Watkykjy het met Sex in Afrikaans se aanbieder, die kliniese sielkundige en seksuoloog Bradley Daniels, oor die reeks gesels.
Jy het ’n meestersgraad in kliniese sielkunde van New York University en spesialiseer as ’n seksuoloog. Wat het jou belangstelling in dié onderwerp geprikkel?
Ek het nog altyd in mense belanggestel en as tiener het ek baie daarvan gehou om oor genetika, seks en geslag te leer. My ouers was baie oopkop en het altyd die strewe na die intellektuele ondersteun en aangemoedig.
Jy het nou al baie jare se ondervinding en het seker al alles gesien en gehoor…
Jy leer elke dag iets nuuts, en dit is ook waar van my ervaring met Sex in Afrikaans. Dit was ’n wonderlike gevoel om sien hoe dít wat ek nog altyd net in handboeke gelees het, prakties saamgevat word in so ’n opwindende projek. Dis asof die handboeke voor my oë lewendig geword het!
Seks is steeds ’n taboe-onderwerp in Suid-Afrika en oordeel uit godsdiens-kringe het sekerlik ’n rol in die gebrek aan oop gesprekke daaroor, of hoe?
Ek stem saam, seks is steeds ’n taboe-onderwerp in Suid-Afrika, veral as dit by godsdiens- kringe kom. Hoewel baie mense hulself nie noodwendig as baie godsdienstig beskou nie, is dit waar dat ons onbewustelike sosialisering steeds binne ons manifesteer. As jy in ’n streng godsdienstige huishouding grootgeword het, bly dit in die onderbewussyn en mense sukkel om die integrasie tussen godsdiens en seksualiteit te bewerkstellig. As geloof uit die prentjie gelaat word, sou mense dalk meer openlik oor seks kon praat, maar nie noodwendig nie. Dit kan dit dalk wel ’n bietjie makliker maak vir mense om hul seksualiteit te aanvaar en te verwelkom. Dit is egter nie nodig om tussen godsdiens en seksualiteit te kies nie – dit is deel van menswees. Ek dink baie mense het hulp nodig om die twee in hul lewens te integreer.
Ek dink tog dit is dieselfde in alle gemeenskappe wat konserwatief is. Niemand praat regtig oor seks nie; dis ’n baie sensitiewe onderwerp. Selfs mense wat hulself as liberaal beskou, sukkel om oor seks te praat en dis ook deels omdat baie mense nie die taal vir seks en seksuele praktyke het nie. Deel van die seksuele gesondheidspraktisyn se werk is om mense die nodige taal te gee.
Wat poog julle om met hierdie reeks bereik?
Sex in Afrikaans gaan beslis grondverskuiwend wees. Tydens verfilming het ons gesien dat daar soveel vrae rondom seks is: hoe mense seks sien, hoeveel mense seks verstaan of nie verstaan nie, alternatiewe sekspraktyke, fetishes, pornografie, swinging, BDSM en soveel meer.
Die belangrikste aspek van my betrokkenheid by Sex in Afrikaans is om grootskaalse opvoeding te kan doen sodat mense meer kan verstaan oor seks en seksualiteit en die uiteenlopende maniere waarop seks verken en uitgeleef kan word. Ek dink die gehoor sal beslis daarby baat. Ons het baie pret gehad, maar ek is ook ’n baie ernstige persoon, en die reeks is ook baie leersaam.
NS: Sex in Afrikaans het ‘n 18SNVL ouderdomsbeperking, en kykers word gevra om hulle goeie oordeel te gebruik. Showmax-intekenare met kinders word aangemoedig om die ouer-beheer-funksies te gebruik, en ’n kinderprofiel te skep. Dit sal verseker dat jonger kykers slegs toegang het tot reekse en flieks wat geskik is vir hulle ouderdomsgroep. Vir ekstra sekuriteit, aktiveer Parental Control en stel ’n PIN om toegang tot ouderdomsbeperkte inhoud te beperk.