Marita van der Vyver se roman Die dinge van ʼn kind, is in 1994 vir die eerste keer uitgegee en het sedertdien ʼn soort coming of age-kultusstatus in Afrikaans gekry.
Destyds is beskrywings soos “grensverskuiwend” vir die boek gebruik en in ’n onderhoud op LitNet praat Van der Vyver oor universele emosies soos liefde en verlies wat tot die boek se blywende gewildheid bydra.
Voor in my ma se kopie van die roman, deel van daai eerste drukoplaag, is ʼn koerantknipsel van ʼn onderhoud met die skrywer wat daardie jaar in Boekewêreld in die Afrikaanse dagblaaie gepubliseer is. Daarin sê Van der Vyver dié storie het by haar gespook vandat sy aan die begin van haar skrywersloopbaan haar jeugboeke geskryf het: “Ek het gevoel daar is ʼn storie wat ek oor die tienerjare wil skryf wat ek nie in ʼn jeugboek kan skryf nie. Wat my betref is hierdie die een éérlike tienerstorie.”
Bykans dertig jaar later is die storie van Die dinge van ʼn kind steeds presies dit: ʼn eerlike blik op ʼn komplekse tydvak in Suid-Afrika wat ʼn lewenslange impak op mense gelaat het. Maar meer nog, ʼn rou vertelling van die ongemaklike mensword-ervarings van die tienerjare. Dit was seker net ʼn kwessie van tyd voor dit ook vir die skerm verwerk is.
Grootword was nog nooit maklik nie…
In die laat 70’s, waarin die een deel van die roman en die reeks afspeel, was die destydse Nasionale Party nog aan bewind. Jong mans is grens toe gestuur vir ʼn sinlose oorlog. Die reëls van moraliteit is bepaal deur verwaande ou ooms in grys pakke met twyfelagtige morele waardes. Die enigste gesprek wat (die meeste) ouers ooit met hulle kinders oor seks gehad het, was ʼn kopknik in die rigting van cringeworthy boeke oor die dinge wat seuns en dogters wil weet.
En hoewel die konteks waarin tieners grootword verander het, het die 16-jarige hoofkarakter, Mart Vermaak, se tiener-ervaring in essensie dieselfde gebly as tieners se lewens vandag. Toegegee, vandag moet tieners rekening hou met die druk van sosiale media en die vrye vloei van massas sinvolle én sinlose inligting oor seks. Dit kan dalk tot selfs meer verwarring bydra as wat Mart uit haar kamermaat Dalena se onervare sekspraatjies wysgemaak word. Punt is, grootword was nog nooit maklik nie.
Dieselfde eerlikheid as in die boek het gegeld vir die gevierde toneelstuk waarin Cintaine Schutte sedert 2020 opslae maak. Die boek is vir dié eenvroustuk verwerk deur Francois Toerien. Daarvoor het Schutte die rol van Mart as tiener en jong ma in haar vroeë dertigs, haar eie gemaak. In die televisie-reeks vertolk sy die rol van Mart in haar vroeë dertigs. Dit sou nie anders kon dat juis dié aktrise hierdie rol moes speel nie.
Getrou aan die boek én vernuwend
In haar nuwe skoolskoene, as televisiereeks vir kykNET en nou op Showmax, word daar nie ingeboet op Dinge van ʼn kind se eerlikheid nie. Dit is in 2023 net so relevant soos toe dit gepubliseer is.
Mens hou gewoonlik asem op as ʼn gewilde boek vir die skerm verwerk word (dit kan maklik verkeerd uitdraai). Maar in hierdie geval het Quentin Krog en sy mede-regisseurs, Tinarie van Wyk-Loots en Zandré Coetzer, getrou gebly aan die bronmateriaal, terwyl hulle ook vernuwend daarmee te werk gegaan het.
Daar is etlike tonele in die eerste vier episodes wat lyk soos wat ek dit met die lees verbeel het. Die eerste skote in Mart se koshuiskamer wanneer haar ma haar daar aflaai, gee mens hoendervleis. Tog word die verhaal baie sinvol tot in ons hedendaagse konteks verplaas deur ʼn derde tydperk van Mart se lewe, haar sestigs, by die storie in te skryf, iets waarvan ʼn mens nie lees in die boek nie.
In haar nuwe skoolskoene, as televisiereeks vir kykNET, word daar nie ingeboet op Dinge van ʼn kind se eerlikheid nie. Dit is in 2023 net so relevant soos toe dit gepubliseer is.
