Menu terloops
In Onderhoude [10 Feb 2022]

Geïnspireer deur liefde: ‘Jy moet veg daarvoor,’ sê Mila Guy


Mila Guy, bekend vir haar rol as Malanie in die skaterlag-snaakse reeks, ‘Hotel’, en as Lana in ‘7de Laan’, se eerste aanbiedersrol is ene pampoenkoekies en troues in die VIA-realiteitsreeks, ‘Eendag’.

Deur Rozanne Els

Kyk nou Eendag S2

Geïnspireer deur liefde: ‘Jy moet veg daarvoor,’ sê Mila Guy

In Eendag sien ons hoe paartjies wat nie kon troue hou nie – vir welke rede ook al – ’n kans kry om uiteindelik die knoop voor die kansel deur te haak en hul eie liefdespartytjie te hou. Dromerig en romanties, nè? Behalwe dat die 13 paartjies sélf al die trouereëlings moet tref – in slegs een dag, vertel Mila Guy. 

Die reeks se tweede seisoen het pas op VIA (DStv-kanaal 147, Woensdae om 20:00) en DStv Online begin, met Mila wat die leisels by die eerste seisoen se aanbieder, Reandi Grey, oorgeneem het. 

Hier gesels Mila met terloops

Eerste, maar nie die laaste

“Hopelik is dit die eerste (aanbiedersrol) van nog baie. Dis nie net ’n nuwe geleentheid nie, dis ook anders as toneelspel, iets anders as regie. Dit is ’n heel ander veld wat ek kan explore. Ek hou daarvan om myself in die diep kant te gooi en myself uit te daag, en dít is dan ook hoe ek die rol gesien het: as ’n nuwe uitdaging. In my oudisie-video, het ek ook vertel hoe ek al sewe keer ’n strooimeisie was, so ek kán ’n trouprogram aanbied!

’n Mens het só ’n groot idee van liefde, wat dit moet wees, of hoe dit moet lyk dat jy soms vergeet om dit net te voel en in die oomblik saam met die persoon te wees. Ek dink dit het my net weer laat besef dat liefde ’n keuse is en jy moet daarvoor veg.

Mila Guy

“Dit is definitief iets wat ek nog altyd wou doen – of ten minste probeer. Soos ek gesê het, dit is heeltemal anders as toneelspel. Dit is hééltemal jy. Jy moet saam met hierdie mense kwesbaar wees, veral omdat dit ’n realiteitsprogram is. Hierdie is regte mense, hulle gaan deur regte dinge, veral wat liefde betref. Liefde is boonop ’n moeilike ding om mee kwesbaar te wees – en tog hier (in die reeks) wys ons almal daai kwesbaarheid. Dis twee mense wat vandag trou. Dis ’n stresvolle dag”. 

‘Tonight…on E!

“Ek het altyd E! News op TV gekyk en Giuliana Rancic (een van die aanbieders) was altyd so cool. Sy het onderhoude met al die celebrities gedoen en ek wou dit ook so graag doen! Haar styl is ’n mengsel van professioneel, tog gemaklik, en ek hou baie daarvan. Maar ek het nooit na aanbieders gekyk en gedink, ‘okei, watse styl moet ek nou na-aap nie.’ Ek het maar net gegaan met my gut gevoel en besluit om so eg as moontlik te wees; om so in die oomblik as moontlik saam met hierdie mense te wees”. 

Mila sit sommer hand by om met die bruid se grimering en hare te help. Foto: Holmes Photography

Geliefd, deur dik en dun 

“Al die paartjies was regtig ongelooflik – elke storie het in sy eie reg, op sy eie manier uitgestaan. Elke keer was ek verras deur iemand se ervarings, wat al met hulle gebeur het, of hoekom hulle nog nie kon troue hou nie. Elkeen het my regtig geïnspireer. Daar was Arno en Amanda wat destyds in die hof getrou het, later geskei is en toe nou weer getrou het. En hulle kon uiteindelik fees vier! Dan is daar ’n paartjie wat op die rugbyveld ontmoet het. Die laaste plek wat jy dink jy sal iemand ontmoet is by jou kind se sportsbyeenkoms! Elcan en Dalene, net hul liefde vir mekaar. Marion en Mario…hy is ’n kwadrupleeg en hul storie het my regtig aangeraak. Elke liewe paartjie het iets anders tot die reeks gevoeg; elke liewe paartjie se liefde het my net weer geïnspireer. Hul liefde is so eg en hulle is daar (by die troue) vir mekaar. Ja, hulle wil hierdie groot dag hê, maar hulle wil dit hê juis omdat hulle so lief vir mekaar is. ’n Mens kan daai liefde sien, dit straal eintlik uit. Dit was regtig ’n baie lekker geleentheid om deel daarvan te wees. 

“Elke keer het ek geluister en elke keer was daar net nog ’n storie wat ek gegaan het, ‘wow, okei.’ ’n Mens het só ’n groot idee van liefde, wat dit moet wees, of hoe dit moet lyk dat jy soms vergeet om dit net te voel en in die oomblik saam met die persoon te wees. Ek dink dit het my net weer laat besef dat liefde ’n keuse is en jy moet daarvoor veg. Dit kan moeilik wees, maar as dit die regte persoon is, gaan julle deur dit kom”.

Die grootste lesse op stel 

“Ek moes leer om net rustig te wees en dit net te geniet. Ek dink baie keer het ek baie druk op myself gesit omdat dit my eerste aanbiedersrol is, en ek wil hê dat daar nog geleenthede uit dié rol moet spruit. Dit was ’n gevoel van ‘ek moet nou perform en dit moet nou perfek wees anders gaan ek nooit weer hierdie kans kry nie.’ En ek moes net besef, ‘ja, wees professioneel, ken jou woorde, maar wees in die oomblik en geniet dit ook. Geniet die geleentheid wat jy nóú het.’ Op ’n persoonlike vlak, moes ek leer om nie alles te oordink nie. Hierdie mense het een dag om ’n troue te reël en hulle het min opsies, maar tog is dit steeds vir hulle ’n sprokiestroue en hulle is gelukkig en dankbaar daarvoor. So, om ook net in die lewe (oor die algemeen) nie alles te oordink nie. Maak die beste van wat jy het”. 

13 troues later

“Die kos was definitief ’n hoogtepunt vir my. En die dans! Ek het nooit gedink ek sal 13 troues in twee en ’n half maande bywoon nie, but here we are! Ons was ’n lekker span, ons het lekker gedans by al die troues, lekker kos geëet. Ons het nogal baie keer pampoenkoekies geëet, maar daar was een keer ’n malvapoeding wat ’n vrou gemaak het en dit was ongelooflik. Joe, dit was ongelooflik lekker”. 

Padkaart vir die toekoms

“Miskien nog ’n sepie, nog ’n reeks, ietsie anders wat totaal en al nie ek is nie wat my uit my gemaksone gaan dwing…en dan hopelik nog baie aanbiedersrolle. Ek het ook ’n kortfilm geregisseer wat by vanjaar se Silwerskermfees speel, Skyn. Ek is baie trots daarop en ek hoop dit lei tot nóg geleenthede”. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme
0

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer
Sien alle opsies