Menu terloops
In Onderhoude [16 Mei 2022]

Ludwig Binge oor die ‘nuwe’ hoofstuk in ‘Dinge van ʼn kind’


Die akteur Ludwig Binge vertolk die rol van Pierre O’Brien, die hoofkarakter Mart Vermaak se seun in ‘Dinge van ʼn kind’, en hoewel hy gewoonlik karakters kies wat baie van hom verskil, het dié karakter uit die staanspoor bekend gevoel.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou

Ludwig Binge oor die ‘nuwe’ hoofstuk in ‘Dinge van ʼn kind’
Kyk lokprent

Die akteur Ludwig Binge vertolk die rol van Pierre O’Brien, die hoofkarakter Mart Vermaak (Susanne Beyers) se seun. Beyers is een van drie aktrises wat die karakter van Mart – elk op ’n ander tydstip in haar lewe – in die TV-verwerking van Marita van der Vyver se boek, Dinge van ʼn kind, vertolk. Terwyl Beyers en Binge ma en seun speel, is Kim Syster in die rol van Pierre se vrou, Janine.

Waarom dink jy is Dinge van ʼn kind 30 jaar later steeds relevant, ook vir ’n moderne televisie-gehoor?

“Omdat die storie uit die perspektief van ’n tiener vertel word. Almal van ons is vir ’n aantal jare in ons lewens ’n verwarde tiener. Jy’s ongemaklik, nuuskierig, selfbewus en op ’n rollercoaster ride met jou hormone. Dis vormingsjare waarin ’n mens baie beïnvloedbaar is. Ek dink dis juis daarom so treffend om die storie uit Mart Vermaak se perspektief te vertel.

Mart beleef beide ’n politieke en seksuele ontwaking. Tieners is rebels en wil stroomop swem. Sy raak al hoe meer uitgesproke soos sy besef dat die media vir die publiek jok oor wat op die grens aan die gang is.”

Hoe het dit gevoel om betrokke te wees by die televisie-verwerking van die boek en wat het jou tot jou karakter, Pierre, aangetrek?

“Dit was natuurlik baie opwindend, maar om ’n boek te verwerk kom met ’n groot verantwoordelikheid. Veral as jy een verwerk wat so bekend en geliefd is soos dié een. Die gehoor gaan die reeks kyk met hoë verwagtinge en dis vir die vervaardigers uitdagend om ’n balans te vind tussen getrou bly aan die boek en hul eie stempel afdruk op die interpretasie daarvan.

’n Boek en ’n televisiereeks is nie dieselfde ding nie. ’n Roman maak staat op die leser se verbeelding, terwyl ’n draaiboek mik om iemand se verbeeldingswêreld op skerm vas te vang.

Ek verkies om karakters te speel na wie ek glad nie aard nie. Dis meer interessant en stimulerend, maar in Pierre Junior se geval het ek dadelik gegaan, ‘Ek verstaan hierdie ou, hy’s baie bekend’.

Ons deel baie karaktereienskappe, maar daar is genoeg waarmee ek nie kon vereenselwig nie, so hy’t my steeds geprikkel. Hy is, soos ek, nogal hardkoppig en eiewys, maar sy saving grace is sy humorsin.”

Waarom dink jy was dit belangrik om die tydperk in te sluit by die reeks waarin jou karakter ʼn volwasse man is en so komplekse verhouding met sy ma het? En natuurlik ook die verhouding tussen hom en Janine?

“Pierre Junior, Mart en Janine se storielyn lewer kommentaar op hoe baie ons samelewing sedert die sewentigerjare verander het… Maar ook hoe baie dieselfde gebly het. Pierre en Janine oorweeg sterk om te emigreer, soos Mart eens het, maar soos Mart worstel hulle met die gevoel van Suid-Afrika as huis. Die politieke klimaat speel weereens ’n rol, maar die regering het net nou ’n ander baadjie aan.
Dis nog steeds kompleks, maar daar’s ook baie positiewe ontwikkeling wat sedertdien plaasgevind het.

Inter-rasverhoudings is moontlik en al hoe meer die norm. Dis wonderlik, maar natuurlik kom dit met uitdagings, en deur die loop van die reeks moet Pierre en Janine maniere vind om hierdie uitdagings te oorkom.

Op die end is my storielyn vir my soos ’n liefdesverhaal. Nie tussen man en vrou nie, maar tussen ma en seun. Hulle vryf mekaar so verkeerd op, omdat hulle ewe hardkoppig en beginselvas is, terwyl hulle ook besef dat hulle nie eintlik ’n lewe sonder mekaar kan insien nie. Dis iets soortgelyk (sonder die romanse natuurlik) aan daai meisie of kêrel wat jy onweerstaanbaar vind, maar besef jy nie ’n gesonde verhouding mee kan bou nie.”

Vertel hoe dit was om saam met Susanne Beyers te werk as jou ma? Ook met Kim Syster? Julle het almal so ʼn gemaklike wisselwerking op kamera.

“Ek het beide Susanne en Kim vooraf geken. Susanne is bevriend met my ma, maar ook die ma van een van my beste vriende, die talentvolle akteur, Pietie Beyers. Daar was dus reeds ’n rapport en dink ons het albei ons karakters goed gepas.

Ek het vir Kim jare gelede leer ken in Cradock toe ons die kykNET-reeks, Spoorloos, geskiet het. Sy’s lieflik. Warm, vriendelik en geduldig. Ek was een dag op stel nogal knorrig omdat ek gefrustreerd was met myself. Dit kon nie vir Kim lekker gewees het om daardie dag teenoor my te speel nie, maar sy was so kind. Toe sy sien ek dink ek’t ’n toneel vrot gespeel, het sy my moed ingepraat. ‘You’re too hard on yourself’ het sy gesê. Ek sal dit vir altyd onthou.”

Vertel hoe dit was om saam met die onderskeie regisseurs aan die reeks te werk?

“Ek moet bieg, ek was effe bekommerd daaroor. Ek het gesukkel om te sien hoe drie baie uiteenlopende persoonlikhede dieselfde visie kan deurvoer. Maar hulle het my verkeerd bewys, want ek het altyd gevoel ons is almal op dieselfde bladsy.

Quentin Krog is die rustigheid self en bly altyd in beheer. Hy is self ’n uitstekende akteur wie se verhoogwerk ek nog altyd bewonder het, so ek’t geweet ek kan hom vertrou en sy raad vra as ek onseker was. Hy is ook baie ingestel op hoe die kamera rondom die akteurs moet beweeg en doen baie moeite om die detail te kry wat hy soek.

Tinarie van Wyk-Loots ken ek al vir jare. Sy voel soos ’n vriendin. Ons het al baie saamgespeel op die verhoog en sy’s ’n fenomenale aktrise. Ons het daarom ’n tipe short hand ontwikkel. Sy kon in ’n woord of twee vir my sê wat ek aan my aanslag moet verander en ek’t presies geweet wat sy wil hê.

Zandré Coetzer het ek vir die eerste keer leer ken. Sy’s dynamite. Kort, vurig en ongelooflik passievol. Omdat sy ook die uitvoerende vervaardiger is, was sy baie betrokke by die ontwikkeling van die tekste. So, sy het die storie báie goed geken, wat my weer aangevuur het om met dieselfde toewyding met die materiaal om te gaan. Sy is ook hiperintelligent en dit was baie lekker om karakter-dinge met haar te kon uitredeneer. Sy’s baie slimmer as ek, so ek het gewoonlik na haar geluister.

Met watter ander projekte is jy tans besig?

“Ek het aan die begin van hierdie jaar geskiet aan ’n rolprent saam met 17 Films. Dis ’n sielkundige riller met die naam, Blindelings. Ivan Botha het die regie behartig en ek’t gespeel teenoor Donna-Lee Roberts, Jacques Bessenger en Wilhelm van die Walt. Dit was ’n heerlike ervaring. Ons het ’n ball gehad.

Dan skryf ek. Ek’s al ’n geruime tyd ’n dialoogskrywer by die sepie, Suidooster, en lewer drie tot vier episodes per maand. Ek geniet dit vreeslik en werk saam met wonderlike mense. Verder skryf ek tans aan ’n rolprent-draaiboek wat later vanjaar verfilm word en volgende jaar rondom Moedersdag sal wys. Dis baie moeilik, maar ek leer so baie!”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van misdaadreekse
15

15+ van die beste spanningsbelaaide polisiereekse om nou te kyk

Wat om te kyk: Daar is heelwat ander meesleurende polisie- en misdaadreekse om te stroom – hier is ons keur van die huidige bestes.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2024: Vonke spat in ‘Bridgerton’ S3, ‘Juffrou X’ boei, en nog

Wat om te kyk: Die nuwe seisoen van ‘Bridgerton’, kykNET se moet-kyk dramareeks ‘Juffrou X’ en nog twee boeke wat in TV-reekse omskep is, ‘Dark Matter’ en ‘Maxton Hall’, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Mei 2024

Amanda se troebel verlede kom onder die loep, terwyl Kyla dalk ’n bietjie te hard kuier. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, 'Wyfie', kan verwag.

Meer

Jou ‘Arendsvlei’-gids vir Mei 2024

Die Vlei se mense kry hartseer nuus, verhoudings neem nuwe draaie, en Desmond sal moet pasop vir Audrey – 'Arendsvlei'-kykers kan na dít en nog meer in Mei uitsien. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies