Menu terloops
In Onderhoude [17 Jul 2024]

Donnalee Roberts oor die lewe se lag, huil, en ‘alles tussenin’


“Om ’n ma te word, definieer jou nie as ’n vrou nie,” sê die aktrise Donnalee Roberts, wie se omsigtige en empatiese spel as Amé in ‘Een keer om die son’ ’n besielende blik op die realiteit van vrouwees bied.

Deur Rozanne Els

Sien vir Donnalee in 'Een keer om die son'

Donnalee Roberts oor die lewe se lag, huil, en ‘alles tussenin’
Kyk lokprent

In die kykNET-gesinsdrama, Een keer om die son, speel Donnalee Roberts die rol van ’n vrou wat ’n amperse fenomeen op plaaslike TV is. As Amé, ’n getroude vrou met professionele ambisies wat oënskynlik dié van haar man oorskry, en wat besluit het om nie kinders te hê nie, is Donnalee self in anderste skoene.

Maar uit onbekendheid spruit daar dikwels (meestal eintlik) begrip; iets voorheen ontoeganklik word dan só verstaanbaar. In kort: popkultuur, en veral TV, doen heavy lifting in die samelewing om sogenaamde normes uit te daag met die uitbeelding van alternatiewe realiteite wat, buiten begrip en nodige verdraagsaamheid, ook empatie kan kweek. Só ook is dié tipe potensiaal in Een keer om die son te vinde.

Spanningslyne wat spieëls ophou

Amé se besluit om nie kinders te hê nie – bygesê, een wat sy saam met haar man, Joshua, (vertolk deur Ludwig Binge) geneem het – is nie ongewoon nie. Maar kom ons wees reguit oor hoe kykers hierop kan reageer: sfere van blootstelling, jou “sirkel” as jy dit so wil stel – is net so groot en so divers soos wat jy kies om dit te maak. Jy kies jou vriende, jy kies jou winkels, jy kies waarna jy luister (en nie) en jy kies wat om te kyk op TV (en nie). Vir sommige mense is Donnalee se karakter dus iemand vreeslik welkom, iemand bekend en vergelykbaar. Dít terwyl ander sal volhou dat Amé mos nooit ware geluk sonder ’n kind sal (kan) ervaar nie. Mos.

Hoewel Amé se storielyn, en Donnalee se noukeurige vertolking daarvan, een van die storie se hoogtepunte is, wriemel die reeks as geheel met spanningslyne wat ’n spieël soos dié een ophou. Liefde; lag; leed; verraad; dood; rou. Die lys gaan aan.

Dís doelbewus, deel Donnalee as sy praat oor haar en Ivan Botha, haar man én kreatiewe vennoot, se eerste TV-reeks wat die Van Wyk-familie se storie oor die verloop van ’n kalenderjaar vertel. Elk van die 12 episodes beeld ’n maand van dié jaar uit. 

Een keer om die son
“Dit was vir ons belangrik om op só ’n manier te skryf dat mense saam met ons uit hul maag lag, maar ook uit hul harte uit huil. Met daai balans,” vertel Donnalee Roberts oor Een keer om die son se draaiboek. Foto: Verskaf

“Dit is altyd vir ons belangrik om met universele temas te werk. Ons wil nooit vir mense preek of voorsê nie, maar dit is vir ons belangrik dat ons werk ’n spieël ophou in die hoop dat iemand hulself in ’n karakter of in ’n situasie sal raaksien. Op daardie manier word die storie relatable. En dan koop mense op ’n ander manier in op die karakters se lewensreis, die storie as ’n geheel, asook die emosionele en visuele reis waarop jy mense wil neem.”

Donnalee en Ivan het as hoofskrywers saam met Liani Jansen van Rensburg, Retief Scholtz en Tina Kruger aan die draaiboek gewerk, met Ivan wat die regie behartig het. Die kenniskern vir Ivan se regiewerk hiér is oor etlike jare as akteur, regisseur en vervaardiger, op projekte soos Blindelings en Stroomop, gevorm. 

Van lag tot huil – en als tussenin

Vir die hele skryfspan, vertel Donnalee, was dit nodig om karakters te skep waarmee mense hulself op een of ander manier kon vereenselwig.

“Ons het om die tafel gesit en gepraat oor die moeilikste dinge waardeur ons geliefdes al gegaan het. Oor die loop van 12 episodes was dit vir ons belangrik om op só ’n manier te skryf dat mense saam met ons uit hul maag lag, maar ook uit hul harte uit huil. Met daai balans.” 

Die lewe is dít, dit is nie net sonskyn nie, dit is nie net donderstorms nie. Dis alles tussenin.

Donnalee Roberts

Dit was dié idee en gepaardgaande deurlyn van temas wat toe die basis van die reeks gevorm het; van hoe gesinne met mekaar kommunikeer (aldan nie) tot ’n waarlik intieme blik op rou – veral hoe ons rou –inkluis.

“Hoewel jou familie die plek is waar jy die veiligste moet voel, is dit dikwels die plek waar jy voel jy die minste kan deel. Of dit nou is omdat jy hulle nie wil teleurstel nie en of dit is omdat jy dink hulle gaan nie verstaan waardeur jy gaan nie. En dan word dinge dikwels onder die mat ingevee. En oor die loop van die 12 episodes verwys die karakters telkens na die Van Wyk-mat. Ons karakters vee alles onder die Van Wyk-mat in,” verduidelik Donnalee.

Maar dan, met groot hartseer aan die begin van die reeks, word die Van Wyk-mat onder hulle uitgeruk. Hulle is as sulks dus amper gedwonge om mekaar opnuut te ontdek; opnuut raak te sien.

Met ’n lag en ’n traan

Rou as ’n tema in TV-reekse is een wat op welke maniere aangepak word, maar werklik nooit so treffend as met ’n lag én ’n traan nie. Reekse soos After Life met Ricky Gervais en Fleabag met Phoebe Waller-Bridge wys ook dat rou deur ’n oorvloed van ervarings gewek kan word – van iemand wat sterf, die einde van ’n vriendskap, daai werk wat jy nie gekry het nie… Ook in Een keer om die son word die diverse aard van rou ondersoek. 

“Die lewe is dít, dit is nie net sonskyn nie, dit is nie net donderstorms nie. Dis alles tussenin,” merk Donnalee op.

“Ons hoop, meer as enigiets anders, dat die reeks gesprekke binne families, binne huisgesinne, binne geliefdes sal oopbreek. Dat mense ná elke episode hopelik dapper genoeg sal wees om vir hul naastes te sê, ‘Hiermee is waarmee ek sukkel, hierdie is waardeur ek gaan.’ En dat die antwoord daarop sal wees, ‘Al verstaan ek dit dalk nie, jy is my familie en ek sien en hoor jou en ek wil hier wees vir jou’.”

Die vele fasette van ’n vrou 

“Dis vir my tough as mense sê dít (om kinders te hê) is die ding wat jou as vrou definieer,” sê Donnalee wanneer ons oor haar karakter begin praat. 

“Ek is ’n groot voorstander daarvan dat om ’n ma te word, definieer jou nie as ’n vrou nie. As vrou is ons soveel meer as net een ding. Die druk wat die wêreld op vroue plaas, is uiters onregverdig. Ek het self baie vriendinne wat kies om nie kinders te hê nie. 

Donnalee Roberts
Donnalee Roberts: “Dit is vir my altyd belangrik om karakters te vertolk wat my uitdaag, of ’n mens met die karakter saamstem of nie. Of jy met die karakter kan vereenselwig of nie.” Foto: Skermgreep

“Ja, ek as Donnalee is wel vir ewig geherdefinieër as ’n vrou deurdat ek ’n ma (van Luca en Cameron) geword het, maar dit is ek as Donnalee. My hele lewe lank wou ek ’n ma gewees het. Dit het vir my, in my lewe, kom herdefinieer, omdat ek dit so graag wou hê. Omdat ek my lewe lank al droom daaroor om ’n ma te word. 

“Ek voel rerig sterk daarvoor, veral omdat ek so versot en verlief op my kinders is, dat as dit nie vir jou só ’n hartsbehoefte is nie, dan moet jy dit nie doen nie. Dit is ’n ongelooflike groot verantwoordelikheid en die wêreld kan nie dit van jou verwag as dit nie iets is wat binne jou hart ’n behoefte is nie.” 

Juis daarom wou sy self die rol van Amé vertolk, sê Donnalee. 

Dit is vir my altyd belangrik om karakters te vertolk wat my uitdaag, of ’n mens met die karakter saamstem of nie. Of jy met die karakter kan vereenselwig of nie. Vir my en Ivan is dit belangrik om karakters te skryf wat jou nie net uitdaag nie, maar by wie jy ook kan leer.

Donnalee Roberts

“Amé is versot op haar broer se kinders. Sy’s die peetma van haar broer se kinders. Maar dit is nie iets wat vir haar ’n hartsbehoefte is nie. En ek voel dit is braaf om dan daardie besluit te maak, want ’n mens lewe in ’n wêreld, selfs al is jy sakevrou, selfs al is jy career-driven, dat dit amper voel asof, ja, dis okei om nou jou loopbaan te kies, maar wanneer kom die kindertjies?

“Dit (daardie sentiment) het ons selfs by die begrafnistoneel ingeskryf, want dit is die vraag wat ’n mens heeltyd kry as ’n mens getroud is. Of selfs wanneer jy in ’n verhouding is, of selfs al is jy glad nie in ’n verhouding nie! Dan is mense soos, ‘the clock, it’s ticking. Wanneer gaan jy trou? Jy wil nie op die rak sit nie!’ Wat bedoel jy op die rak sit?! Jy’s besig om daai rak op ’n ander manier te decorate!

“Dit is vir my altyd belangrik om karakters te vertolk wat my uitdaag, of ’n mens met die karakter saamstem of nie. Of jy met die karakter kan vereenselwig of nie. Vir my en Ivan is dit belangrik om karakters te skryf wat jou nie net uitdaag nie, maar by wie jy ook kan leer.” 

’n Droom word waar 

Een keer om die son is iets wat sy en Ivan vir “baie, baie jare” oor gedroom het, vertel sy. En met hul liefde vir film in hul DNS het hulle besluit dat hulle “cinema vir TV” wou maak. 

“Dit moet nog steeds in die visuele reis wees, die emosionele reis, in die klanklandskap… it still has to feel cinematic. Dít was nog altyd die fondasie van enige projek wat ons aangepak het. Ons wil mense op ’n epiese, cinematic avontuur vat en dan vir jou iets in jou hart gee om saam huis toe te vat. 

“Ons het met daardie selfde aanslag Een keer om die son aangepak.” 

Amper as ’n goue reël, is dit vir hulle belangrik om werk te maak wat iets sê, benadruk Donnalee later.

“Op die einde van die dag is niemand jou iets verskuldig nie. Hulle hoef nie iets te kyk wat jy maak nie. Dis ’n ongelooflike groot geskenk wat iemand vir jou gee as hulle tyd maak om iets te kyk wat jy geskep het. En ons sal dit nooit ligtelik opneem nie.”


Kyk Een keer om die son Dinsdae op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
5

Totsiens, ‘Wyfie’: S2 se 5 onvergeetlike storielyne

Met die laaste sarsie 'Wyfie'-episodes op hande, kyk ons terug na vyf storielyne wat ons tydens die tweede seisoen van dié baanbrekende Afrikaanse universiteitsdrama geboei het.

Meer
Sien alle opsies