Menu terloops
In Onderhoude [15 Feb 2022]

“Ek het gehuil asof iemand gesterf het” – Boudine Ballem gee haar áls as Ruby in ‘Arendsvlei’


Sy het deur haar eie seer en verwerping gewerk voordat sy die rol van ’n weerlose tiener wat deur haar ma mishandel word, aangevat het, vertel Boudine Ballem oor haar ‘Arendsvlei’-karakter, Ruby Fortuin.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou Arendsvlei

“Ek het gehuil asof iemand gesterf het” – Boudine Ballem gee haar áls as Ruby in ‘Arendsvlei’
Kyk lokprent

Sy het geweet sy sou baie, baie diep moet grawe om Ruby te vertolk, vertel Boudine Ballem (28). Kykers van die kykNET-telenovela Arendsvlei het in Januarie vir Ruby ontmoet. Klein leidrade het egter drupsgewys laat blyk dat Ruby se realiteit inderwaarheid donker geheime versteek.

Haar ma, Denise (vertok deur Chantal Herman) vertel vir almal dat Ruby baie siek is. Haar swak longe en bros bene, sê Denise, is hoekom sy in ’n rolstoel is. Maar Ruby het in ’n onlangse episode haar onderwyser en klasmaats geskok toe sy uit haar rolstoel opgestaan het. En toe laat bars sy die bom: Sy kán stap, erken Ruby, maar sy mág nie. Dis haar ma wat haar belet.

Sy het baie tobwerk gedoen toe sy die rol gekry het, vertel Boudine. Gee ons genoeg aandag aan die kinders rondom ons – veral as dit nie ons kinders is nie? En doen ons genoeg (of eintlik enigiets) as ons vermoed of sien dat iets nie pluis is nie?

Ruby se storielyn, wat meerendeels draai om die kindermishandeling wat sy deurmaak, sou haar nie net uit haar gemaksone dwing nie, maar sou ook ’n wyer impak kon hê, het Boudine besef.

’n Uitdaging beslis, maar met dié rol sou sy lig kon werp op ’n allerbelangrike onderwerp wat nie dikwels lugtyd kry nie – veral nie in sepies nie – en sy het die kans aangegryp.

Boudine vertel sy het geweet sy sou diep moes grawe om kykers ongemaklik te maak en die fokus te plaas op die tekens wat ons té maklik mis, selfs as dit voor ons oë, in ons gemeenskappe, in ons buurte, gebeur.

Wat maak hierdie storielyn so belangrik en hoekom dink jy gaan dit kykers aanraak?

Ek dink Ruby gaan mense se oë oopmaak. Kykers ontmoet haar as ’n gebroke persoon met ’n ma wat baie vir haar dogter omgee. Daar is egter baie meer aan hul storie. Kykers gaan besorgd raak oor Ruby en mense gaan haar wil beskerm.

Dikwels gee ons nie genoeg aandag wanneer ons hierdie soort tekens sien nie; veral as dit nie vir ons direk raak nie. Met Ruby kan jy dit egter nie ignoreer nie – dit is elke aand, in elke episode voor jou. Ek dink dit gaan mense aanmoedig om meer aandag aan die kinders rondom hulle te gee.

Het die storielyn as ’n verrassing gekom en wat was jou reaksie toe jy die draaiboek vir die eerste keer lees?  

Toe ek die rol aanvaar het, het ek geweet my karakter gaan ’n siek kind wees, maar ek het nie al die details gehad nie. Ek het eers later die volle storielyn gehoor en onmiddellik begin huil. Dit het my diep geraak, maar dit was presies wat ek wou hê.

Ek was opgewonde om haar storie te vertel en my veelsydigheid as aktrise te wys. Ek wou my alles gee en het besluit ek gaan Boudine heeltemal afskud. Ek wou Ruby word en kykers invested in haar storie maak.

Ek het op klein dinge gefokus om Ruby so eg as moontlik te maak, soos die manier hoe sy soms diep asemhaal of effens lag en haar mond trek.

Hoe het jy vir die storielyn en die rol voorberei?

Om vir Ruby voor te berei, het ek na gedeeltes van flieks en reeks soos The Act gekyk om te sien hoe akteurs die rol van ’n siek persoon vertolk. Ek wou húl bewegings sien; die emosies kom egter alles van my af. Ek het al baie pyn en verwerping in my lewe ervaar en ek het na daardie kwesbare en donker plek gegaan om Ruby se emosies uit te beeld.

As Boudine was ek bang om so kwesbaar te wees, maar ek wou nie as Boudine daar wees nie. Ek het myself gedwing om in Ruby se skoene te klim.

Daar is een spesifieke episode wat baie emosioneel is en ek het dit my álles gegee. Soveel so, dat ek in trane uitgebars het nadat ons klaar geskiet het. Ek het gehuil asof iemand gesterf het. Almal op stel het dit gerespekteer en my die vryheid gegee om só kwesbaar te voel.

Ons sien baie stories van geweld, bende, dwelms en alkoholmisbruik op TV, maar kindermishandeling word nie so prominent uitgebeeld nie. Dit moet meer in ons gesigte wees, sodat mense kan weet waarvoor hulle moet uitkyk. Ek dink ons (die Arendsvlei-span) kry dit reg.

Hoe het jy seker gemaak dat jy die balans tussen Ruby en Boudine hou?

Voordat ek hierdie rol gekry het, het ek vir ’n tydjie net aan myself gewerk. Ek het deur ’n donker tyd gegaan en moes deur baie van my eie seer, wrok en verwerping werk. My mental health journey was nie altyd maklik nie, maar ek het sterker daar uitgekom.

So, toe ek met Ruby se emosies moes werk, was ek nie meer bang vir daardie donker emosies nie. Ek kon tussen Ruby en Boudine onderskei, en ek het nie toegelaat dat Ruby se gevoelens vir my as Boudine affekteer nie. Op stel het ek dit natuurlik gevoel en uitgeleef, maar sodra ons klaar is met ’n toneel sê ek vir myself ‘ons is klaar, ek is fine en ons kan aanbeweeg’.

Dit klink nou baie eenvoudig en dit is nie eintlik altyd so maklik as wat ek dit laat klink nie. Ek weet egter wat vir my werk en tog kry ek daardie gesonde balans tussen my werk en my persoonlike emosies.

Wat het jou vertolking van Ruby vir jou oor jouself geleer?

Die grootste les wat ek tot nou geleer het, is dat ek eintlik voor mense kwesbaar kán wees. As Boudine wil ek altyd sterk wees en ek haat dit om my emosies te wys. Ek sal nooit voor mense huil nie, maar as Ruby moes ek doen.

Nou voel ek liberated en ek besef dat dit heeltemal normaal en nie ’n teken van swakheid is nie.

Hoe het jou mede-akteurs en almal op stel vir jou gehelp om hierdie storielyn te vertolk?

Die ondersteuning was ongelooflik. Ek en Chantal (wat die rol van Ruby se ma vertolk) het van die begin af mekaar vertrou. Ons het ’n vriendskap gevorm en mekaar gehelp waar ons kan. Almal het die proses gerespekteer en as ek ’n moeilike toneel moes doen, was daar stilte op stel. Ná ’n swaar toneel het mense my eers uitgelos totdat ek uit daardie space gekom het. Daarna het ons weer gelag en grappies gemaak.

Die hele span by Arendsvlei is baie professioneel en ons het almal baie respek vir mekaar. Ek het van dag een gevoel dat dit is waar hoort. Ek is so dankbaar vir die geleentheid om te kan leer en groei saam met van die beste akteurs in die land.

Kyk Arendsvlei Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv 145) en DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies