Sy was ʼn 15-jarige hoërskoolmeisie toe Elanie Rupping die eerste keer vir Mart Vermaak in haar eie koshuiskamer ontmoet het. Die manier hoe sy na die wêreld en spesifiek haar eie land sou kyk, het vir altyd verander.
“Ons het Bloemfontein toe getrek van ʼn piepklein, konserwatiewe dorpie in die Vrystaat. Daar het ek nie net na ʼn multikulturele Engelse meisieskool gegaan nie, maar ook koshuis toe,” het Elanie vroeër op Facebook geskryf.
“Nooit sou ek kon raai daar kan soveel reëls en beperkings op ʼn mens se vryheid wees nie, maar dit was my nuwe realiteit. Ek was totaal oorweldig, tot ek die skool-biblioteek met sy enkele Afrikaanse rak ontdek het en Marita van der Vyver se boek Die dinge van ʼn kind daar gekry het.
“Nie net kon ek heeltemal vereenselwig met die vis-uit-die-water Mart nie, maar ek het dieper gevoel vir die karakters as met enige boek wat ek tevore gelees het. Maar belangriker as dit – die roman het verander hoe ek die wêreld sien en hoe ek my eie agtergrond, kultuur en plek in die geskiedenis verstaan het. Met empatie en begrip het die boek my geleer oor die wonde wat ons land dra.”
Fast forward sowat 17 jaar tot die oomblik wat Elanie ʼn e-pos van Marita van der Vyver in haar inboks gekry het met toestemming om Die dinge van ʼn kind vir die televisie te verwerk.
“Toe sê kykNET ja vir die reeks en Henriëtta Gryffenberg sê ja [om by die teks se verwerking betrokke te wees] en dié kosbare storie word ʼn tien-episode dramareeks…”
Iets wat saak maak
Elanie is daarvan oortuig die boek was een van die groot redes waarom sy in die eerste plek film gaan studeer het. Sy het ʼn honneursgraad in televisie- en film aan die Universiteit van Johannesburg behaal, met Engelse letterkunde en mediastudies daarby ingeklits.
Stories wat doodgewoon vertel moet word, stories met ʼn hart, maak haar opgewonde.
“Ek word nog altyd gedryf deur iets wat vir my saak maak. As jy nie iets met betekenisvolheid kan doen nie, is dit nie die moeite werd nie,” sê Elanie.
Die dinge van ʼn kind was nog altyd sό ʼn storie vir haar.
“Aan die een kant kon ek met Mart se ervarings vereenselwig, omdat ek self skielik ʼn koshuiskind was. Ek was ook ʼn skaam boekwurm,” sê sy. “Om van daar af te trek na ʼn groter stad en toe nog by ʼn multikulturele, Engelse skool te begin, was ʼn ontwaking.”
Apartheid was lankal verby toe Elanie hoërskool toe is, maar sy meen min het eintlik verander in die konserwatiewe dorpie waar sy vandaan gekom het. En al het sy op skool van Apartheid geleer, het die kliniese feite en datums nie die impak van dié bestel tuisgebring nie.
“Die boek het my gewys wat die denkwyse van baie Afrikaners was. Ek kon op 15 lees en verstaan waar my ouers vandaan kom. Die boek laat die skille op ʼn baie compassionate manier van jou oë afval.”
“Terwyl ons aan die teks gewerk het, het Henriëtta opgemerk dat dít is hoe dinge was toe sy op hoërskool was. Maar ek het vir haar gesê daar is steeds sulke denkwyses in die platteland. Dat ek dit ook ervaar het, al het ek in 2007 gematrikuleer.”
Stille rebel
Sy was nie ʼn tipiese rebel wat Fokofpolisiekar kliphard geluister het nie, verklap Elanie.
“Ek het ʼn rebelse natuur op ʼn stil manier. Ek sal eerder stil sit en ʼn storie skryf, as om die strate in te vaar. Ek word so ge-irk deur onreg… dis vir my verskriklik. Ek onthou hoe ek van kleins af my pa-hulle oor goed aangevat het.
Dit is waarom dit vir my so belangrik is dat die storie ʼn groter gehoor moes hê, want al het mense meer liberaal begin raak toe die boek die eerste keer uitgegee is, het dinge in ʼn mate weer regress. Mense praat steeds van die ‘goeie ou dae’ en dan wil ek vir hulle sê, néé, dit wás nie goed nie. Kyk!
Elanie Rupping
“Dit is vir my so belangrik dat die storie ʼn groter gehoor moes hê. Al het mense meer liberaal begin raak toe die boek die eerste keer uitgegee is, het dinge in ʼn mate weer regress. Mense praat steeds van die ‘goeie ou dae’ en dan wil ek vir hulle sê, néé, dit wás nie goed nie. Kyk!”
Die manier waarop Van der Vyver oor die Grensoorlog skryf, het haar ook laat besef dat daar te min oor hierdie deel van Suid-Afrika se geskiedenis gepraat word.
“Ek dink om oor hierdie dinge te praat en dit te verstaan, is vandag nog belangrik in ons land.”
ʼn Nuwe hoofstuk vir Dinge van ʼn kind
Elanie kon amper nie glo toe Marita van der Vyver ʼn e-pos van haar beantwoord en instem dat sy ʼn televisiereeks oor die boek aan kykNET kon voorlê nie.
“Nadat kykNET die reeks goedgekeur het, het Marita die regte van die boek oorgeteken. Al kon ons eintlik met die storie maak wat ons wou, was dit vir my belangrik om so na as moontlik aan die oorspronklike teks te bly,” sê Elanie.
Toe sy aanvanklik die idee voorgelê het om die boek te verwerk, was die storie wat in die hede afspeel, nie deel van die plan nie.
“Toe kykNET meer in die projek belê het, kon ons wyer begin dink. Ek onthou nog Henriëtta het gesê sy wonder waar is Mart nou en ek het dieselfde vraag gevra. Sό het die idee vir die storie ontkiem wat in die hede afspeel. Gelukkig het Marita van die konsep gehou, want ek dink nie ons sou dit sonder haar goedkeuring kon doen nie.”
Dié nuwe hoofstuk, wat afspeel wanneer Mart (Susanne Beyers) in haar sestigs is en ʼn volwasse seun Pierre (Ludwig Binge) het, was ʼn manier om uit te lig hoe die samelewing verander het sedert die apartheidsjare, maar ook om tuis te bring dat sekere denkwyses steeds moet verander.
“Die hede-storie was ook ʼn manier om karakters van kleur in te bring. Want hoewel die boek baie progressief was vir sy tyd, het die wêreld sedertdien baie verander. Dit was byna onmoontlik om in die verlede-storie volronde swart karakters in te bring. Daarom was dit vir my belangrik om ander stemme in te bring in die hede-storie,” sê Elanie.
Pierre se vrou Janine (Kim Syster) was in daardie opsig ʼn sleutel-karakter. Dit was egter vir Elanie belangrik om haar storie ook eerlik te vertel.
“As ʼn wit skrywer kan jy nie die ervarings van karakters van kleur heeltemal reg vertel nie. Om die dinamika van ʼn interrassige huwelik te verstaan, het ek met ʼn hele paar swart vroue gepraat wat met wit mans getroud is. Hulle was ongelooflik. Mense soos Crystal-Donna Roberts en Rozanne McKenzie was ʼn fantastiese klankbord.”
Grondboontjiebotter-broodjies
Die skryfproses het haar in alle opsigte uitgedaag. Van die diepte-bestudering van die boek, tot die uiteensetting van die reeks en die manier hoe elke episode ontvou om die storielyne uit die hede en verlede soomloos te verweef.
Die ervare TV-skrywer Henriëtta Gryffenberg sou aanvanklik net die draaiboek redigeer en verfyn. Maar sy het baie begin skryf en die twee het so goed saamgewerk dat sy en Elanie mede-skrywers geword het.
“Henriëtta is ʼn soort ma-figuur, ʼn mentor, en ek het ongelooflik baie by haar geleer,” sê Elanie. “Sy is baie gesteld daarop dat alle karakters volrond moet wees. En dat hulle foute moet hê. Daar moet misgivings wees wat opgelos word.
“Al is Mart dalk ons gunsteling-mens, moes sy steeds flawed wees.ʼn Mens sien dit byvoorbeeld in ʼn manier in die verhouding tussen die ouer Mart en haar seun uitspeel. Hulle dink hulle is baie liberaal, maar daar is steeds dinge wat hulle miskyk, of as vanselfsprekend aanvaar.”
In die hede-tydlyn het dit spontaan gebeur dat Gryffenberg in ʼn mate die ouer Mart se stem geword het. Dít terwyl Elanie vir Pierre se stem gesorg het, vertel sy. Dié dinamika het die teks versterk.
“Dit was ook ʼn uitdaging om elemente in die boek te kry wat reeds vasgelê was en dit te gebruik om die nuwe hoofstuk te komplementeer. Sό iets is byvoorbeeld die feit dat Mart van grondboontjiebotter-broodjies hou en te veel wyn drink… dinge wat ons probeer deurtrek het. En dan is daar ook die belangrike dinge wat Mart bly miskyk…”
In goeie hande
Elanie, deesdae voltyds ʼn teksskrywer by Binnelanders, was nie intiem by die produksieproses van Dinge van ʼn kind betrokke nie. Sy kon egter haar storie in veilige hande toevertrou, vertel sy. Hier staan veral Quentin Krog, een van die regisseurs, uit.
“Ek ken Quentin van my dae by Getroud met Rugby, waar ek ʼn skrywer was. Hy was daai tyd ʼn assistent-regisseur toe dit nog ʼn dramareeks was. Die volgende jaar het hy die regie van Sterlopers (op Showmax) gedoen. Ek het hom as jong akteur ervaar en toe beleef hoe hy soomloos begin regie doen het. Ek het baie respek vir hom.”
Sy kon ook nie meer gelukkig wees met die rolverdeling van Dinge van ʼn kind nie. “Dit werk net sό goed!”
Nie sommer enige storie nie…
Op 33 het Elanie al baie bereik in die plaaslike televisie-bedryf, maar haar suksesse verbaas haar steeds.
Die reeks Tydelik Terminaal, wat gegrond is op haar eie ervaring met kanker toe sy nog op universiteit was, was ʼn reuse-mylpaal. Sy het nie net die reeks alleen geskryf nie, maar ook die regie van ʼn paar episodes gedoen. Boonop is die reeks baie goed ontvang (gaan kyk dit op Showmax).
“Ek het destyds nie gedink Tydelik Terminaal gaan ooit gemaak word nie. Daar is ʼn swart hoofkarakter, ʼn gay hoofkarakter en was ongewoon vir Afrikaanse televisie.”
Sy was oorbluf toe groot name soos Anna-Mart van der Merwe en Zane Meas ingestem het om rolle in Tydelik Terminaal te aanvaar, vertel sy laggend.
Nes Tydelik Terminaal, was Dinge van ʼn kind ʼn storie wat sy doodgewoon móés vertel. Vir nou wag sy geduldig tot die volgende belangrike storie op haar hart kom druk.
En ʼn mens kan met sekerheid weet, dit sal nie sommer enige ou storie wees nie.