Menu terloops
In Recaps & Resensies [14 Feb 2022]

‘Sex in Afrikaans’ is loshande SA se stoutste ‘kriewel-kykstof’ 


Showmax se nuwe dokumentêre reeks, ‘Sex in Afrikaans’, kan loshande Suid-Afrika se mees omstrede TV-inhoud gedoop word, meen die resensent Christiaan Boonzaier.

Deur Christiaan Boonzaier

Kyk nou

‘Sex in Afrikaans’ is loshande SA se stoutste ‘kriewel-kykstof’ 
Kyk lokprent

Dit is nogal amusant hoe veral Afrikaanssprekendes agteruitdeins wanneer seks as onderwerp ter sprake kom.

Hoewel, na my mening, ingewikkelder gesprekke oor die politiek, godsdiens, rassekwotas in sport en deesdae selfs geestesgesondheid met mening aangepak word, bly seks in Afrikaans ’n gesprekspunt wat agter geboute deure weggesluit word.

Die rede daarvoor lê geanker by die ou dwaalstorie dat Afrikaanssprekendes wye draaie om seksgesprekke loop omdat hulle met betrekking tot hul bedsake bloot konserwatief is, maar dít glo die vervaardigers van die nuwe Showmax-dokumentêr Sex in Afrikaans nié.

In ses breedvoerige en deeglik nagevorste episodes is Afrikaanssprekendes en seks onder die loep en kry kykers ’n kykie na dít wat werklik in die diepnag agter dié geslote deure gebeur.

Laat dit sommer uit die staanspoor gestel word: Buiten die Afrikaanse mans wat doeke dra om seksueel geprikkel te word, word daar nie op enige ander plek in die reeks doekies oor die onderwerp omgedraai nie. Hier word, eintlik vir die eerste keer, rondborstig oor seks gepraat en die naakte waarheid oor Afrikaanssprekendes se sekslewens ontbloot. Die reeks se ouderdomsbeperking is vir ’n goeie rede 18 weens geweld, naaktheid, seks en taal . . .

Die eindproduk kan vir ooglopende redes as “kriewel-kykstof” geklassifiseer word – inhoud wat jou só laat lag, huil, bloos of ongemaklik maak dat jy soms van begin tot einde in jou stoel rond skuifel.

Christiaan Boonzaier

Die dokumentêr wentel om die sielkundige en seksuoloog Bradley Daniels se openhartige seksgesprek met vier Afrikaanse paartjies en twee Afrikaanse enkellopendes, wat nie net hul eie seksuele voorkeure en ervarings deel nie, maar ook uiteenlopende menings gee oor die sekskepades waaraan ander Afrikaanssprekendes hul hand waag.

Dié gesprek word met onderhoude afgewissel wat gevoer is met mense wat avontuurlustige sekslewens het en selfs plek-plek ’n lewe daaruit maak of hul lewe aan seks wy, soos sekswerkers, die eienaars van sekswinkels en -klubs, tannies wat stoute kabouters (lees: meestal boere) met rottangs ’n goeie pak slae gee, en paartjies wat onder mekaar swing.

En dit raak selfs nog warmer: BDSM-meesters en vuisfokkers praat… wel… uit die vuis oor hul fetisj – ook ’n man wat dapper genoeg was om te erken hy word bevredig wanneer skerp hake deur sy vel geboor word en hy soos ’n stuk vleis in ’n slaghuis aan die hake die lug in opgehys word (en ja, die kameras rol wanneer hy wys hoe dit gedoen word).

Die eindproduk kan vir ooglopende redes as “kriewel-kykstof” geklassifiseer word – inhoud wat jou só laat lag, huil, bloos of ongemaklik maak dat jy soms van begin tot einde in jou stoel rond skuifel.

Sex in Afrikaans, a new Showmax Original debuting on 14 February 2022.
Sex in Afrikaans is Showmax se nuutste dokkie-reeks en werp lig op die sekslewens van die Afrikaanse gemeenskap.

Sex in Afrikaans sal jou beslis laat bloos en lag – ’n natuurlike reaksie wanneer, byvoorbeeld, ’n opwipwinkel met seksspeelgoed in die reeks in Parys opgeslaan word om te kyk wat Vrystaters daarvan dink – maar dit gaan jou ook ongemaklik maak, en dit is goed so. Dit is eintlik wat ’n goeie dokumentêr moet doen: Dit moet ’n lig op ’n breukdeel van die samelewing skyn wat kykers konfronteer, uitdaag, laat dink en aan die praat kry oor iets, in hierdie geval seks, wat op een of ander tyd en in een of ander gedaante deel van menswees is.

Hoewel die reeks ook plek-plek ontstellend is – dit kan loshande Suid-Afrika se mees omstrede TV-inhoud gedoop word – wil ek kykers wat onthuts word, uitdaag om nie dadelik ’n brief aan die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (beter bekend as die BCCSA) te skryf nie, maar eerder asem te skep en te fokus op dít wat die dokumentêr regkry: Metafories gesproke is die reeks se hoofdoel om kykers daaraan te herinner dat daar nie net sout en peper in die speseryrak is nie – daar is ook naeltjies en tiemie, laventel en aalwyn, borrie en basilie, wat jou verhouding kan opkikker en dit selfs van ondergang kan red.

Kyk Sex in Afrikaans daarom met ’n oop gemoed en ’n tikkie waagmoed. Jou horison sal beslis verbreed word.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

Gesinsvermaak: Kyk dié 8 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Barbie’ tot ‘Fuller House’ – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lange skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Desember 2024

Amanda probeer realiteit ontwyk, terwyl Kyla se lewe ontrafel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Desember 2024

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van Netflix se rekordbreker-reeks, 'Squid Game'; die Afrikaanse reeks 'Spooksoeker'; en die skrywer Gabriel García Márquez se magnum opus, 'One Hundred Years of Solitude', wat in ’n uitsonderlike TV-reeks omskep is, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié sewe kinkels in Desember

Kapenaars weet dat die Kaapse Dokter behoorlik moeilik in Desember kan word, maar vanjaar word ’n orkaan van donker wolke vol drama vir Ruiterbosch oor die vakansieseisoen in ‘Suidooster’ voorspel. 

Meer
Sien alle opsies