Verslawing kan enige persoon tref. Dit maak nie saak of jy die rykste of armste persoon is nie; dit maak ook nie saak of jy van ’n veilige huis of uit moeilike omstandighede kom nie. Verslawing kom soos ’n dief in die nag en as dit jou vang, het dit gewoonlik ’n verwoestende effek op jou lewe en verhoudings.
Vir die afgelope paar weke moes kykers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, toekyk hoe hul geliefde Mymoena (vertolk deur Jill Levenberg) vir haarself en haar waardes aan dobbelverslawing verloor. Nie net is dit haram vir Moena, wat ’n gesiene Moslem in die gemeenskap van Ruiterbosch is nie, maar dit is ook bloot ongewoon vir haar karakter.
Terwyl hierdie storielyn tans baie reaksie op sosiale media ontlok, is dít eintlik nie so negatief soos wat ’n mens sou kon verwag nie. Natuurlik is kykers geskok, maar meeste aanhangers toon empatie en kommer teenoor een van hul gunsteling TV-anties.
En al is dit op die oppervlak ’n storielyn oor verslawing, is dit eintlik selfs dieper. Dit vertel ook die storie van ’n ma, vrou en vriendin wat ’n slagoffer van verslawing geword het, deels vanweë haar eensaamheid en omstandighede… Iets wat met enigiemand kan gebeur.
Die waarheid in drama
Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa in die sepie vertolk en ook die rol van kulturele raadgewer op die stel van Suidooster handhaaf, sê dat al het hulle geweet die storie sou reaksie ontlok, is die groot fokus om stories so outentiek en eg te vertel as moontlik. En dit is waar haar rol as kulturele raadgewer inkom.
“Binne die raamwerk van storievertelling wil Suidooster dit altyd so akkuraat as moontlik kry. Ja, ons het geweet die storie gaan baie mense warm onder die kraag maak en dat dit debat en gesprek gaan aanwakker, maar ons moet nie vergeet dat Mymoena ook maar net ’n vrou en mens is wat deur haar eensaamheid en hierdie nuwe lewensfase in dié strik getrap het nie,” sê Jawaahier.
Mense wil nie ’n las wees en oor hul probleme met ander praat nie. Dít is wanneer jy maklik in ’n situasie soos Mymoena kan beland.
Jill Levenberg
“Dit gebeur met baie mense – ongeag van jou godsdiens, ras of geslag, en ons wou dít uitbeeld. Maar omdat dobbel in die Islam-gemeenskap en Islamitiese godsdiens so ’n groot no–no is, het ons geweet dit sou ’n groot reaksie veroorsaak.”
Die lyn tussen sensasie en storievertelling
As kulturele raadgewer op stel, werk Jawaahier saam met die skrywers en produksiespan. Dikwels reeds vanaf die storie-ontwikkelingstadium. Sy doen dan ook konsultasies met verskeie departemente, soos kuns, klere en grimering, om te verseker dat dinge so akkuraat as moontlik uitgebeeld word.
“My rol is om te verseker dat ons dit so reg as moontlik kry binne die medium van televisie. Daar is ’n baie fyn lyn tussen storievertelling en sensasie in ’n TV-produksie. Maar in die geval van Suidooster, en baie ander produksies wat uit die Afrika-bodem kom, is elke storie ’n uitbeelding van die waarheid en wys dit werklik wat gebeur, maar binne die realm van televisie,” vertel Jawaahier.
“Toe ek die eerste keer vir Mymoena en dobbel in dieselfde sin hoor, het my oë so groot soos eetborde geword, want ek het gedink, ‘Sjoe, dit gaan nog ’n storielyn wees soos dié van Farah en AB’. Dit is iets wat in die gemeenskap bestaan, maar ontstel baie mense omdat dit iets is waaroor daar slegs gefluister word. Nou bring Suidooster dit uit die skaduwees uit en met so ’n geliefde karakter.”
Haram-dinge
Jawaahier kan nie uitgepraat word oor Jill se toneelspel nie en meen dat al word daar draaiboeke en dialoog aan akteurs gegee, is dit die akteur wat die storie lewe gee.
“Jill doen moeite om die storie so outentiek as moontlik te vertel, maar is ook deeglik bewus van die Moslem-gemeenskap en wil hulle nie deur haar toneelspel beledig nie. Dit sien ’n mens duidelik in die keuses wat sy as aktrise in haar vertolking maak, soos wanneer sy haar serp afhaal voordat sy gaan dobbel,” sê Jawaahier.
Binne die raamwerk van storievertelling wil Suidooster dit altyd so akkuraat as moontlik kry. Ja, ons het geweet die storie gaan baie mense warm onder die kraag maak en dat dit debat en gesprek gaan aanwakker, maar ons moet nie vergeet dat Mymoena ook maar net ’n vrou en mens is wat deur haar eensaamheid en hierdie nuwe lewensfase in dié strik getrap het nie.
Jawaahier Petersen
“Die serp is ’n simbool van beskeidenheid in Islam en vir vroue is dit ’n baie tasbare herinnering van jou toewyding aan jou geloof. Terwyl die serp beskeidenheid van kleredrag simboliseer, is dit ook ’n manier om jou te herinner aan beskeidenheid van persona en om ’n righteous, halaal-lewe te lei. Mymoena sukkel met die skynheiligheid van dobbel terwyl sy ’n serp dra. En jy kan dit duidelik in Jill se toneelspel sien. Haar persona verander heeltemal wanneer sy haar serp verwyder, want die serp is amper soos haar beskerming en herinnering aan die verbintenis wat sy aan die geloof maak.”
Haram is die teenoorgestelde van halaal en word gebruik om iets te beskryf wat nie in Islam toegelaat word nie, verduidelik sy.
“Dit is dinge soos varkvleis eet, dobbel of alkohol drink. En dobbel self lei tot haram. So enigiets wat tot haram kan lei, is ook haram. Die uitwerking van dobbelary en waartoe dit lei, word dus as haram beskou. Dit is dan beter om dit te vermy, omdat jy deur hierdie aksies jou geloof en vertroue in iets anders as jou hoër mag plaas. ”
Dit kan met enigiemand gebeur
Al is dobbel haram, het meeste kykers empatie met Mymoena. Jawaahier meen dit is omdat dit ’n algemene probleem is waarmee baie mense kan vereenselwig.
“Ons almal ken iemand wat ’n dobbelprobleem het of wat dalk met verslawing sukkel. Kykers kry Mymoena jammer, maar hulle verstaan ook hoekom dit gebeur en die woede is daar omdat hulle nie wil hê dat sy haar lewe moet opmors nie,” vertel Jawaahier.
“Die storielyn wys ook weereens dat almal die potensiaal het om te sondig en dat enigiemand in die lokval kan val.”
Jill stem hiermee saam en meen Mymoena belig menslike natuur.
“Almal van ons het op een of ander manier al eensaamheid ervaar, maar ek dink die krag van eensaamheid word soms onderskat in terme van uitreik na dinge wat jy normaalweg nie sou doen nie,” vertel Jill.
“Wanneer mense eensaam is, bevind hulle dikwels hulself in ’n swart gat. Depressie kom, sommige mense weet nie wat om te doen nie, hulle word onaktief en lui. Ek het baie kommentaar gesien van mense wat met die storielyn aanklank vind. Vandag sukkel baie mense met eensaamheid, al het almal dit nie tot op die vlak van Moena ervaar nie. Dit kan ’n break-up wees waarin jy nie net jou maat verloor nie, maar ook vriende, miskien is dit die dood van ’n lewensmaat of dalk het jy nog nooit gevoel dat jy iewers inpas nie. Mense wil nie ’n las wees en oor hul probleme met ander praat nie. Dít is wanneer jy maklik in ’n situasie soos Mymoena kan beland.”
Mymoena word Maud
Wanneer Mymoena dobbel, gebruik sy skaam die naam Maud. Jill meen dobbelverslawing is iets wat vinnig gebeur.
Ons almal ken iemand wat ’n dobbelprobleem het of wat dalk met verslawing sukkel. Kykers kry Mymoena jammer, maar hulle verstaan ook hoekom dit gebeur… Die storielyn wys ook weereens dat almal die potensiaal het om te sondig en dat enigiemand in die lokval kan val.
Jawaahier Petersen
“As jy eers ’n paar keer gewen het, is jy ’n goner. Ek het bietjie navorsing gedoen oor wat in die brein gebeur as jy wen. Daar is iets biochemies wat gebeur wanneer jy wen en dit laat mense teruggaan. Ná ’n rukkie het jy regtig nie meer beheer nie en dan is dit nie so maklik as wat mense dink om daaruit te kom nie. Ek het baie gelees en daardie navorsing ook gebruik om vir my toneelspel voor te berei, ” vertel sy.
Op haar beurt sê Jawaahier dat sy glo verslawing baie voorkom en dat dit seker ook ’n invloed op kykers se reaksies het. Sy glo dat dinge baie anders sou gewees het as hierdie storielyn tien jaar gelede op die kassie verskyn het.
“Ek dink met Mymoena is dit nie só ’n skok nie, want ek dink die samelewing besef nou meer as ooit dat almal sondes pleeg en dat mense maar net mens is. Mense speel deesdae minder God se judge and jury op aarde,” meen sy.
“Maar ek dink dat hierdie storielyn tien jaar gelede beslis ’n groter reaksie sou ontlok het en dat mense heel moontlik sou petisie het om te verseker dat die storielyn nie uitgesaai word nie. Welgedaan aan Suidooster se span wat dapper genoeg is om hierdie stories te vertel.”
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.