Menu terloops
In Onderhoude [10 Mar 2022]

Chanelle de Jager vertel oor ‘Projek Dina’, eerlike emosies en lewe in die Kalahari


Die rol van die polisievrou Ronel Oosthuizen in ‘Projek Dina’, nou op DStv, was Chanelle de Jager se eerste groot rol in ʼn dramareeks. Sy het met Riëtte van der Wat gesels oor hoe sy in dié karakter se vel geklim het.


Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou

Chanelle de Jager vertel oor ‘Projek Dina’, eerlike emosies en lewe in die Kalahari
Kyk lokprent

Ná ʼn dag op die stel van Projek Dina, was Chanelle de Jager en haar medespelers dikwels diep geruk.

Die stories wat hulle in dié dramareeks vertel, wentel om kinders en volwassenes wat vermis raak; om moord en verraad; om die onbeantwoorde vrae en hartseer van mense wat nie weet wat van hulle geliefdes geword het nie.

“Die sake in die reeks is losweg gegrond op ware verhale. Die vervaardiger, Roberta du Randt van Penguin Films, het baie tyd saam met die vermiste persone-taakspan deurgebring voordat sy die reeks begin skryf het. So die karakters en die hele bloudruk vir die storie, is op regte mense en hul verhale gegrond,” vertel Chanelle vanuit die Kalahari, waar sy die afgelope twee jaar saam met haar verloofde woon.

“Dit raak ʼn mens diep, omdat jy weet daar is regtig iemand wat vanaand steeds nie haar kind gekry het nie, of dat iemand jare later steeds soek na haar ma…”

Brownies bak of slagoffers soek?

In die tweede seisoen van Projek Dina, tans op kykNET, hervat Chanelle die rol van die passievolle adjudant-offisier Ronel Oosthuizen.

Ter wille van kykers wat nog nie die eerste seisoen klaar gekyk het nie, sal ons nie te veel hier verklap nie, buiten dat kykers Ronel se bittere teleurstelling moes ervaar aan die einde van die eerste seisoen toe sy net-net haar tweelingsuster Dina in Mosambiek misgeloop het. (Jy kan die eerste seisoen op Showmax kyk om op te vang!),

Die nuwe seisoen speel twee jaar later af. Ronel het die taakspan verlaat en probeer genesing vind deur ʼn huisvrou te wees. Sy bak selfs brownies vir haar dogter se skoolfondsinsameling. Haar gesin (Jacques Bessinger speel in hierdie seisoen haar man), is haar hooffokus. Maar dan kom klop haar spanmaats van Projek Dina, die polisie in Kaapstad se spesiale eenheid vir vermiste persone, by haar aan, met die wortel van ʼn vermiste jong man onder haar neus.

Ronel kan maar net nie wegbly nie. Haar terugkeer na die taakspan krap egter die wonde oop wat sy so hard probeer heelmaak het. Gaan haar persoonlike lewe vir die soveelste keer hierdie uitdaging kan oorleef?

Ronel is ʼn plat op die aarde karakter. No nonsense. Maar sy is deeglik en sal geen leidraad onaangeraak laat om skuldiges aan die pen te laat ry nie. Agter die sterk masker wat sy dra, is sy egter broos. Sy dra swaar aan die las van die verlede, aan Dina se verlies en haar eie skuldgevoel. Dit is ook waarom die “Stepford wife”-persona nie lank hou nie…

Onderdrukte emosie

Om haar karakter met eerlikheid te vertolk, het Chanelle haar eie emosies as bronmateriaal gebruik. Dit is ʼn metode wat sy dikwels gebruik om in ʼn karakter se vel te klim: “Kindertjies se emosies is rou – as hulle huil, huil hulle. As hulle iets wil hê, soek hulle dit nόú. Soos ons groter word, word daardie emosies stompgevyl en onderdruk. Jy moet hoor ‘komaan, word nou groot’… Maar dis nie te sê daardie emosies is nie meer daar nie. ʼn Mens ontgroei dit nie, jy onderdruk dit net,” sê Chanelle.

Toneelspel laat haar lewendig voel en sy beskou dit as ʼn soort katarsis om daardie onderdrukte emosies na die oppervlak te laat kom en te verwerk deur as’t ware iemand anders te word. Wanneer sy enige karakter aanpak, fokus sy ook op al haar sintuie. Ook op diere, vertel sy: “My karakter Des du Pondt in Egoli was mos so ʼn vreeslike spontane, flirtatious karakter. Daar was destyds ʼn strokiesprent op televisie met ʼn vreeslike parmantige voëltjie wat so rondgeparadeer het. Iemand het gesê dit laat hulle aan Des dink.

Toneelspel laat haar lewendig voel en sy beskou dit as ʼn soort katarsis om daardie onderdrukte emosies na die oppervlak te laat kom en dit te verwerk deur as’t ware iemand anders te word vir ʼn rol.

“Dit het my laat besef elke karakter het diere-kwaliteite. Ronel is soos ʼn vissie wat onderwater leef. Sy reageer vinnig, maar sy het ook stilte nodig.”

Voor ʼn toneel is dit ook stilte wat vir Chanelle anker: “Ek gebruik klanke, reuke en die dier waarmee my karakter identifiseer as ʼn padkaart. Dan is my kop reg.”

Komiese verligting

Dié aanslag kom egter met ʼn verantwoordelikheid om ook na haar eie welstand om te sien. Iets wat sy vir ander akteurs ook aanbeveel.

“Jou geestelike- en emosionele gesondheid as aktrise of akteur is belangrik en daarom is dit nodig om elke dag ná stel te debrief. My roetine is amper soos meditasie. Ná ʼn dag op stel was ek my grimering af en kom na my eie realiteit terug. Anders kan ʼn mens maklik emosioneel getap word.”

Haar mede-akteurs in Projek Dina, Tim Theron as Kaptein Deon Visagie en Chumani Pan as Sersant Lux Dladla, het darem gereeld vir komiese verligting op stel gesorg.

“Die onderwerpe waaroor die reeks gaan is so swaar en niemand sou deur van die tonele gekom het as hulle nie daar was nie! Tim het ʼn bitter droë humorsin en ek hoef net vir hom te kyk om te begin lag.

“Waar ék voor ʼn toneel moet fokus, kan hy en Chumani nog sekondes voor ʼn ernstige toneel grappies maak. En dan is hulle heeltemal in karakter as ons begin skiet,” sê Chanelle. “Maar hulle is baie professioneel en speel hul karakters so goed.”

Chanelle de Jager Projek Dina S2
Chanelle de Jager vertolk die rol van adjudant-offisier Ronel Oosthuizen in Projek Dina.

Sy het dit baie geniet om weer saam met die regisseur, Liezl Spies, aan haar eerste groot rol in ʼn dramareeks te werk.

“Liezl is ʼn baie spesiale mens in my lewe. Toe ek op hoërskool was, het sy dramaklasse aangebied. Een keer per week het my ma my op Donderdae by haar afgelaai vir drama.

Dina was haar eerste groot regie-projek en ons was bitter bly dat ons lewenspaaie ons weer hier byeen kon bring.”

Unieke stories

Chanelle het al in verskeie oorsese produksies gespeel, waaronder die derde seisoen van die gewilde Outlander. Daarin het sy ʼn Sweedse bokwagter, Annekje Johansen, teenoor Caitriona Balfe vertolk. Hierdie tipe werk is opwindend en lekker. Tog is Chanelle ook trots op die gehalte van die werk wat plaaslike akteurs en tegniese spanne lewer.

“Daar is net ʼn handjievol akteurs en ʼn handjievol crew en die mense raak die heeltyd besig met wat hulle doen, omdat hulle so baie werk.

“As Suid-Afrikaners het ons stories ook ʼn spesiale sprinkel kaneel wat dit baie hart gee. Ons stories is uniek,” sê sy.

Projek Dina is geen uitsondering nie.

“Die reeks is ʼn bewys van hoe versigtig ons moet wees,” sê Chanelle. “Mensehandel is meer winsgewend as dwelmhandel en dis iets waarop sindikate al meer fokus.

“Jy kan ook baie leer oor die stappe wat die polisiediens volg om ʼn vermiste persoon te soek. Daar is baie red tape en korrupsie in die hoë range wat die polisie se werk nog moeiliker maak.”

Ver in die Kalahari

Chanelle se eie storie het twee jaar gelede ʼn interessante kinkel gekry, toe sy die Kaap vir die Kalahari verruil het, om daar saam met haar geliefde ʼn plaashuis te restoureer. Sy het dié “spesiale man”, wie se naam sy nie wil noem nie, sowat ʼn jaar voor Covid ontmoet. Vandag woon hulle saam op Geelkop, naby Keimoes in ʼn groen strook langs die Oranjerivier.

Ek het ʼn week voor die harde lockdown my laaste boksie gepak en van die Wes-Kaap af na die Noord-Kaap getrek. Ek dink ʼn engel het vir my uitgekyk.

Chanelle de Jager

“As jy op Google Maps kyk, sien jy die woestyn aan die een kant van die pad en die groen aan die ander. Hier is soveel kontras, soos die droogte en donderstorms.

“Ek het ʼn week voor die harde lockdown my laaste boksie gepak en van die Wes-Kaap af na die Noord-Kaap getrek. Ek dink ʼn engel het vir my uitgekyk.”

Een voorwaarde wat sy gehad het om in die Kalahari te gaan woon, was dat hulle Wifi moet hê.

“Ek hoef nie meer in die Kaap of Johannesburg te wees om oudisies af te lê nie – deesdae kan ek ʼn video-oudisie instuur.”

Ontluikende Kalahari-kunstenaar

Die internet help haar ook om in voeling te bly met wat in die wêreld aangaan. Dit is ook aanlyn wat sy haar nuwe passie ontdek het: om skedels kunstig met die hand te kerf.

“Ek het ʼn gekerfde skedel op Instagram gesien en vir my verloofde gesê ek wil dit ook doen. Hy het vir my toerusting gekoop en met ʼn bakkievrag kopbene hier aangekom!”

Sy verkoop haar werk op Instagram onder die vaandel van Chanelle de Jager Carvings en sy kan nie voorbly met bestellings nie: “Mense is mal daaroor!”

https://www.instagram.com/p/CTUeDH6oXew/?utm_source=ig_web_copy_link

En as sy iets nie weet nie, soos hoe om ʼn koedoe se horing los te kry, vra sy net die groot gemeenskap “skull carvers” op sosiale media vir raad.

Projek Dina is Dinsdae om 20:00 op kykNET. Die fliek Stroomop, waarin Chanelle ook speel, is tans op Showmax te sien.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies