Menu terloops
In Onderhoude [14 Feb 2024]

Hier’s die skurk weer! Dirk Stoltz vertel oor ‘Diepe Waters’-rol


Suid-Afrikaners ken hom as een van die grootste TV-skurke, en ja, Dirk Stoltz se vorige rolle is die een na die ander boosdoener wat onmin saai. Só ook in sy nuwe rol in die Afrikaanse telenovela, ‘Diepe Waters’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Hier’s die skurk weer! Dirk Stoltz vertel oor ‘Diepe Waters’-rol

Dit was vir kykers ’n groot slag toe 7de Laan in Desember verlede jaar vir die laaste keer uitgesaai is, maar gelukkig was dit nie die laaste sien van dié sepie se onderduimse en manipulerende DeWet Basson, wat deur Dirk Stoltz vertolk is, nie. Dirk het onlangs weer sy verskyning op die kassie gemaak – hierdie keer as Zelda (Sandi Schultz) se hired muscle, Kitshoff, in die kykNET-telenovela Diepe Waters.

Dirk is ook bekend vir sy rol as Heim Ludik in die Netflix-treffer Ludik en as Phillip Steyn in die dramareeks Swartwater.    

Al vertolk hy sy rolle met absolute oortuiging, vertel hy dat dit nooit sy plan was om homself in die velle van skurke (of polisiebeamptes) gemaklik te maak nie. 

“Ek is bly dat my werk so outentiek op die skerm voorkom, want ek het nooit beplan om hierdie rolle te speel nie. Maar elke keer bevind ek myself in hierdie rol, so dit moet iets van my werk sê.”

Dié rolle volg hom rond, meen Dirk. 

Dirk Stoltz, Diepe Waters
Ai, wat voer Zelda (Sandi Schultz) nou weer in die mou met haar nuwe hired muscle, Kitshoff (Dirk Stoltz)? Foto: Verskaf

Hy klim in skurke se koppe

“Ek geniet dit vreeslik baie om hierdie rolle te vertolk. My werk begin eintlik by die teks. Akteurs kan baie doen met goeie teks, maar ongeag van die gehalte van die teks, moet jy absoluut glo wat op daardie papier staan. Of ek nou die goeie ou of die skurk speel, ek moet glo dat wat ek doen reg is. As ek iemand moet vermoor, dan moet ek as akteur glo dat dit die regte ding is, sodat dit so eg as moontlik voorkom. Niks moet ’n verrassing wees nie. As jy as akteur nie glo in dit wat vir jou karakter geskryf is nie, dan gaan dit op kamera wys.”

’n Mens sou dink dat hy eerder die rol van ’n polisiebeampte of do-gooder sou wou vertolk as die agterbakse skurk, maar Dirk begin saggies lag as hy erken dat dit eintlik makliker is om die skurk te vertolk. 

“Jy kan makliker in die kop van ’n skurk klim. Dink net aan alles wat jy nie is nie,” grap hy. 

“Maar met ’n polisieman moet jy kan weet hoe ’n polisieman sou optree in spesifieke situasies. Daar is ook tegniese goed wat moet reg wees.”

Dirk, wat mal is oor die skerp karakter Raymond ‘’Red” Reddington in die misdaadtreffer The Blacklist, meen dat as hy vir homself ’n rol kon skryf sou hy heel moontlik die rol van ’n slim professor sou wou vertolk.

“Mense sou my nie in hierdie rol verwag nie, maar ek dink dit sal baie lekker wees om daardie arrogansie te kan uitbeeld. Dit sal baie interessant wees om in daardie skoene te klim.” 

Spring tussen emosies

As ’n akteur moet jy baie vinnig kan aanpas, vertel Dirk. Jy lewe altyd tussen projekte en soms plaas dit jou as persoon in vreemde situasies met verskillende emosies. Dirk, wat vir die afgelope paar jaar weekliks tussen Johannesburg en Kaapstad gereis het vir sy werk op 7de Laan, sê sy tyd op Diepe Waters was ’n unieke ervaring, veral omdat hy tydens verfilming steeds op 7de Laan gewerk het. 

“’n Mens skiet mos maar dikwels vêr vooruit en ek onthou toe ek en Deirdre (Wolhuter) op Diepe Waters se stel was, was ons steeds besig met die verfilming van 7de Laan se laaste episodes. (Lees ons onderhoud met Deirdre oor haar nuwe Diepe Waters-rol hier. ) Ek onthou een spesifieke dag op stel toe ek hierdie wonderlike ervaring met nuwe mense op ’n nuwe stel gehad het, waar mense nog regtig opgewonde is omdat die show nog nuut is en hulle tans nog net op hul tweede seisoen is,” vertel hy. 

“Dít terwyl ek ná die verfilming van my tonele op Diepe Waters onmiddellik 7de Laan toe moes jaag vir die verfilming van die toneel waarin Mariaan (Deirdre se karakter op 7de Laan) en DeWet uiteindelik mekaar doodskiet. Dit was so ’n vreemde dag met baie verskillende emosies. Aan die een kant moet jy nuwe werk kry, want jy weet hierdie rol kom tot ’n einde, maar dit is ook hierdie absolute hartseer gevoel van ’n familie wat jy ná jare moet groet. Dít is egter tog die lewe van ’n akteur.”

Gypsie-lewe

Ten spyte van die onvoorspelbaarheid in die vermaaklikheidsbedryf, is daar geen ander loopbaan vir Dirk nie. 

“Ja, dit kan soms baie moeilik wees as akteur, want dit is nie regtig ’n loopbaan waarvoor jy aansoek kan doen nie. Skrywers skryf gewoonlik rolle met ’n sekere tipe persoon in gedagte en as daar nie vir jou werk is nie, kan dit nogal moeilik wees. Dit is nie net van, “Ek gaan nou vir werk in die Kaap aansoek doen nie”. As daar nie rolle by die Kaapse produksies beskikbaar is nie, dan moet ’n mens maar iewers anders gaan werk,” sê hy. 

Tog sien Dirk uit, ná jare se heen en weer, om moontlik voltyds in die Kaap te kan werk. 7de Laan het gebeur net voordat hy en sy familie Kaap toe sou verhuis en die rol was so ongelooflik hy kon net nie nee sê nie. 

“Ek het my vrou vir jare probeer oortuig dat ons Kaap toe met trek en soos dit maar uitwerk in die lewe, het sy uiteindelik ingestem en toe kry ek die rol in 7de Laan. Ja, dit was soms maar moeilik om weg van die huis af te wees, maar daar is baie projekte in die Kaap en dit is vir my lekker om weer vir ’n slag voltyds by my gesin te wees.”

Vir nou geniet Dirk die see en prag van die Kaap en hy is opgewonde oor ’n nuwe projek waaroor hy nog tjoepstil moet wees. 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies