Aksietonele laat my altyd wonder of die akteurs sélf die waaghals gespeel het. Daar is immers sekere akteurs wat daarop aandring om hul eie doodsveragtende toertjies te doen. Tom Cruise, ster van die adrenalien-belaaide Mission Impossible-flieks, is een van hulle. Die sepie-aktrise Jolene Martin van Arendsvlei-faam, is ’n ander.
Of dit nou is vir die adrenalien, of bloot die kans om die karakter beter te vertolk, is Jolene (as Beatrice Cupido in die sepie) ywerig om haar liggaam én karakter uit te daag. Soveel só dat sy in haar vrye tyd ekstra moeite en tyd in oefening belê om as Beatrice vir enigiets gereed te wees.
’n Onlangse storielyn het juis gesien hoe dié sweet en trane vrugte werp toe sy haar eie stunts kon doen: Beatrice is ontvoer en in aanhouding pimpel en pers geslaan. Dis danksy Beatrice se vegmoed – en Jolene se vaardighede – dat sy uiteindelik die traumatiese ervaring oorleef.
Hoewel Beatrice weer veilig by die huis is, vat dié storielyn nog ’n paar draaie in die vlei.
terloops het met Jolene oor stunts, beserings, en adrenalien gesels.
Oor die ontvoeringstorielyn se treffendste stunts
“Ek het gevra of ons twee spesifieke elemente kon insluit om die kyker in te trek: Die eerste was om Beatrice aan haar hare oor die vloer te sleep. Die tweede was dat die ontvoerder vir Beatrice in haar ribbes moet skop. Laasgenoemde was nodig, want ek wou hê die karakter moet mank loop terwyl haar liggaam herstel. Ons moes ekstra opleiding daarvoor skeduleer en almal het saamgewerk om die storielyn gestand te doen.
“Daar is ook nog ’n toneel wat uitstaan: In seisoen een gly Beatrice oor die kombuisvloer nadat haar man haar gestamp het. Dit was een van die uitdagendste toertjies wat ek nog op Arendsvlei gedoen het.
“Die vreesaanjaendste oomblik was egter in die derde seisoen toe ek op die rand van ’n krans moes staan. Die hele span het daai dag regtig goed na my omgesien. Ek waardeer hulle!”
Oor die eina van dit als
“Stunts verloop nie altyd volgens plan nie en ’n klein berekeningsfout het vir my drie gekneusde ribbes gekos. So, vir die skop in die ribbes, het ons toe uiteindelik die ontvoerder se jeans en skoene vir die stunt-koördineerder aangetrek om dit realisties, asook veilig, uit te beeld.”
Die herstelpad
“Vir my is dit die ergste om alleen te herstel. Ek woon alleen en gooi myself heeltemal in my werk in, maar dit is rof om gekneus by die huis aan te kom. Daar is niemand wat vir jou kan help om trappe te klim, ’n paar anti-inflammatoriese pilletjies te bring, of om ’n warm bad te tap nie. ’n Mens moet regtig jou warrior spirit in daardie tye vind.
“My ergste besering was ongetwyfeld sowat ses jaar gelede op ’n rolprentstel in Mpumalanga. Ek moes op my rug val, maar my kop het vir ’n sekonde die grond getref. Iets het los gevoel in my mond, en ek het besef ’n tand het gekraak. Terwyl ek nog daaraan voel, het ek die helfte van die tand uitgetrek. Die ander helfte het ek uitgespoeg. Dit was ’n duur stunt!”
Dis nie altyd maklik nie…
“Die moeilikheid is as jy daardie stunts oor en oor moet doen. Om dit ses of so keer in ’n ry perfek te kry, toets jou regtig!
“Team work makes the dream work kom regtig hier ter sprake. Kykers besef dalk nie – en dit is ’n goeie ding – presies hoeveel werk dit verg om ’n stunt suksesvol te doen nie.
Terwyl ek nog daaraan voel, het ek die helfte van die tand uitgetrek. Die ander helfte het ek uitgespoeg. Dit was ’n duur stunt!
Jolene Martin
“Eerstens is daar die professionele span. Ek maak baie staat op Zahir Carlie, ons stunt-koördineerder, en sy regterhand, Sergio. Soms is daar maande se voorbereiding. Vir die boksstorielyn, het ek op my eie Muay Thai-klasse geneem. Ons is ook na Vibrant Sport gestuur om onder Josh Cloete te oefen, wat my steeds afrig.
“Dan moet die klere-afdeling twee of meer identiese uitrustings saamstel wat beweging toelaat, maar jou steeds beskerm. Die grimeringspan moet ’n voorkoms ontwerp wat vir ’n paar dae, in perfekte kontinuïteit, herhaal kan word.
“Die kunsafdeling moet ’n stel ontwerp wat ’n veilige, maar geloofwaardige omgewing bied.
“Die beligting-, klank- en kamera-afdelings het die verantwoordelikheid om die kykers te laat voel asof hulle self daar is. Om te sorg dat hulle elke asemteug hoor, elke traan sien, elke hou voel.
“Dan is daar die regisseur en die akteur. My regisseur vir die ontvoeringstorielyn was Darryl Fuchs. Ons vertrou mekaar heelhartig. Daardie vertroue dien as ’n bindmiddel vir al die elemente om soos ’n goed georkestreerde simfonie bymekaar te kom. Sonder vertroue kan dit alles uitmekaar val.”
Oor hoekom sy dit verkies om self waaghals te speel
“As ek programme kyk waar stunt doubles gebruik is, kan ek klein besonderhede sien wat dadelik wys dat dit nie die akteur is nie. Dit is nie altyd moontlik vir ’n akteur om die gevaarlike toertjies te doen nie, maar ek is uiters detail-gedrewe. Daardie tonele verdien meer aandag om noodlottige ongelukke en beserings te voorkom, maar ook om die gehoor se aandag te hou.
“Ek het intense opleiding vir Samuel L. Jackson se fliek Kite gedoen. Dit was ’n klein rol, maar hulle was mal daaroor dat ek bereid was om my eie stunts te doen.
“My liggaam se spiergeheue, nog van my dae as ’n danser, kry ook ’n kick daaruit! In 2021 het ek weer dansklasse begin neem en op vloerwerk gefokus. Die voordele van my dans-agtergrond is van onskatbare waarde vir my stunts.
“Ek hou ook van ’n uitdaging!”
Nog aksie van Beatrice?
“Ons skryfspan, gelei deur Theltom Masimila, verbaas my elke keer met die ongelooflike idees wat hulle uitdink. En kom ons sê as Beatrice een van die dae in Bear Grylls-styl uit ’n helikopter moet spring, sou ek nie verbaas wees nie.”