Dié insluiting van ʼn ouer Mart, met gravitas en deernis vertolk deur die bekroonde Susanne Beyers, was ʼn geïnspireerde stuk skryfwerk deur die draaiboek-skrywers, Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg. So kry die reeks ʼn vastrapplek in die hede. Dit gee ook vir ʼn nuwe geslag kykers ʼn wegspring-blok na die res van die verhaal. En vir lesers wat dalk sou wonder “wat volgende?” in Mart se lewe gebeur het, is hier nou boonop ʼn paar antwoorde.
Die ouer Mart is ʼn onafhanklike vrou. ʼn Suksesvolle skrywer van polities-gesentreerde romans. Maar sy het ʼn ongemaklike verhouding met haar seun Pierre (Ludwig Binge). Die twee krap alewig aan mekaar soos net mense wat regtig lief is vir mekaar kan doen.
Vertolkings vat raak
Pierre se vrou Janine (Kim Syster) probeer middelman speel om die vrede tussen haar man en skoonma te handhaaf. Syster se vertolking is ʼn hoogtepunt en die tonele tussen haar en Beyers het ʼn ingeleefde warmte. Ook Binge se frustrasie met sy ma se hardkoppigheid tref die kol. Die dinge wat die een van die ander wegsteek, skep ʼn sterk spanningslyn. Hierdie drie karakters se storielyn verplaas die verhaal boonop baie doeltreffend na ʼn moderne, nuwe Suid-Afrika. Dit wys hoe ver ons tog al gekom het.
As die tiener Mart wat in haar standerd 9 jaar ontwortel word uit die Kaap en in die tronkagtige koshuis moet gaan bly, staan die aktrise Melissa Myburgh haar karakter se skoolskoene met die nodige onskuld en ontluikende volwassenheid vol. Haar vertolking is genuanseerd en subtiel. Ontnugtering, skok, verlies en liefde speel om die beurt in haar oë, of in ʼn trek om haar mond.
Die kyker leer, soos in die boek, die ander karakters vanuit Mart se perspektief en fyn waarneming ken. Nes Mart, weet ʼn mens nooit regtig alles omtrent die mense wat die naaste is aan haar nie. Niks word uitgespel nie en almal hou maar ʼn deel van hulself geheim. Soos Dalena (Mienke Ehlers), Mart se rebelse vriendin, wat haar weerloosheid en donkerte agter dapper praatjies en uitlokkendheid wegsteek. Ehlers beeld haar karakter se rebelse broosheid met begrip uit – dis ʼn opwindende vertolking. Ons het almal so iemand geken op skool.
Ben Albertyn se vertolking van die agtienjarige Pierre Malan wat grens toe gestuur word, moet ook uitgesonder word. Hy beeld sy karakter se volwasse lewensbeskouing en sinisme, maar ook sy vrees, lakonies uit.
Jana Kruger is Mart se ma, Marlene Vermaak, en van haar sou ʼn mens graag meer wou sien. Die rol het net-net nie genoeg om die lyf nie. Tog skep Kruger in haar enkele tonele die indruk van ʼn vrou wat haar emosies onderdruk, maar dalk soveel meer sou wou hê.
Foto-albums
Heelwat navorsing is gedoen om die verskillende periodes waarin die reeks afspeel getrou uit te beeld. Baie (Afrikaanse) kykers sal dalk voel daar is tonele wat reguit uit hul eie familie-albums kom – van Marie Conradie se grimering en kostuumontwerp en die produksie-ontwerper Christian Joubert se stel-inkleding.
Krog konfronteer die kyker subtiel met die bevoordeling wat wit, Afrikaanse mense uit ʼn onregverdige bestel getrek het. Swart mense is dikwels op die grens van ʼn skoot – besig om die gras te sny, of die vensters te was. Nes Mart, kan ʼn mens nie anders as om te kriewel oor dié verwysings nie. Dit lewer belangrike sosiale kommentaar, ook vir hedendaagse kykers.
Die spronge tussen die hede en verlede word soomloos gemaak deur kinematograaf Marius De Nysschen se slim kamerawerk. Met die terugflitse klim ʼn mens saam met Mart in haar herinneringe, wat deurentyd op enkele karakters, plekke en gebeure gefokus bly. Dit neem ʼn soort droomagtige gevoel aan met wasiger kleure en die gebruik van wyer lense en nabyskote. Die tonele wat in die hede afspeel is met langer lense geskiet.
Met Dinge van ʼn kind het Krog en sy kollegas weereens vermag om sterk, relevante televisie in Afrikaans te skep. Lesers kan maar met ʼn geruste hart naderskuif om te kyk.
Vanaf 11 Mei 2023 op Showmax beskikbaar om te stoom.