Menu terloops
In Onderhoude [8 Mar 2022]

MasterChef SA: Só verander huiskokke in sjefs


Of dit nou voor of agter die kamera is, kos bring mense bymekaar, vertel Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger van die nuuste – en langverwagte – seisoen van ‘Masterchef SA’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

MasterChef SA: Só verander huiskokke in sjefs
Kyk lokprent

MasterChef is een van die grootste en gewildste kookprogramme ter wêreld. Hetsy in Australië of Suid-Afrika, die stryd om die reeks se gesogte titel is ’n wilde rit wat in ’n hoë druk omgewing afspeel.

Die Suid-Afrikaanse weergawe se vierde seisoen kom ’n volle agt jaar nadat die derde reeks in 2014, met Roxi Wardman as die wenner, ten einde geloop het.

Hoewel die Suid-Afrikaanse vervaardigers dieselfde geliefde internasionale formaat volg, glo die reeks se plaaslike inhoudsvervaardiger, Errieda du Toit, dat die ryk Suid-Afrikaanse kosgeskiedenis en mense se unieke stories ons weergawe laat uitstaan.

Ook wat bestanddele betref, waaronder perlemoen, mebos, en kameelmelk, krap die Suid-Afrikaanse reeks sy eie, unieke plekkie as deel van dié grootse franchise uit, meen sy.

Al die drama van die nuwe seisoen is op ’n nuwe stel in by die V&A Waterfront in Kaapstad vasgevang, en drie nuwe monde proe aan die deelnemers se disse.

Zola Nene, Justine Drake en Gregory Czarnecki is dié seisoen se beoordelaars en bring elkeen hul eie unieke storie en ervaring.

Nuwe beoordelaars op MasterChef SA S4
Justine Drake, Zola Nene, en Gregory Czarnecki is die beoordelaars in MasterChef SA se vierde seisoen.

Die druk loop hoog

Errieda is self ’n bobaas-sjef, samesteller van menigde kookboeke, bekend as dié huiskok op RSG, en speel ook moederhen vir die MasterChef-deelnemers.

Sy voel tuis in die produksie-opset van ’n realiteitsreeks, vertel Errieda, juis omdat sy ook die inhoudsvervaardiger was van kykNET se Afrikaanse kookprogram, Kokkedoor.

“Om in hierdie omgewing te kook, is taxing genoeg. Nou het hulle nog ’n onbekende kombuis en toerusting, kameras in hul gesigte terwyl hulle kook, geen kans vir voorbereiding nie… En dan kook jy nie vir geliefdes by die huis nie, maar vir beoordelaars,” beskryf Errieda die druk wat die deelnemers moet hanteer.

“Jy weet jy kan nie bekostig om ’n slegte dag te hê nie. Jy is immers net so goed soos die gereg op die dag,” sê sy.

“Die horlosie stap aan, so daar is nie tyd vir iets oordoen nie. Daar is kinkels ingebou, die tyd is beperk, die adrenalien pomp. Hulle kan nie regtig gemaklik raak nie. Hulle kan nie notas of resepteboeke by hulle hê nie. Hulle kan nie vinnig iets Google nie. Hulle is op hul eie gelaat met die wete dat enige gereg hul lot kan bepaal.”

As die soufflé platval…

Ja, ’n mens raak sommer moeg as jy hoor wat die deelnemers moet deurmaak. Maar Errieda en ’n hele span staan gereed om die deelnemers op slegte dae te ondersteun. Dit is dan, vertel Errieda, dat sy met ope arms, soos ’n regte moederfiguur, moet bontstaan om te troos.

“Een van die moeilikste dinge (vir die deelnemers) om te hanteer, is om hulself uit ’n negatiewe head space te kry. Maar dít is die ware toets. Hoe resilient is jy? Kan jy keer dat jy waardevolle tyd en energie gebruik op iets wat reeds in die verlede is? Die volgende uitdaging wag met ’n nuwe kans om jouself te bewys,” sê sy.  

“Vir dié wat uit is, het ek met ope arms bo die roltrappe gewag. Natuurlik huil ek saam, maar ek werk nie alleen ten opsigte van my bewaarderpligte nie. Ons het ’n sielkundige wat feitlik 24/7 beskikbaar is,” voeg sy by.  

Volgens Errieda speel die emosionele komponent van die kompetisie ’n baie groot rol. Deelnemers moet sterk genoeg wees om die druk en aanhoudende veranderinge in die kombuis te hanteer. Die alternatief? Nee, dan’s dit tickets met jou.   

“Jy sien gereeld hoe mense vries. Dan is dit maklik om voor jou TV te skel en te wonder hoekom hulle nie iets anders gedoen het nie. Maar in daardie oomblik is dit maklik om te blank,” beskryf Errieda die stresvolle oomblikke in die kompetisie.

“Dit is intens, maar dit is ook ongelooflik om te sien hoe hierdie huiskokke voor ons oë in sjefs verander.”

Die horlosie stap aan, so daar is nie tyd vir iets oordoen nie. Daar is kinkels ingebou, die tyd is beperk, die adrenalien pomp…Hulle is op hul eie gelaat met die wete dat enige gereg hul lot kan bepaal.

Errieda du Toit

Só werk die MasterChef-wenresep

Errieda sê drie van die grootse uitdagings om die reeks saam te stel, is oorspronklikheid en kreatiwiteit, realisme, en die skep van ’n emosionele band tussen die deelnemers en kykers.

Oor die kreatiewe element sê sy:  “Aangesien die program om die deelnemers se ontwikkeling van kokke tot sjefs draai, moet ons hulle stretch en inspireer. Die verrassingselement van die uitdaging is wat hul nuuskierigheid en kreatiwiteit aanwakker.”

Oor realistiese oorwegings: “Die uitdaging moet spanning en drama aanhits, maar met ’n moeilikheidsgraad wat vir amateurs aanvaarbaar is. Dit is van kardinale belang om vir hulle ’n realistiese tydsduur te gee om ’n taak te voltooi, synde tyd seker die grootste struikelblok in die kompetisie is. Dit maak dit dus vir my noodsaaklik om goeie tegniese kennis te hê van wat in daardie tyd moontlik is om ’n Masterchef-waardige gereg op die bord te kan sit.

Oor die emosionele band sê sy: “Wanneer ’n tema en ’n uitdaging ontwikkel word, gaan dit nie net oor die tegniese kant van kook nie. Jy moet jouself vra wat die kyker sal intrek. Wat sal hulle laat identifiseer met die uitdaging en met die deelnemers? Kan hulle hulself in die deelnemer se skoene plaas deur aspekte van kos in te bring waarmee ons as Suid-Afrikaners kan identifiseer? Kan die deelnemers en die kykers dus op ’n emosionele vlak kontak maak? Dus, alhoewel die uitdagings kreatief moet wees, moet daar ’n draad van ’n bekende en gedeelde ervaring wees.”

Wat die hart van vol is, loop die mond van oor

Errieda is uit en uit ’n storieverteller en glo dat kos nie net iets is wat jou maag vol maak nie.

“In ons lewens is die daad van eet nie bloot vir oorlewing nie. Die voorbereiding van kos is nie net ’n taak nie. Dit is gevul met emosies, rituele, kultuur, geskiedenis, identiteit, herinneringe en betekenis. Die Masterchef-kombuis word die verhoog waarop dit alles uitspeel.

“Wat dit vir my as ’n inhoudvervaardiger opwindend maak, is dat ons net die rigting en uiteensetting gee. Die storie vertel homself deur die deelnemers,” sê sy trots.

“Dit gee ons die kans om die storie van die Suid-Afrikaanse koserfenis en die ontstaansverhaal van baie disse te vertel. Sommige is bekend, ander wag ander wag weer om deur ’n groter gehoor ontdek te word.

“Hierdie storie word nie met ’n enkele stem vertel nie. Eerder met die stemme van 20 deelnemers, elk vanuit hul eie persoonlike en kulturele perspektief. Die beoordelaars deel self hul eie persoonlike geskiedenis, en so ook die gasbeoordelaars.

“Dit alles lei tot ’n ryk storie, unscripted, spontaan en eg.”

Kyk MasterChef SA S4 Maandae tot Donderdae op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies