Menu terloops
In Features [9 Nov 2021]

Afrikaaps by die Oscars?


Die reeds veelbekroonde Afrikaapse rolprent ‘Barakat’ is Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir beste internasionale rolprent by volgende jaar se Oscars.

Afrikaaps by die Oscars?
Kyk lokprent

In die Kaaps-Maleierkultuur is ’n barakat ’n papiersak gevul met koeke, vrugte en lekkergoed wat aan vriende en bure uitgedeel word, lui ’n mediaverklaring. “Barakat, ’n Arabiese woord wat ‘seëninge’ beteken, is ’n storie oor die viering van die lewe, van kultuur en die belangrikheid van familie.” 

Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die regisseur Amy Jeptha se fliek die Oscar-kortlys gaan haal nie, maar Barakat, ook glo die eerste Afrikaapse (Afrikaanse dialek wat wyd in die Kaap gepraat word) fliek wat die Moslemkultuur in oënskou neem, het reeds talle internasionale pryse gewen. Hieronder tel toekennings van die internasionale Motion Pictures-rolprentfees in Salt Lake City, en die internasionale Idyllwild-rolprentfees in Kalifornië. Na verwagting sal die Oscars-kortlys op 21 Desember bekendgemaak word, en die finale vyf flieks wat om die goue beeldjie gaan meeding op 8 Februarie. Die Oscars vind einde-Maart volgende jaar plaas.

Sou Barakat die finale vyf haal, sal dit slegs die derde Suid-Afrikaanse fliek wees om ’n Oscar-benoeming te kry, naas Tsotsi (wat ook in 2006 die topprys gewen het) en Yesterday (2004).

Jeptha sal ook die vierde vroue-regisseur wees wie se film as Suid-Afrika se inskrywing in aanmerking vir die Oscars kom – en ook die eerste vrou van kleur. Sy is deur Katinka Heyns (in 1997 met Paljas), Jann Turner (2009, White Wedding) en René van Rooyen (2020, Toorbos) voorafgegaan. 

Barakat volg verhaal van die weduwee, Aisha Davids (vertolk deur die altyd-briljante Vinette Ebrahim), in die rol van die matriarg van ’n Moslem-familie soos haar vier seuns steeds sukkel om die dood van hul pa twee jaar vantevore te verwerk. Zunaid, Zaid, Yaseen en Nur keer terug huis toe om Eid-ul-Fitr te vier (of Labarang soos wat dit in Kaapstad genoem word). Die seuns het nog nie vrede met hulle pa se dood gemaak nie en daar heers konstante konflik tussen hulle. Midde Aisha se pogings om haar gebroke familie te herenig, leer haar seuns ook van haar nuwe verhouding – en verlowing.

In die rolle van die vier seuns is Joey Rasdien (Material), Mortimer Williams (Erfsondes), Keeno-Lee Hector (The Riviera) en Danny Ross (Number 37/Nommer 37).

Die res van die rolverdeling sluit in SAFTA-wenners Quanita Adams (Forgiveness) en June van Merch (Sara se Geheim), asook SAFTA-benoemdes Bonnie Mbuli (Noughts & Crosses, Catch a Fire) en Leslie Fong (Isidingo).

Jephta het saam met Ephraim Gordon die draaiboek geskryf. Jephta ook die draaiboek van nog ’n veelbekroonde prent, Ellen: The Story of Ellen Pakkies (nou op Showmax), behartig. Dié fliek was dan ook Suid-Afrika se Golden Globes-inskrywing as beste buitelandse fliek in 2018. 

Die film sal vanaf 18 Desember op kykNET beskikbaar wees en vanaf Maart op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies