Die aktrise Kim Syster vertolk die rol van Janine – die hoofkarakter, Mart Vermaak (Susanne Beyers) se skoondogter en getroud met haar seun, Pierre (Ludwig Binge). Beyers is een van drie aktrises wat die karakter van Mart – elk op ’n ander tydstip in haar lewe – in die TV-verwerking van Marita van der Vyver se boek, Dinge van ʼn kind, vertolk. Syster, Binge en Beyers is deel van ’n “nuwe” deel van die verhaal wat nie in Van der Vyver se boek is nie. Hulle vertolk die storie in die hede en Janine en Pierre se verhouding is ʼn integrale deel daarvan, meen Syster. “Dit wys nie net die nuwe Suid-Afrika nie, maar ook hoe hulle dinge anders doen.”
Het jy die boek geken voor jy by Dinge van ’n kind betrokke geraak het?
“Ek het nie die boek geken nie, al het ek daarvan gehoor. Ek het die vervaardigers gevra of ek dit moet lees om te help met die agtergrond van my karakter, maar hulle het gesê dit was nie nodig nie. Ek kon genoeg kry uit die draaiboek en die character breakdown.
Gewoonlik doen ek baie navorsing, soos wat ’n goeie akteur maar moet doen. Maar ek wou Janine aanpak as ’n completely neutral karakter; elke dag as ek op stel is, net iets nuuts leer van haar. Dit maak dit ook vir my makliker om meer spontaan na die karakter en die tonele te kyk, want dit help ook om te luister na dialoog asof dit die eerste keer is.
Ná ek by die voorskou was, het ek gedink dis definitief ’n boek wat ek moet lees. Veral nadat mense gesê het dis so ʼn mooi boek. So ek moet werk maak daarvan.
Was dit vir jou lekker om by dié reeks betrokke te wees, veral aangesien Janine so ʼn fantastiese karakter is?
“Met elke karakter wat jy aanpak, moet ’n mens ingaan met ’n clean slate, met ’n oop kop. Want dis nie net ’n nuwe karakter nie: dis ook ’n nuwe uitdaging, nuwe mense en nuwe energie wat jy op stel kry. So ek het dit verskriklik geniet.
Ek hou daarvan as regisseurs jou toelaat om net te speel. Hulle gee jou baie vleis om mee te werk, maar jy kan jou weergawe van die karakter gee. Die crew self het dit vir my net nog makliker gemaak, want daar was ’n safe space om in te werk.”
Waarom dink jy was dit belangrik om Janine en Pierre O’Brien (Ludwig Binge) se storie te vertel in Dinge van ‘n kind? Hoe sluit dit aan by die res van die verhaal?
“Die hede en verlede speel in die reeks af en in die verlede sien ons die apartheidsera. In die hede kry ons vir Pierre en Janine wat ’n inter-racial verhouding het in die nuwe Suid-Afrika – dis die hede en die toekoms. Ons sien byvoorbeeld watter noue band hulle met mekaar het. Hulle is beste vriende.
As ek dink aan watter taboe onderwerp seks was in die 70’s, in vergelyking met vandag… As millennial was die manier hoe mense in die 70’s oor seks gepraat het, vir my die snaakste. Vandag is ons soveel gemakliker om met jou man oor hierdie dinge te praat. Daai tyd moes ’n mens dit nie doen nie, want it’s not lady like.
Janine en Pierre se verhouding is so ʼn integrale deel. Dit wys nie net die nuwe Suid-Afrika nie, maar ook hoe hulle dinge anders doen.
Hulle beeld die verskillende tydperke so mooi uit en ek was trots om te kon deel wees daarvan.”
Hoe was dit om saam met Susanne Beyers (die ouer Mart) en Ludwig te werk? Jy en Susanne het regtig so ʼn warmte op kamera, asof julle regtig so wonderlike ‘skoonma/ skoondogter’-verhouding het.
“Susanne is net ’n legend in alle opsigte van daai woord. Nie net van al die werk wat sy tot dusver gedoen het nie, maar ook die tipe mens wat sy is. Sy is warm en sy het dit so maklik gemaak vir my om teenoor haar te kon speel, want sy is self ’n ma.
As die kamera nie gerol het nie, het ons gepraat oor ons families. My man was saam met haar seun, Pietie Beyers, op skool gewees. Ek het ook al self saam met Pietie gewerk. Hierdie is net amazing mense en dit was vir my so ’n groot voorreg om saam met haar in tonele te kan wees. Daai band was ’n goeie fondasie.
Dit was regtigwaar ’n groot voorreg om met haar te kon werk. Sy maak dit so maklik en laat dit so maklik lyk. Ek het haar maar dopgehou en ’n paar pointers gevang!
Vir die verhouding tussen Mart en Janine kon ek ook my eie goeie verhouding met my skoonma en ma gebruik as inspirasie.
En jy en Ludwig lyk ewe gemaklik saam voor die kamera.
Ek en Ludwig het al voorheen saamgewerk, maar nog nie voorheen so intiem nie. Ludwig is so ’n amazing mens. Omdat hy en Pietie sulke goeie vriende is en saam met my man op skool was, het ons heeltyd daaroor gepraat. En ons het geskiet op die skoolveld waar húlle skoolgegaan het, so ons het dit ook in gemeen gehad.
Hy het dit net so maklik laat voel en hy het my net gémaklik laat voel in elke toneel. For some reason het dit net gewerk. Ek voel as ’n akteur vir jou sekere dinge gee en hulle act nie net vir hulleself nie, is daar magic in daai tonele. Dít is wat Ludwig vir my gedoen het en vir my gegee het.”
Vertel hoe dit was om saam die verskillende regisseurs, Quentin Krog, Tinarie van Wyk-Loots en Zandré Coetzer aan die reeks te werk.
“Kyk, as jy aan die begin van ’n dramareeks begin skiet en jy vind uit daar is drie verskillende regisseurs, kan dit nogal daunting wees. Almal het verskillende idees van hoe dit geskiet moet word. Maar al het elkeen van die regisseurs ’n verskillende energie om hulle gehad, het hulle een common goal gehad. So as die een regisseur gekom het, het jy nie gevoel jy gaan van jou perdjie afgeskop word nie, of dit gaan nou dinge verander of so nie. Glad nie.
Maak nie saak wie op stel kom nie, of dit nou Quentin of Tinarie of Zandré was, ek net opgewonde geraak, want hulle het verskillende energie. Maar hulle het dieselfde momentum gehad en dieselfde idee gehad. Ek het altyd gevoel of die ander twee saam daar was as die ander een direct het, hoewel hulle nie was nie. Hulle het mekaar die space gegee om sy of haar ding te doen. Daar was daardie respek vir mekaar, wat so beautiful was.
Ek is so bly dat ek deel kon wees daarvan om onder daardie amazing regisseurs te kon werk. Hulle is elk talentvol in hul eie reg.”
Met watter projekte is jy tans besig?
“Op die oomblik is ek nie besig met enige projekte nie. Ek het so ʼn maand terug ʼn internasionale fliek gedoen en dit was vir my verskriklik lekker om iets heeltemal anders as die gewone te doen.
Ek hou my ook besig by ons plaaslike skooltjie in Mamre, Rising Rainbow Kids Academy. Dis my ma se baba en ek ondersteun haar waar ek kan en ek hou my so somtyds onderwyseres. Daar is bekwame onderwysers, maar ek sit hand by waar nodig. Ek geniet dit vreeslik om saam met die kinders te werk en dan is dit natuurlik ook lekker om gereeld my tuisdorpie te sien.”