In Angeliena Kruiper se helderpienk waghuisie hang ʼn kandelaar van blink kristalle uit die plafon. Die weerkaatsing verlig, byna toweragtig, haar groot versameling waaiende Chinese-katbeeldjies, Russiese matryoshka-poppies en die derduisende foto’s en poskaarte van plekke regoor die wêreld wat sy graag wil besoek.
Angeliena (Euodia Samson) is al vir jare ʼn motorwag by ʼn hospitaal en haar drome strek veel verder as die beperkings wat haar moeilike lewe stel: sy wil ʼn wêreldreis onderneem en spaar jare lank om dié droom te verwesenlik.
Met ʼn eklektiese vriendekring en haar hospitaal-tuin vol kitsch pienk flaminke en vrolike tuindwergies, kleur Angeliena haar wêreld met weerbarstige vrolikheid in.
Totdat sy die nuus kry dat sy ʼn (ongespesifiseerde) neurologiese siekte het en die uurglas besig is om leeg te loop. Haar groot droom kan nie langer wag nie.
As alles omtrent dié nuwe Suid-Afrikaanse fliek op Netflix maar net soveel lae en diepte gehad het soos Angeliena se kleurryke woonplek en waghuisie, sou dit ʼn classic kon word. Hier was nou ʼn geleentheid om ʼn plaaslike storie met groot trefkrag te vertel vir ’n plaaslike én internasionale gehoor.
Motorwagte soos ons hulle ken, is immers eg Suid-Afrikaans en dis goed om aan dié hardwerkendes se menslikheid herinner te word. Korrupsie, vriendskap, emosionele mishandeling, die dood en eindelik ook hoop, is van die universele temas wat die fliek aanspreek.
Ongelukkig is die storielyn té flou en steun dit te sterk op stereotipes en karikature wat die “Nelson Mandela-reënboognasie” wat dit wil vereer, geen gunste doen nie.
Die bekroonde skrywer en regisseur Uga Carlini is bekend vir die empatiese en treffende manier waarop sy vroue-heldinne se verhale vertel. Dink maar aan Alison, wat op Showmax te sien is.
As alles omtrent dié nuwe Suid-Afrikaanse fliek op Netflix maar net soveel lae en diepte gehad het soos Angeliena se kleurryke woonplek en waghuisie, sou dit ʼn classic kon word.
Hoewel sy lekker bestanddele vir Angeliena bymekaar gebring het, wou sy dalk té veel met ʼn enkele fliek vermag. Die gevolg is ʼn dun storielyn, karakters wat in die meeste gevalle maar net buitelyne bly en ʼn heldin wat nie tot haar reg kom nie. Die fliek wissel ook tussen ʼn soort pienk-spookasem-magies-realistiese magic (dink reuse, hiper-realistiese skoenlappers in Angeliena se tuin en ʼn toneel in ʼn afslaankapmotor met ’n wapperende serp) en ʼn gestroopte, meer realistiese aanslag (lugskote van wat dalk die Kaapse vlakte is en tonele in ʼn luukse eetplek). Die aanslag herinner nogal aan ʼn fliek soos Chocolat. Die styl kan heerlik werk, mits die fondasie waarop dit gebou word sterk genoeg is.
Die gevolg hier is ongelukkig in die meeste gevalle verwarrende spronge tussen sommige akteurs wat oorspeel en ander wat onderspeel (laasgenoemde dikwels met meer sukses) en te veel wat ongesê gelaat word.
As Angeliena wen Euodia Samson (Twisted Christmas) ʼn mens se hart net-net.
Haar grimering (wat haar harde lewe letterlik op haar gesig moet skryf) is in sommige tonele sό swaar aangewend, dat dit nogal lyk of sy gesukkel het om die emosie deur die prostese te laat skyn. Gelukkig weet Samson hoe om haar oë die praatwerk te laat doen en dit is veral in Angeliena se broosste oomblikke wat sy haar karakter werklik laat leef.
As Auntie Dot doen June van Merch (Sara se Geheim), wat altyd formidabel is, wat sy kan met wat sy het. Sy is veral baie snaaks in ʼn toneel waar sy met fortuinvertelling en waaiende incense-stokkies haar lotto-nommers kies.
Kuli Roberts (Headline) is heerlik camp as hul vriendin Tina en Sandra Prinsloo (Twee Grade van Moord) het ʼn kort, prettige cameo as winkelier.
Thapelo Makoena (Trackers) het ʼn sterk teenwoordigheid as dr. Alasa – dis net jammer sy karakter kry nooit die geleentheid om werklik te ontwikkel nie en as die slymerige dr. Mitchell is Colin Moss in die kol.
Mnr. Majaba (Tshamano Sebe), Angeliena se groot vriend en cheerleader, is ʼn belangrike rat in die wiel en hoewel Sebe ʼn onmiskenbare warmte aan sy karakter verleen, is sy spel met tye net té “groot” in verhouding tot sy mede-spelers sʼn.
Die televisie-aanbieder Marciel Hopkins (Boer soek ʼn vrou) verbaas met haar komiese vermoëns as verpleegster Debbie, maar haar karakter verdwyn vir die middelste deel van die fliek en mens kan dus nooit regtig sien wat in haar steek nie.
Hoewel dit altyd lekker is as ʼn rolprentmaker jou genoeg vertrou om self tussen die lyne te lees, het kykers tog ʼn paar leidrade (en konteks) nodig om een en een bymekaar te sit. Teen die einde van Angeliena is daar ʼn frustrerende klomp vrae wat onbeantwoord gelaat word. Die gevolg is dat die karakters én kyker in die steek gelaat word: Hoe op aarde kon ʼn hospitaal wat veronderstel is om sy eienaar sakke vol geld in die sak te bring, ʼn grondpad as inrit hê? Wat presies was Angeliena se verhouding met haar ‘Captain’, mnr. Majaba? Hoe lyk haar en Lily (Nicole Amy Madell) se verweefde geskiedenis? Kom daar ooit iets van die vonk tussen suster Debbie en dr. Alasa waarmee daar in een van hul min tonele saam geflikflooi word?
En seker een van die mees tergende vrae: Waarom het dr. Mitchell werklik sy mes sό diep vir Angeliena in dat hy haar ʼn spul vreeslike dinge aandoen?
Daar ís darem ook ʼn paar dinge wat die fliek Vrydagaand-kykbaar maak en jou die ander dinge (soortvan) kan laat vergeef as jy regtig net wil kyk sonder om veel te dink.
In ʼn lieflike en hartseer terugblik kry mens ʼn blik op Angeliena se kinderdae en die dood van haar ma. Dis deels te danke aan Trevor M. Brown se kinematografie wat dié toneel so treffend is. Hy kry dit ook in ander skote reg om emosie en atmosfeer te skep wat op ander maniere ontbreek, al is dit dan ook in your face: stormwolke en ʼn donker see voorspel probleme; dolfyne wat uit die see spring hou die belofte van hoop in en een besonderse sonsondergang kan nie anders as om ʼn mens te roer nie.
Dieselfde geld vir die komponis Charl-Johan Lingenfelder se musiek en die res van die puik klankbaan.
Al slaag Angeliena nie heeltemal as volronde storie nie, ís die fliek tog ʼn bewys dat daar plaaslik geen tekort aan fliektalent is nie. ʼn Mens kan maar net hoop daar sal nog heelwat kanse wees om Suid-Afrikaanse stories op dié platform te vertel.
Kyk Angeliena op Netflix.
Nog Suid-Afrikaanse flieks
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →