Menu terloops
In Onderhoude [17 Mar 2022]

‘Projek Dina’-rol maak hom dankbaar vir dogter se veiligheid, sê akteur Chumani Pan


Hy gee sy alles elke keer as hy in die skoene van sy ‘Projek Dina’-karakter, speurder Lux Dladla, klim. Maar, sê die akteur Chumani Pan, daar is tye wat dié drama oor vermiste mense hom emosioneel leegtap.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

‘Projek Dina’-rol maak hom dankbaar vir dogter se veiligheid, sê akteur Chumani Pan
Kyk lokprent

Die begrip en deernis van sy dapper speurder-karakter Lux Dladla in die kykNET-dramareeks Projek Dina, is eienskappe wat die akteur Chumani Pan – met nederigheid – ook vir homself toeëien. Saam met Deon (Tim Theron), Ronel (Chanelle de Jager) en Charlie (Kay Smith) ondersoek dié spesiale Projek Dina-taakspan die raaisels rondom vermiste mense.

Chumani, oorspronklik van die Oos-Kaap, is al 13 jaar in die vermaakbedryf. Projek Dina is egter sy eerste Afrikaanse hoofrol.

Hy het naam gemaak met rolle soos Monwabisi Namane in die e.tv-telenovela Ashes to Ashes, Loop-en-val Radebe in die e.tv-dramareeks Shooting Stars, Whitey in die Mzanzi Magic-dramareeks Isithembiso, Jonas in die SABC-treffer Generations en Sonwabo Dube in die 1Magic-reeks Wounds.

Hy het al in flieks soos Special Forces UK, Ella’s Secret, Endgame en Bakgat 3 verskyn en sal later vanjaar te sien wees in die Hollywood-fliek, The Woman King. The Woman King is ’n historiese periodedrama wat in Suid-Afrika verfilm is, met die Oscar-bekroonde Viola Davis in die hoofrol.

Seisoen 2 bring nog drama, nog vraagstukke

Die eerste seisoen het geëindig met die span wat net-net vir Dina (Ronel se vermiste tweelingsuster na wie sy al haar lewe lank naarstigtelik soek) in Mosambiek gemis het. Maar, sê Chumani, ook die span se grapmaker, is die soeke na Dina net die oortjies van die seekoei wat die nuwe seisoen se drama en intrige betref.

“Ons neem kykers dieper in dié raaisel hierdie seisoen, en baie vrae sal ook beantwoord word,” sê die akteur.

Chumani se karakter in Projek Dina gee baie om vir dié na aan sy hart, en hy gee ook sy alles vir die sake wat hy ondersoek. Lux, vertel Chumani, is nie bang om die reëls te oortree nie – veral as dit iemand kan help. Dít het hom egter in die vorige seisoen duur te staan gekom met sy baas.

“Hierdie seisoen is die span glad nie meer vreemdelinge vir mekaar nie, en hulle verstaan mekaar baie beter. Hulle ondersteun mekaar en werk ook baie lekker saam. Maar dit beteken ook dat Lux nou meer as ooit tevore vir die mense naaste aan hom gaan uitkyk,” sê Chumani.

Chumani, wat sy loopbaan as “geseënd en ongelooflik” beskryf, het sommer tydens sy gim-sessie tyd gemaak het om met terloops te gesels. Hy vertel vir ons meer oor sy rol as Lux en sy loopbaan as akteur.

Wie is Lux?

Lux is iemand met ’n sterk persoonlikheid, wat al deur baie is. Dit is juis daardie ervaringe wat van hom ’n sterk persoon gemaak het. Hy is ’n mens-mens en haat dit wanneer gewone mense uitgebuit word. Ons gee albei baie om vir ons gemeenskap en die mense naaste aan ons. Ek dink dit is hoekom Lux enigeiets sal doen om mense te beskerm.

Chumani Pan as Lux Dladla in Projek Dina on DStv & Showmax
Chumani Pan as die speurder Lux Dladla in Projek Dina.

Watter fiktiewe karakter sal Chumani die beste beskryf?

Enige karakter wat Will Ferrell al vertolk het. Ek neem myself nie ernstig op nie en sy karakters is dieselfde. Hy is ’n volwasse man, maar daar is ’n kinderlike element aan sy werk. Hy gee glad nie om wat mense van hom dink nie. Hy doen net wat vir hom lekker is en is boonop skreeusnaaks terwyl hy dit doen. Dit is presies ek as ek nie voor die kamera is nie. Ek wil graag meer van hierdie persoon voor die kamera wys, maar toevallig is ek dikwels in ’n ernstige rol. Ek probeer wel om my humor in te bring, soos met Lux.

Hoe lyk jou dae op stel?

Ons dae op stel kan baie lank raak, veral omdat ons almal in 90% van die tonele saam verskyn. Ons skiet by verskillende plekke en as jy die reistyd ook insluit, tel die ure vinnig op. Dit kan ook baie warm en fisiek uitputtend wees. Ek het meer begin oefen om by te bly met al Lux se aksietonele. Ons hardloop en tackle baie, so jy móét fiks wees.

Oor die taal

Ek het as kind in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte grootgeword, so ek kan Afrikaans praat en verstaan dit baie goed. Voor Projek Dina het ek lanklaas die taal gepraat, maar ná die casting het ek vir almal gesê hulle moet Afrikaans met my praat. Niks Engels gepratery nie!

Ek het ook baie meer Afrikaanse shows begin kyk. Ek wou bekend raak met die kanaal (kykNET) se styl en shows.  Ek het myself verbaas, maar almal op stel het my baie vinnig gemaklik laat voel. Daar was natuurlik dae wat ek een toneel sewe keer moes skiet, omdat ek een woord nie kon regkry nie.

Daar is baie tonele wat jou emosioneel leegtap. In daardie oomblikke dink ek aan my eie dogter en hoe ek enigiets sal doen om haar te beskerm. Ek gee alles fisiek en emosioneel en dan gaan ek huis toe en dank die Here dat my dogter veilig is. Elke keer as ek nou na ’n nuusberig kyk of ’n storie hoor van iemand wat vermis is, tref dit my amper dieper.

Chumani Pan

Voorbereiding vir die rol

Gelukkig het ek nog nie persoonlike ervaring met vermiste sake nie. Maar ek het baie dokumentêre en stories oor vermiste mense gekyk, sodat ek kon sien hoe hul families en die gemeenskap rondom hulle reageer. Ek wou weet wat in die familie se koppe aangaan en meer uitvind oor hoe die polisie te werk gaan om vermiste mense op te spoor. Om te sien hoe die polisie praat, beweeg en selfs met die familie kommunikeer, was vir my belangrik. Dit is regte stories waarop ons reeks gegrond is, so jy wil altyd sensitief wees met dit wat jy uitbeeld.

Emosionele impak van rol

Daar is baie tonele wat jou emosioneel leegtap. Ek wil nie die storielyn weggee nie, maar daar was spesifieke episodes hierdie seisoen wat ons almal diep geraak het, veral as dit met Dina te doen het. In daardie oomblikke dink ek aan my eie dogter en hoe ek enigiets sal doen om haar te beskerm.

Ek gee alles fisiek en emosioneel en dan gaan ek huis toe en dank die Here dat my dogter veilig is. Elke keer as ek nou na ’n nuusberig kyk of ’n storie hoor van iemand wat vermis is, tref dit my amper dieper. Ek kan net hoop en bid dat ons reeks met bewusmaking rondom mensehandel en ander onderwerpe help en dat mense iets sal kan onthou wat hulle dalk sal kan help, as hulle ooit in een van daardie situasies beland. Natuurlik kyk ek ook baie Will Ferrell-flieks of Brooklyn Nine-Nine om te ontspan. 

As jy ’n werksessie kon reël met drie akteurs, wie sou dit wees en watter vaardigheid sou jy by elk wou leer?

Meryl Streep – Sy is my all-time favourite aktrise. Sy kan enige rol vertolk en ek wil graag leer hoe om in enige karakter se skoene te klim. Sy laat dit so maklik lyk en haar rolle verskil soos dag en nag. Dit is ongelooflik.

Daniel Day-Lewis – Hy word die karakter. Ek wil ook leer hoe om myself so in ’n karakter in te leef. As hy ’n hawelose karakter gaan vertolk, sal hy sommer vir ’n maand op straat gaan woon om presies te weet hoe daardie karakter voel en hoe hulle deur die lewe beweeg. Ek wil daardie gevoel hê as jy nie meer ’n karakter speel nie, maar heeltemal die karakter word.

Will Ferrell – Dit behoort mense glad nie te verbaas nie. Ek dink hy is een van die beste akteurs in die komedie-genre. Komedie is nie so maklik soos wat mense dink nie. Dit is regtig ’n vaardigheid en kuns. Ek wil baie meer komedie doen en dink ek sal baie by ’n legende soos hy kan leer.

Kyk Projek Dina elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DSTV kanaal 144), of stroom op DStv Online. Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies