Menu terloops
In Recaps & Resensies [14 Jul 2025]

‘Magda Louw’ steeds heerlik slim, skerp, en snaaks in derde uittog


Die lag-uit-jou-maag-lekker-komediereeks ‘Magda Louw’ is terug op die kassie met ’n derde seisoen wat, met die storie se heerlike vermenging van introspeksie en lawwigheid, soos ’n stywe drukkie voel.   

Deur Rozanne Els
‘Magda Louw’ steeds heerlik slim, skerp, en snaaks in derde uittog

Daar is al dikwels na die grensverskuiwende Amerikaanse sitkom Seinfeld as “a show about nothing” verwys. In plaas van groot, dramatiese plotpunte en storielyne wat die oorhoofse storie vorentoe beweeg, was Seinfeld ’n reeks wat in die alledaags, die banale noodwendigheid van die lewe, verlekker het. Dat daar juis diepte, en haas oneindige prettige plesier in die doodgewoon te vinde was, is dan juis wat dié reeks so vernuwend gemaak het. Dís dan ook in daai sweet spot waar die plaaslike komediereeks Magda Louw soos ’n vark in modder rondrol. Hoewel met meer afdraaipaaie. Want in Desiré Gardner se teks beweeg die storie tog vorentoe – en met mening. 

Trouens, verandering – hetsy onvoorspelbaar of beplan – is die wegspringpunt as ons aan die begin van die derde seisoen met die Louw-familie herenig. 

Soveel soos Magda se storie al in verskillende mediums vervat is – van eenvroustuk tot film tot TV-sitkom met Gardner deurgaans aan die stuur – só woel dit ook in die dag-tot-dag van Magda en kie. 

Met die aanvang van die derde seisoen – die eerste drie episodes is aan resensente beskikbaar gestel – kom ons ’n familie in flux teë. Gardner se Magda en Hannes van Wyk se Erhard is steeds deel van ’n werklikheidsreeks, met kameraman Shaun (Gershwin Mias) wat hulle steeds oral heen volg om hul lewens vas te lê. Maar nou staan hulle op die punt om ’n nuwe hoofstuk te betree. Daai een van ouer word en afskaal (hoewel Magda onverskrokke vasklou aan dáái twee Giovanni Bragolin-afdrukke) soos hulle regmaak om by hul “oueteparadys” in te trek.

Behalwe dat daar ’n probleem met die bouery is en hulle noodgedwonge by hul dogter Gertrude (Cindy Swanepoel) en haar verloofde, Havenga (André Weideman) moet intrek. Laasgenoemde is ook Magda se ginekoloog, wat ’n reeds ongemaklike situasie selfs meer cringe maak. Veral as Magda dan Havenga se “maak julself tuis”-uitnodiging ter harte neem. Die potpourri kom uit, die fênsie koffiemasjien bevloek, en ja, die tragiese Bragolin-afdrukke word teen die sitkamermuur gehang (vir eers…)

Magda Louw
Hannes van Wyk as Erhard en Desiré Gardner as Magda in Magda Louw. Foto (en hooffoto): Gys Loubser

Intussen is daar moeilikheid by Baltus (Bennie Fourie) se werk en hy trek by sy meisie Delere (Mandri Sutherland) in terwyl hy sente omdraai en sy huis, met Gielie die hond in die agtertuin begrawe, uitverhuur. 

Soos wat haar as Afrikaanse tannie of a certain age betaam, is Magda – in Erhard se woorde – “altyd onsteld oor iets” en oor die loop van die eerste drie episodes is daar eintlik baie wat haar ontstel, of dit nou iets klein, groot, absurd, eienaardig of bloot laf is.

Dis die uitstekende skryfwerk deur Gardner wat hierdie oomblikke in die slimste, skerp woordspelings en heerlike one-liners vasvang, terwyl daar ook ’n goue draad van nabetragting is wat die episodes tematies saamvat.

Gardner is op haar beste as sy vir haarself skryf; daar is iets besonders belonend om as kyker te sien hoe haar spel die teks lewe gee. By tye met ’n oogknip na Shaun se kamera (wat die kyker se oogpunt verteenwoordig), somtyds met ’n stout laggie, ander kere weer met ’n earnestness wat net glad nie strook met die woorde wat oor haar tong rol nie. Deur vol te hou met die kyker wat in Shaun se kamera klim, bring dié storievertellers ook iets van die teaterervaring saam. Só word die interaksie tussen Magda en die gehoor – wat juis die eenvroustuk so uitsonderlik maak – oorgedra. ’n Intieme, inviting kykervaring word binne die grense van ’n betreklik onpersoonlike medium geskep. ’n Prestasie, dink ek. 

Die ander akteurs speel al te lekker saam, maar dis vir Van Wyk se Erhard wat ons moet uitsonder. Sy karakter word mens eerder as ’n karikatuur, al is sy gemompelde antwoorde en permanente frons deels clichè-gedrewe. Dís egter ’n lieflike bekendheid eerder as wat dit moeg en oordrewe oorkom. En saam is Ma en Pa, soos Magda en Erhard ook meestal dan na mekaar verwys, die verpersoonliking van die reeks se algehele dinamiek. Een waar die droogste van grappies (“patience is a virtue, nie ’n virgin nie”) met roerende en raakvat-gewaarwordinge (“om irrelevant te voel, is seker een van die moeilikste emosies om te verwerk”) saamsmelt. 

Om waarlik slim-snaaks én ernstig te wees, is vir min beskore. En vir nog minder tekste. Magda Louw is, drie seisoene in, steeds ’n skitterende uitsondering. 


Die derde seisoen van Magda Louw word vanaf Maandag, 14 Julie 2025, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Kyk ook die eerste twee seisoene van Magda Louw op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies