Menu terloops
In Features [18 Des 2024]

terloops se lekkerste onderhoude van 2024


Van ‘Een keer om die son’ se Donnalee Roberts en ‘Suidooster’ se Lauren Joseph, tot ’n in-diepte gesprek oor intimiteit op die skerm en doyenne Sandra Prinsloo oor haar geliewe Moekie in ‘Koek’ – ons skrywers het vanjaar met van Suid-Afrika se talentvolste kunstenaars gesels.

terloops se lekkerste onderhoude van 2024

Hier is van terloops se beste onderhoude van 2024 (in geen spesifieke volgorde):

1

Donnalee Roberts oor die lewe se lag, huil, en ‘alles tussenin’

In die kykNET-gesinsdrama, Een keer om die son, speel Donnalee Roberts die rol van ’n vrou wat ’n amperse fenomeen op plaaslike TV is. As Amé, ’n getroude vrou met professionele ambisies wat oënskynlik dié van haar man oorskry, en wat besluit het om nie kinders te hê nie, is Donnalee self in anderste skoene.

“Dis vir my tough as mense sê dít (om kinders te hê) is die ding wat jou as vrou definieer. Ek is ’n groot voorstander daarvan dat om ’n ma te word, definieer jou nie as ’n vrou nie. As vrou is ons soveel meer as net een ding. Die druk wat die wêreld op vroue plaas, is uiters onregverdig. Ek het self baie vriendinne wat kies om nie kinders te hê nie.” 

Donnalee Roberts, onderhoude
Donnalee Roberts as Amé in Een keer om die son. Foto: Verskaf
2

Totsiens, dr. Abrahams! 

Net toe ons dink daar wag ’n blink en lovey dovey-toekoms vir Binnelanders se dr. Nicolette Nortjé (Kate Roothman) en dr. Steve Abrahams, het die akteur Clint Brink vir kykers met sy karakter se hartverskeurende exit uit Binnelanders verras. 

3

Dís hoe ‘Suidooster’-span Mymoena se verslawingstorielyn getakel het

“Binne die raamwerk van storievertelling wil Suidooster dit altyd so akkuraat as moontlik kry. Ja, ons het geweet die storie gaan baie mense warm onder die kraag maak en dat dit debat en gesprek gaan aanwakker, maar ons moet nie vergeet dat Mymoena ook maar net ’n vrou en mens is wat deur haar eensaamheid en hierdie nuwe lewensfase in dié strik getrap het nie.”

4

Cindy Swanepoel: ‘Koek’ ’n ‘moewiese uitdaging’ én ‘massiewe voorreg’

Ná sewe jaar in die rol van dr. Annelize Roux op die kykNET-sepie Binnelanders, asook haar verskyning in die tweede seisoen van Magda Louw as Gertrude, vertolk die altyd-briljante aktrise Cindy Swanepoel ’n karakter wat wêrelde verwyder is van haar vorige werk. In Showmax se nuwe Afrikaanse dramareeks, Koek, speel Cindy ’n beige huisvrou wie se lewe handomkeer verander as sy as ’n ontkleedanser (moet) begin werk. 

“Daar ongelooflik baie uitdagende tonele en elke dag was rêrig vir my ’n moewiese uitdaging gewees. Goed wat ek nog nooit gedoen het op stel nie. Ek moes dans, ek moes om ’n paal dans, ek moes verskriklik baie huil en uit-freak, en die uitdaging vir my was om dit net nooit dieselfde te doen nie; om die karakter interessant te hou en haar nie irriterend te maak nie. As jy heeltyd op ’n sekere vlak van emosie is, is die grootste uitdaging om haar nie die heeltyd op dieselfde plek te plaas nie, en om elke dag ’n nuwe energie te bring en eerlik aan die teks te wees.” 

5

‘Ek wou die rol met alles in my hê,’ sê Marion Holm oor ‘Nêrens, Noord-Kaap’

In Nêrens, Noord-Kaap vertolk die aktrise Marion Holm die rol van ene Ans Adendorff, ou Lourens se suster en die drie broers se tannie – nog ’n briljante vertolking wat sy tot haar oeuvre gevoeg het. ’n Oeuvre wat reeds lywig is met rolle op die planke, soos in haar nuwe eenvrouvertoning, Marion Monroe, asook dié van TV-karakters in reekse soos Trompoppie en Taktiek

“Ek was mal oor Ans en wou die rol met alles in my hê. Sy is sterk, vreesloos in sommige opsigte, bevrees – as dit byvoorbeeld by emosies kom. Sy wys nie wat sy voel nie. Eintlik is haar hart bitter klein.”

6

Sandra Prinsloo oor ‘Koek’: Moekie is ‘absoluut’ op lys van gunsteling-rolle nog

“Dit was vir my net een van die heerlikste produksies om op te werk. Dit was vir my regtig baie lekker gewees en ons het baie hard gewerk. Ek dink die hele ding om met ’n teks te werk wat so goed is en wat so belaglik is – dis so out there – is absoluut ’n wonderwerk. Dit is ook glad ’n baie Suid-Afrikaanse aanslag nie, veral nie ’n Afrikaanse aanslag nie. (lag) Dit is verregaande, en dís ’n wonderlike, wonderlike ding.”

Sandra Prinsloo, onderhoude, Koek, moekie
Sandra Prinsloo as Moekie in Koek op Showmax. Foto: Verskaf
7

(Veilige) Seks op skerm: ‘Dit kan mooi wees. Maar ook real

Intimiteitskoördinering is die nuutste beroep in die televisie- en rolprentbedryf en die bekroonde Suid-Afrikaanse regisseur Sara Blecher doen plaaslik en internasionaal baanbrekerswerk op dié gebied. Sy het met Riëtte van der Wat gesels.

8

Clayton Evertson: ‘Ek het nooit gedink my loopbaan gaan hiér uitkom nie’

Sy naam is die een op almal se lippe op die oomblik – of jy hom nou as Pitbull in Koek, Morgan in White Lies, Vernon in Spinners of as Arendsvlei se geliefde Clint ken, geen mens kan wegkyk as die akteur Clayton Evertson op ’n skerm verskyn nie.

9

Met ‘Juffrou X’ groet Tertius Kapp en kie ‘die olifant in die hoek’

Afrikaanse televisie is lank nie meer net slapstick-komedies en voorspelbare gesinsdramas nie. Reekse soos Juffrou X gee harde realiteite weer wat baie Suid-Afrikaners in die gesig staar, terwyl dit nooit vlymskerp stories prysgee nie. Riëtte van der Wat het met vervaardiger Berdene Burger en die skrywer en regisseur Tertius Kapp hieroor gesels.

Juffrou X, Trix Vivier, onderhoude
Trix Vivier in Juffrou X. Foto: Verskaf
10

‘Suidooster’ se Zoë: Aktrise Lauren Joseph oor die ‘reddende genade’ in haar lewe

As daar een Suidooster-karakter is wat oor die jare ’n merkwaardige transformasie ondergaan het, het is dit beslis die prinses van die October-empire, Zoë. Sy stoot gereeld kykers se bloeddruk op, maar as Zoë, vertolk deur Lauren Joseph, op die skerm verskyn, kan ’n mens nie sommer wegkyk nie. Die aktrise gesels oor haar karakter se nuutste storielyn, vorentoe kyk en rou ná haar pa se dood, en hoe beide sy én Zoë oor die jare gegroei het.

11

‘Ons is albei ’n bietjie stout’ sê Gerald Steyn oor ‘Binnelanders’ se Uys

“In hierdie stadium weet ek nie of dit ’n kwessie is van life immitating art nie, en of die skrywers my eie lewe as inspirasie vir Uys se storielyne gebruik nie. Maar Uys is ’n baie spesiale karakter vir my. Ek dink dit is juis omdat ons so baie in gemeen het. Ons albei kan ’n bietjie stout wees en albei ons ma’s voel seker dit is tyd om te settle. Familie en die mense in ons lewens is baie belangrik vir ons en dit is al wat saak maak.”

12

‘Boer soek ’n Vrou’: ’n Nuwe liefie vir Boer Niel

Boer Niel, die aantreklike 30-jarige boer van Dannhauser, KwaZulu-Natal, het beslis meer as sy kwota aanhangers tydens hierdie seisoen van Boer soek ’n vrou gewerf. 

“Jy soek iemand wat compatible is met jou, iemand wat jy weet jy kan 50-60 jaar mee ’n pad stap. Ek voel ek het emosioneel baie volwasse geword deur hierdie proses. Ek het nie gedink dis iets waar ek ge-lack het nie, maar ek het uitgevind daar was dinge wat ek ’n bietjie beter kon hanteer en ek wens ek kon tyd terugdraai om dit te doen.”

13

‘Boer soek ’n vrou’ se Reandi Grey oor nuwe hoofstuk

Die skaap is uit die kraal, die kalf is in die put en die hoenderhaan is op die kerktoring. Ja, daar gaan heerlik geskrop word op die werf met Reandi Grey as die sewende aanbieder van Boer soek ’n vrou, kykNET se gewilde maatsoekreeks. 

Reandi Grey is die nuwe aanbieder van Boer soek 'n vrou. Foto: Willem Botha
Reandi Grey is die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou. Foto: Willem Botha
14

Simoné Pretorius oor regisseursdebuut: ‘Ma-wees help my om drome vreesloos aan te pak’

Sy het sowat ’n dekade terug haar Silwerskerm- en loopbaandebuut in Bouwer Bosch en Bennie Fourie se kortprent Vuil wasgoed gemaak. Intussen het die aktrise Simoné Pretorius as ’n talentvolle aktrise ontluik, met rolle in die gewilde sitkom Hotel, die hospitaaldrama Hartklop, en flieks soos Vir die Voëls, en Wonderlus. Haar nuwe rol, as regisseur van die speelfilm Som van Twee, is egter wat nou wind in haar werkseile blaas.

“Dit is al vir tien jaar ’n droom.”

15

‘Vergeet van my’: ’n Storie wat met jou oerkoek praat

’n Stowwerige swart krat met foto’s, joernale en plastieksakke vol van DV8-videokassette wat ’n musiektoer vasgevang het, was maar net die begin van ’n projek wat later in die dokumentêr, Vergeet van my, omskep sou word. Rozanne Els het met dié musiekstorie se skeppers, Beer Adriaanse en Dirkie van der Merwe, gesels.

“Ek het nou ses maande met my vriende se jonger selwe gespandeer, asook met mý jonger self. Dit het my onkant gevang hoe vervullend dit vir my op sielsvlak was. En hoe ek oor my huidige lewe moes herbesin. Want as ek so na ons almal kyk… daar’s ’n vonk in daai oë, en waar’s dit? Hoekom is dit nie meer daar nie? Waar is daai dapperheid? En wat het ek toegelaat dat die wêreld my in sommige aspekte van daai vonk beroof het? Het ek goeie rede om nie meer daai vonk te hê nie? Daai geloof dat die heelal jou sal vang as jy spring.”

16

Quanita Adams se ‘Hier.Na’ ’n pragstuk oor diverse dimensies van rou

“In heelparty opsigte is hierdie nie sommer net nog ’n fliek vir my nie. Dit is ’n refleksie oor rou en dood, en spesifiek oor my pa se dood,” vertel die filmmaker en aktrise Quanita Adams oor haar nuwe film, Hier.Na.

17

Mienke Ehlers oor ‘Wyfie’: ‘Hygend, stout… en eerlik’

Die aktrise Mienke Ehlers, wat naam gemaak het in die rol van Dalena in Dinge van ’n Kind, vertel haar hoofrol in Showmax se Afrikaanse universiteitsdrama, Wyfie, is iets waaroor sy nog altyd “gedroom en voor gewens het”.

“Daar was nog nie iets wat so min skaam is soos Wyfie nie. Dit sê ’n ding soos dit is; dit wys ’n ding soos dit is. Dis hygend, dis stout, dis gevaarlik, dis so opwindend, maar die belangrikste van alles – dit is eerlik. Ek dink nie daar was al so iets in ons land (op plaaslike televisie) nie. Ek hoop dit gaan ongelooflik bevrydend wees vir mense om dit te kyk.” 

Mienke Ehlers
Mienke Ehlers as Mia in Wyfie op Showmax. Foto: Verskaf
18

Ontmoet Herman Bosman, ‘Wie word ’n miljoenêr’ se heel eerste miljoenêr!

Die 47-jarige Herman Bosman het in die 12de episode van Wie word ’n miljoenêr? se derde seisoen, sy laaste hulplyn na sy 75-jarige ma, Vida Bosman, ingespan om die finale vraag die hoof te bied.

“Toe die konfetti-kanonne skiet, het alles so vinnig begin gebeur. Jy het amper nie tyd om dit alles in te neem nie. Rian en die produksiespan was ook baie goed daarmee om die spanning te laat opbou tot op die laaste sekonde. Die miljoen randjies is natuurlik baie welkom. Maar, om eerlik te wees, die lekkerste deel was vir my om al die vrae reg te kry. Ek is nogal mededingend met hierdie tipe van kompetisies. En nou kan ek vir altyd spog dat ek die eerste kykNET-miljoenrandwenner was,” het hy vertel.

19

Cintaine Schutte oor ‘Wyfie’, Facebook-tannies en hoe onverwags liefde kan wees

Dat haar karakter in Wyfie ’n hele paar jaar ouer as haar liefdesbelangstelling in die reeks, Shay (Beáta Bena Green), is, traak haar min, vertel die aktrise Cintaine Schutte. Is dit immers nie hoe onverwags die liefde kan wees, wat dit so besonders maak nie?

Cintaine Schutte, Wyfie, onderhoude
Cintaine Schutte as Maggie in Wyfie. Foto: Verskaf
20

Charlotte Hope: ‘Ek was desperaat om haar te speel’, sê aktrise oor ‘Catch Me a Killer’-rol

Die Britse aktrise Charlotte Hope, veral bekend vir haar rol in die epiese fantasiereeks Game of Thrones, vertel aan Rozanne Els dat haar rol as die reeksmoordernaar-profiler Micki Pistorius in die Showmax-misdaadreeks Catch Me a Killer sekerlik een van die mees bevredigende ervarings van haar loopbaan nog was.

“Toe ek die eerste twee episodes wat Amy Jeptha geskryf het, gelees het – ek het net gedink dit is regtig die beste draaiboeke wat ek in ’n baie lang tyd gelees het. Dit is selde dat jy ’n karakter vind wat deur hierdie soort reis gaan; en dat die materiaal so fassinerend is. Dit was ’n geskenk vir my. Dit het my brein laat brand, weet jy. Ek is ’n regte nerd, so (ek is gaande daaroor) as ek ’n rol vind wat ek moet uitpluis en bestudeer. Nadat ek die tekste gelees het, was ek net desperaat om haar (Micki) te speel.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies