suid-Afrika terugkeer om by Noordlig, ’n psigiatriese kliniek vir misdadigers, te werk. Vroeg reeds is daar tekens van geraamtes in haar kas en wanneer ’n ritualistiese moord ondersoek word, lei die spoor na Horisonne. Horisonne is oënskynlik ’n plek van sielsrus en bevryding vir die samelewing se verworpenes en af-vlerke, maar Melissa is geskok wanneer sy sien dié “oord” se leier is die eks wat sy net-net oorleef het. Hoewel Melchior homself nou as ’n redder voordoen, weet Melissa van beter.

“Ek is my enigste ooggetuie, ek het geen bewyse nie,” sê sy in ’n stadium. En ai, as dit maar nie net die allerbekendste refrein van slagoffers van mishandeling is nie…

Dinge raak egter meer ingewikkeld wanneer Melissa vir Adri (Minke Marais), haar dogter wat sy laat aanneem het, onder Melchior se wakende oog by Horisonne vind. Waar sy gedink het sy is vry, besef sy dat sy steeds Melchior se obsessie is. Sy kloue in Adri is net nog ’n manier waarop hy haar probeer beheer. Melissa is egter nie net Melchior se obsessie nie: Alwyn Bekker (Carel Nel), ’n psigopaat, beweerde reeksmoordenaar en een van haar pasiënte by Noordlig, steek geensins nie sy belangstelling weg nie. Melissa gebruik dit ook tot haar voordeel. Eers soos sy stukkie vir stukkie sy psige probeer ontsyfer, en later as sy hulp nodig het om Adri te red.

Van ‘Horisonne’ tot ‘Ontwaak’

Daar is wesenlike verskille in die vertelling en aanslag van die film teenoor die reeks, met Horisonne se storielyn wat net tot om en by die einde van die reeks se tweede episode gestrek het. Die TV-reeks delf dus vir die grootste deel van die reeks in die nog onbekende “wat as”-wêreld wat met die film ontstaan het. Die menslike behoeftes wat as polsslag vir albei stories dien – die smagting om te behoort en die prys wat jy vir behorendheid sal betaal – kry só met die reeks ruimte om asem te haal.

Hoewel die verwerking van film na TV-reeks beslis nie ’n gereelde verskynsel in die plaaslike konteks is nie, is dit elders veel meer gewoon. Daar is egter meestal ’n duidelike onderskeid tussen stories wat bloot in dieselfde wêreld afspeel, maar nie op dieselfde tydstip nie – dit is dus óf ’n voor- óf vervolgverhaal, byvoorbeeld die briljante Fargo – en stories wat die oorspronklike werk in ’n ander formaat hervertel, soos Animal Kingdom. Selde word daar in albei kategorieë geboer – iets wat Ontwaak wél doen.

Dit is tot dié storie se voordeel én nadeel, en ’n deel daarvan is te wyte aan Chris Chameleon as Melchior van Staden – ’n rol wat hy in beide die film en die TV-reeks vertolk. Dít terwyl die ander hoofkarakters opnuut gekies is. En hoewel Chameleon ’n tipe anker tussen die twee weergawes bied, is dit ook ’n herinnering aan wat reeds in Horisonne minder oortuigend was.

Chris Chameleon, Ontwaak
Chris Chameleon as Melchior van Staden. Foto’s: Verskaf

Melchior is die hoof van ’n oord wat skynbaar mense help om die juk van die samelewing van hul skouers te gooi en hul ware self te ontdek. Deel van dié sogenaamde bevrydingstog is natuurlik absolute toewyding aan sy opdragte… En dit help ook as jy sy voete met jou hare was. Rêrig. Sy karakter is, as ’n kultusleier wat nie sy eie boodskap uitleef of glo nie, karikatuuragtig. En dalk is dít ’n noodwendigheid. Maar reeds met die film was dié vertolking van die karakter net té oordrewe om saadjies van geloofwaardigheid te saai. Die vervaardigers het met die reeks die kans gehad het dit reg te stel – veral synde die reeks ’n vars identiteit gegee is om dit van die film te onderskei.

Dit pla veral omdat figure soos Melchior allermins ’n nuwe of seldsame verskynsel is. Oral is daar mense wat kwesbaarheid, isolasie en seer uitbuit vir eie gewin. Trouens, ons almal het al ’n Melchior – of iets soortgelyks – teëgekom. Die skrik lê juis daarin dat sulke mense dikwels alledaags én charismaties genoeg is om vertroue te wen. Nie net die een of die ander nie.

Ons almal steek iets weg

Melissa – in die film vertolk deur Elma Postma en hier deur Cindy Swanepoel – is slim en selfversekerd in soveel opsigte, maar dan is daar ook haar geskiedenis en seer wat sy van die wêreld wegsteek. Is ons almal nie maar tot ’n mate so nie? Wat ons ander mense toelaat om te sien, is nooit die volle prentjie nie. Soms is dit nodig om goed weg te steek vir selfbehoud. Maar daarmee saam word die moontlikheid om werklik en volkome geken te word – te behoort – prysgegee.

Melissa se karakter is bekend in die manier waarop sy uit moeilike omstandighede herrys. Terselfdertyd is sy ook ’n herinnering dat trauma enige tyd herroep en wakker gemaak kan word. As Melissa, ’n rol so anders as Christelle in Koek, wys Cindy Swanepoel hoe waarlik veelsydig sy is. Haar spel as Christelle is reaktief en freneties, terwyl sy hier as Melissa beheersd, amper ingehok, speel.

Die chemie tussen haar en Carel Nel se Alwyn – in die film deur die draaiboekskrywer Wessel Pretorius vertolk – is magneties, maar wys ook dat TV-skeppers goed sal doen om Nel meer rolle soos dié te gee. Ja, hy is hoofrolmateriaal, deur en deur. Saam is hulle heerlik om te kyk, veral in die manier waarop die magsdinamika binne ’n enkele toneel heen en weer skuif.

Ontwaak, Carel Nel
Carel Nel as Alwyn Bekker.

Tematies is die spil waarom die agt episodes draai veral behorendheid en hoe ons as mense daarna smag om aanvaar en gekies te word. Maar ook dit wat ons sal opgee, hoe ons ónsself sal versaak, en wat ons bereid is om te glo – en op te hou glo – om dit te kry. Hoe ons ons eie uniekheid sal prysgee om deel van ’n groep te wees. Dit is in dié alewige spanning – tussen aanvaarding, die denkbeeldige vryheid van behoort, en die ware vryheid wat selfaanvaarding bied – dat die reeks op sy interessantste is.

Die amperse afsku daarvan om uit te staan en uniek te wees, word ook in die stelontwerp, grimering, beligting, ruimtes en klere vervat – alles smelt in die agtergrond saam. Selfs die klankbaan, deur Wesley West, is soos ’n atleet in die wegspringblokke: wil-wil los, maar bly eerder waar dit veilig is; deel van die kudde, deel van die groep.


Ontwaak se eerste twee episodes word Dinsdag 14 Julie op DStv Stream bekendgestel. Daarna volg een episode elke week.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies