Mymoena Samsodien se omgee en liefde vir die mense in haar lewe is een van die min maniere waarop Jill Levenberg en haar Suidooster-karakter ooreenstem, vertel dié aktrise. Eintlik verskil hulle soos dag en nag; dis hul waardes wat as raakpunt dien.
Mymoena herinner my soms aan die Amerikaanse realiteitster Kris Jenner. Mymoena is natuurlik ’n meer plat op die aarde, Moslem en beskeie weergawe van die uitspattige Kris, maar albei is sterk matriargale figure wie se lewens om hul kinders draai. Dié suksesvolle sakevroue duld nie sommer nonsens nie…
Anders as haar karakter, het Jill nie ’n kroos om na om te sien nie en sy is ook nie so impulsief soos Mymoena nie, meen sy.
“Mymoena tree altyd vinnig op en soms dink sy nie. Volgens my ervaring, is dit nie altyd die beste ding om te doen nie. Lewenservaring en Mymoena het my geleer dat dit net nie ’n opsie vir Jill is nie,” sê die aktrise effens skertsend.
Jill is kalmer as haar karakter en hou nie van konflik nie. Sy is ook baie meer aktief as Mymoena en kan vir ure tussen die branders of op ’n berg saam met haar hond, Gabby, verdwyn.
Tog is Jill mal oor die manier waarop Mymoena vir haar mense sorg en altyd daar is vir haar familie en vriende. En wanneer sy opgemors het, dink Moena nooit te veel van haarself om jammer te sê nie. Nes haar karakter, is daar niks wat Jill nie vir haar familie en vriende sal doen nie. Beide van hierdie sterk vroue se nederigheid, waardigheid en grasie is eienskappe wat van hulle steunpilare in hul gemeenskappe en gesinne maak.
Omgeehart
Dit is ook met hierdie omgeehart wat Jill die verandering in haar ma Carol se gesondheid oor die afgelope drie jaar aangepak het. Sy meen dit is nie altyd maklik om te sien hoe jou ouers verouder en verander nie, maar tog koester Jill ook hierdie tydperk in hul lewens.
“Sy sukkel met haar beweeglikheid, erge suikersiekte en daar is ’n drasties verandering in haar geheue, wat al meer verswak. Dit is baie moeilik, maar haar persoonlikheid is steeds daar en ek geniet elke oomblik wat ek saam met my ma kry,” sê Jill.
“Natuurlik gaan ek ook soms deur dips, maar dit is juis hoekom ek so mal is oor die natuur. Dit is in die natuur waar ek my stilte en kalmte kry.”
Wanneer die lewe moeilik raak of selfs ná ’n lang dag op stel, is die branders of die berge die plek waar sy gaan om af te skakel, haar karakter af te skud en om te ontspan. Jill is mal oor bergklim en swem ook elke tweede of derde dag in die see.
“Onlangs het ek selfs snorkling probeer en het verlede week op ’n Woensdagmiddag gaan bergklim. Ek is mal daaroor om nuwe dinge te probeer en hierdie jaar wil ek gereeld iets anders doen wat dit soos ’n vakansie laat voel. Hoekom moet ’n mens tot Desember wag om te lewe? Wanneer ek hierdie tipe dinge doen, voel dit vir my asof ek sommer beter met die lewe en sy uitdagings kan cope. Dit is beter as om met negatiewe emosies te sit,” sê Jill.
Dís haar era
As ’n ware Taylor Swift-aanhanger voel dit vir my asof almal deesdae ’n era nodig het om die huidige hoofstuk in hul lewe te kan beskryf. Toe ek vir Jill vra in watter era sy haarself tans bevind, het sy vinnig geantwoord: “Ek is in my rejuvenation-, re–imagining- en reconstruction-era”.
Tot en met my 40’s is daar baie wat met my gebeur het, maar op 46 kies ek doelbewus om weer vry en sonder mure te lewe. Ek wil mense inlaat en ek wil sonder daardie bagasie lewe.”
Jill Levenberg
Sy beskryf die lewe soos wat een van haar gunsteling-skrywers Marilyn French dit gestel het: “Life is dilation, constriction and dilation again”.
“Wanneer ’n mens jonk is en jy nog nie teleurstelling, verwerping of enige ander negatiewe lewenservaring ervaar het nie, is ’n mens oop en sien jy kans vir enigiets. Dan gebeur daar later dinge in die lewe wat jou soms seer of bang maak en dan sny jy jouself af. Jy wil net in jou eie bubble wees en jy is te bang om jouself weer kwesbaar te maak, of jy verloor net vertroue in mense,” sê sy.
“Soms bly mense vir altyd in hierdie ruimte en maak hulle nooit regtig weer oop nie. Maar vir ander kan daar ook ’n fase van delayed dilation wees. Dit is die fase wanneer jy jouself weer vind en jy doen die werk in terapie en vind maniere om jouself weer oop te maak. Tot en met my 40’s is daar baie wat met my gebeur het, maar op 46 kies ek doelbewus om weer vry en sonder mure te lewe. Ek wil mense inlaat en ek wil sonder daardie bagasie lewe.”
Maak tyd vir dit wat jou beker laat oorloop
Baie dinge oor die afgelope paar jaar, insluitend die dood van haar pa en geliefde hond, haar ma se gesondheidsuitdagings en ander dinge waaroor Jill eerder nie wil gesels nie, het Jill diep geruk. Maar Jill sê terapie en die feit dat sy deesdae meer tyd probeer maak vir die dinge en mense wat vir haar vryheid gee, help om haar beker vol te hou.
En lyk my Mymoena het ’n bladsy uit Jill se boek gevat, want kykers is onlangs aangenaam verras toe Mymoena skielik met die nuwe gesig in Ruiterbosch, Sammy (Royston Stoffels) ’n konneksie begin bou. Kykers was verlede jaar net so verpletterd soos Mymoena toe haar geliefde darling AB (Cedwyn Joel) doodgeskiet is. Maar met cupid wat hierdie maand om elke hoek en draai wegkruip, is dit seker maar tyd vir Mymoena om ’n tweede kans op liefde te vat. En hopelik sal cupid by haar ook ‘n draai kom maak, skerts Jill.
Lekkerte van Royston op stel
“Dit was regtig so lekker vir my om weer teenoor Royston te kan speel. Ek het hom vir die eerste keer ontmoet toe ek 12 jaar oud was. Hy en Sharleen Surtie-Richards was beoordelaars by een van my eisteddfods. Jare later het ek sy vrou in ’n ander produksie gespeel. Ons het nog altyd ’n baie goeie verhouding gehad, met baie respek vir mekaar,” vertel sy.
“Dae voordat my pa gesterf het, vyf jaar gelede, het ek vir hom saam met my stel toe gebring en Royston was toe ook besig om tonele vir ’n ander storielyn (ook vir Suidooster) te skiet. Ons het almal lekker gelag en hy en my pa het gesels oor hul grootwordjare in Maitland en die feit dat albei in bands gespeel het. Dit was ’n lekker dag. Dae later, toe my pa sterf, was hy een van die eerste oproepe wat ek ontvang het. Hy herinner my baie aan my pa se persoonlikheid. Hulle is albei gentlemen met ’n sagte geaardheid. Hierdie storielyn en my tyd saam met Royston op stel het my regtig aan my ouers laat dink.”
‘Kompleks, maar die liefde is ook mooi’
Jill erken sy het dalk nie persoonlike ervaring as ’n weduwee nie, maar sy het haar ma as ’n ouer weduwee baie probeer channel vir hierdie storielyn.
“Dit kan baie moeilik wees vir ouer vrou om ná jare saam met die liefde van hul liewe, weer ’n verhouding te probeer. Jy moet jouself kwesbaar maak, maar daar gaan ook baie opinies wees. Sommige mense gaan dink dit is te vinnig ná jou geliefde se afsterwe, ander gaan jou aanmoedig om nie te lank te wag nie en soms gaan jy self sommer net skuldig voel. Dit is kompleks, maar die liefde is ook mooi en soms soek ’n mens net daardie companionship.”
Jill wou niks verklap oor wat die toekoms vir Mymoena en Sammy dalk inhou nie, maar sy hoop dat haar karakter, nes sy, troos en vryheid hierdie jaar sal vind, en dat sy altyd die geleentheid sal aangryp om iets nuuts te probeer.
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.