Menu terloops
In Onderhoude [21 Jan 2022]

Die lyne raak soms dof tussen hom en Juan, sê Marvin-Lee Beukes oor sy karakter in “Die Byl”


Marvin-Lee Beukes hervat sy rol as kapt. Juan Stuurman in die vierde seisoen van die gewilde kykNET-reeks “Die Byl”.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

Die lyne raak soms dof tussen hom en Juan, sê Marvin-Lee Beukes oor sy karakter in “Die Byl”
Kyk lokprent

As kind was film en televisie sy toevlug, die plek waar hy veilig en sonder kommer kon wegraak tussen die storielyne en karakters. ’n Paar dwars draaie kón die einde van sy loopbaan beteken het, maar die akteur en skrywer Marvin-Lee Beukes (35) is eens dat verkeerde besluite nie jou toekoms hoef te bepaal nie.

As student was die lewe een groot jol en dikwels was drank en dwelms deel sy alledaags. Sy eerste rol het hy amper deur sy vingers laat glip; op die dag van die oudisies kom hy teen dié keuse te staan: lees lyne of gaan rook ’n joint.

“Ek was ’n dramastudent op Stellenbosch en daai dag is oudisies vir ’n rol in Binnelanders gehou. Ek wou saam met vriende gaan rook het, maar toe vra iemand om saam met hulle lyne te lees,” vertel Marvin-Lee. “Ek het besluit om saam te gaan (na die oudisie) en daar aangekom, is ek aangesê om óók te oudisie omdat ek reeds al die woorde geken het,” sê hy met ’n effense skaam glimlag wat om sy mondhoeke kuier.

“Ek het die rol gekry en onthou hoe ek nie kon glo toe ek die eerste dag op stel akteurs soos Hans Strydom (in die rol van At Koster) sien nie. Vir ’n rukkie het ek gedink, ‘I’ve made it’ en dat mense wat sukkel om werk in die bedryf te kry seker net nie goed genoeg is nie,” sê hy.  “Maar ek is vinnig terug aarde toe gebring toe ek vir ’n jaar ná Binnelanders nie werk kon kry nie.”

Terug as Juan in Die Byl

Die Byl se vierde seisoen het pas op DStv begin, met nuwe episodes wat weekliks uitgesaai word. Binge ook die vorige drie seisoene eensklaps op Showmax. Foto: Verskaf

Marvin-Lee hervat die maand weer sy rol as die briljante reeksmoordenaar-jagter Juan Stuurman in die vierde seisoen van die gewilde kykNET-reeks Die Byl waarin hy ’n tipe protégé van die meesterspeurder Piet van der Bijl (Byl) speel.

“Juan was my eerste groot rol in ’n dramareeks,” vertel Marvin-Lee en voeg by: “Omdat ek hom nou al vir ’n vierde seisoen speel, blur die lyne soms en weet ek nie waar Marvin-Lee begin en Juan eindig nie.”

Dié karakter, sê hy, herinner hom immers baie aan homself.

“Ek sit baie in om hom outentiek te speel. Juan is ook een van die hoofredes vir my fitness journey. Toe ek hom aanvanklik begin speel het, wou ek nie moeg en uitgeput wees as ons heeltyd agter moordenaars moet aanhardloop nie. Ek moet darem fiks lyk en wees, so toe begin ek ’n paar dae ’n week oefen en nou is dit deel van my roetine.”

Hy wil nie veel oor die nuwe seisoen verklap nie, behalwe om te sê dat Juan se selfontdekkingsreis vrugte werp – én sy verhouding met dr. Shani (Trudy van Rooi) bereik nuwe hoogtes. Ja, lekker vaag…

Tweeling-trekpleister

Marvin-Lee vertolk ook die dubbele rol van die vervreemde tweelingbroers Donovan en Greg in die sepie Suidooster. Terwyl die een ’n suksesvolle argitek is (wat op sy baas verlief raak), is die ander ’n dwelmverslaafde wat telkens in troebel water is.

“Die karakters verskil dag en nag, maar daar is iets in albei wat my aan myself herinner. Ek het van die begin af geweet hulle (die storie se vervaardigers) soek iemand wat twee rolle kan vertolk, al het ek nie presies geweet hoe dit sou uitspeel nie. Die feit dat dit ’n tweeling is, was ’n groot trekpleister vir my en ek het geweet as ek nee sê, sou ek nooit weer die kans kry om ’n tweeling te speel nie.”

Marvin-Lee Beukes as Donovan in Suidooster. Foto: Verskaf

In die werklike lewe het Marvin-Lee ’n broer, maar hulle lyk glad na mekaar nie, verseker hy. En anders as sy besige karakters, is Marvin-Lee ’n huishoender wat mal is oor sy rustige lewe in die Boland. Wanneer hy nie saam met sy kat, Nova, voor die televisie is of in die kombuis sjef speel nie, is hy druk besig om lyne te leer of om aan ’n nuwe draaiboek of projek te werk.  

‘Ek love die hele kreatiewe masjien’

Al boei sy toneelspel, soos met sy rol in die Showmax-riller Dam of as Juan in Die Byl, is Marvin-Lee ook ’n talentvolle skrywer. Hy het al aan episodes vir die kykNET-sepie Binnelanders geskryf en was ook deel van die skryfspan van die gewilde neo noir Showmax-riller, Skemerdans, wat op die Kaapse Vlakte afspeel. Hy werk ook tans aan drie ander projekte, maar sê vinnig dat anders as toneelspel, moet hy regtig baie inploeg om hierdie gedeelte van sy loopbaan te koester.

“Ek love die hele kreatiewe omgewing en -masjien. Solank ek movies en TV kan maak, is ek happy, maar om ’n script te skryf is nie altyd maklik nie. Ek moes maar ’n hele paar Youtube-video’s aan die begin kyk om my te help,” sê hy.

Die afgelope drie jaar was hy geseënd met baie werk, maar hy weet ook hoe dit voel wanneer die werk opdroog en dit is hoekom hy nou meer as ooit aandag en tyd aan sy skryfwerk bestee.

“Dit gee jou stability en met werk agter die skerms, kan jy jou tyd en inkomste beter beplan. Maar as ek een ding geleer het, is dit dat alles tot ’n einde kom. Elke reeks en elke karakter se journey sal uiteindelik eindig. As jy dít onthou, is dit makliker om realisties te wees en te beplan,” sê hy.

Jou grootste berge leer vir jou die grootste lesse, maar tog, mense breek ook nie so maklik nie. Niks in die lewe is onmoontlik nie.”

Marvin-Lee Beukes

Van te veel jol tot lewensveranderende omwenteling

As jy vir Marvin-Lee oor sy talent vra, sê hy bloot dit is net genade dat hy vandag steeds in die bedryf kan werk én die respek van sy kollegas het. Hy glo dit is juis die uitdagings wat hy teëkom, wat van help om as akteur te groei en te verbeter deur dié ervarings as inspirasie te gebruik om in karakters se skoene te klim.

“Ek dink ek sou langer as ’n jaar by Binnelanders (as akteur) kon gewerk het, maar ek was nie ’n betroubare werknemer nie. Ek het slegte besluite in my jeug gemaak en te veel gejol. Ek onthou hoe ek eendag nog ’n bietjie dronk by ’n stel opgedaag het. Ek het daardie dag vir myself gevra, ‘wow, het ons nou tot by hierdie punt gekom?’.”

Maar die groot omwenteling in sy lewe het eers omtrent sewe jaar gelede gekom toe hy eendag op sy ma se stoep met sy tweede bottel wyn sit. Hy het altyd gedink hy drink om die lewe te geniet en om van sy pyn wat hy gevoel het te vergeet, maar toe hy daar sit, het hy besef hoe ongelukkig hy is.

“Dit was die dag toe ek besluit het, genoeg is genoeg. Maar dit was nie maklik om net so op te hou nie. Ek het hulp gekry, omdat ek maar nog altyd ’n verslawende persoonlikheid gehad het. Om eerlik te wees, weet ek nie hoe social drinking lyk nie, want daar is nie ’n grys area met my nie. Dit is of swart of wit; ek is altyd op een kant van die extreme.”

Vandag drink hy glad nie en fokus eerder daai energie en tyd op sy loopbaan.

“Jou grootste berge leer vir jou die grootste lesse, maar tog, mense breek ook nie so maklik nie. Niks in die lewe is onmoontlik nie.”

Hy onthou nou nog hoe hy as kind woord vir woord enige toneel uit American Ninja 4 vir sy familie kon opvoer.

Tog – as hy destyds geweet het wat hy nou weet, sou hy moontlik ’n ander loopbaanrigting ingeslaan het, erken hy. Dit ten spyt is daar niks anders wat hy wil doen as aanhou om homself in die wêreld van TV en film te dompel nie – minstens vir nou.

Binge S1-3 van Die Byl op Showmax. Die nuwe seisoen word weekliks op DStv uitgesaai en is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies